Foto’s: Koning Charles vier verjaarsdag met voedselprojek

Koning Charles III Maandag tydens ‘n vroeë onthaal vir sy 75ste verjaarsdag. (Foto: Twitter/@TheRoyalFamily)

Koning Charles III beplan om vanjaar sy verjaarsdag te gebruik om die kollig op die Verenigde Koninkryk (VK) se voedseltekorte en -vermorsing te plaas met die bekendstelling van sy nuwe voedselhulpskema, die Coronation Food Project.

Dié projek word Dinsdag, op die monarg se 75ste verjaarsdag, tydens ʼn besoek aan ʼn oorskotvoedselverspreidingsentrum van stapel gestuur en het ten doel om soortgelyke verspreidingsentrums op te rig, om die gaping tussen die land se oortollige voedsel en toenemende hongersnood te verbind.

Daar lê klaarblyklik ook ʼn dieper betekenis agter die monarg se gekose verjaarsdagsinisiatief.

Toe die destydse prins Charles op 14 November 1948 gebore is, was daar steeds voedselrantsoenering in Brittanje weens die impak van die Tweede Wêreldoorlog.

ʼn Geskenkkospakkie is aan elke gesin wat ʼn kind op dieselfde dag gehad het, verskaf om die geboorte van die destydse prinses Elizabeth se eerste kind te vier. Dié pakkies het onder meer seep, botter, poeiereiers, heuning, marmelade, spek en beesvleis ingesluit.

“Voedselbehoeftes is nes voedselvermorsing ʼn werklike en dringende probleem – en as daar ʼn manier gevind kan word om die gaping tussen hulle te oorbrug, dan sal dit twee probleme gelyk aanspreek. Om my 75ste verjaardag in hierdie kroningsjaar te vier, is dit my grootste hoop dat die Coronation Food Project praktiese maniere sal vind om juis dít te doen,” het die koning in ʼn amptelike verklaring oor sy jongste projek gesê.

ʼn Animasie wat die Coronation Food Project bevorder, sal Dinsdagaand op die digitale advertensiebord by Piccadilly Circus in Londen vertoon word, berig die BBC.

Die koning sal Dinsdag verder gasheer by die Buckingham-paleis speel vir 400 verpleegsters en vroedvroue as deel van vanjaar se 75ste bestaansjaarvieringe vir die staatsbeheerde Nasionale Gesondheidsdiens (NHS).

Buckingham-paleis het aangekondig dat ʼn geweersaluut Dinsdag in Londen en regoor die VK afgevuur sal word om die Britse staatshoof se verjaarsdag te vier, waarna hy ʼn private ete saam met sy naaste vriende en familie by sy Londense woning, Clarence House, sal hou.

Maroela Media het vroeër berig dat die koning se jongste seun, prins Harry, nie vanjaar by hom sal aansluit wanneer hy die kersies vir sy verjaardag uitblaas nie.

Die Britse Sunday Times het onlangs berig dat Harry en sy vrou Meghan, nog bekend as die hertog en hertogin van Sussex, ʼn uitnodiging na dié feesviering van die hand gewys het.

Die destydse prins Charles, prins William, Catherine, Meghan en prins Harry tydens ‘n Kersdiens op Sandringham-landgoed in 2018. (Foto: AP Photo)

Hulle woon tans in Kalifornië in die VSA nadat hulle in 2019 finaal van hul koninklike pligte afstand gedoen het.

Ashley Hansen, Meghan en Harry se woordvoerder, het egter aan die New York Post gesê hulle het geen uitnodiging van die monargie ontvang om by die koning se 75ste verjaardagvieringe aan te sluit nie.

Dié nuus kom te midde van die voortslepende vete tussen prins Harry en lede van die koninklike familie ná die vrystelling van sy opspraakwekkende memoires, Spare, waarin hy verskeie uitlatings oor sy pa, broer en ander lede van die koninklike familie maak.

Die BBC voer egter aan dat “goed geplaasde bronne” daarop dui dat die Amerikaanse hertog wel ʼn verjaardagtelefoonoproep na sy pa sal maak.

Dít het jy moontlik nie van koning Charles III geweet nie:

Prins Charles as student by Cambridge Universiteit. (Foto: AFP)

  • Die destydse prins van Wallis was die eerste koninklike baba om in die 20ste eeu in Buckingham-paleis gebore te word. Sy ma, wyle koningin Elizabeth II, was nie tydens haar geboorte ʼn nabye troonopvolger nie en het dus nie in Buckinghampaleis grootgeword nie.
  • Die koning is baie musikaal en kan die kitaar, klavier en tjello speel.
  • Hy het ʼn spesiale middagweervoorspelling aangebied tydens ʼn besoek aan BBC Skotland se hoofkwartier in Pacific Quay, Glasgow.
  • ʼn Bedreigde Ecuadoriaanse boompadda is na die monarg vernoem.
  • As voormalige prins van Wallis – ʼn titel wat deur Britse monarge aan hul oudste lewende seun toegeken word – het hy Wallies leer praat.

Bronne: AFP, BBC, The New York Post, Daily Mail, Sunday Times, The Guardian.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Truman Burbank ·

Ek het nie geweet royalty bo 70 verjaar nie. Ek dog hul vervel

Vriendelike Frikkie ·

Ek wonder hoeveel vra hy om ‘n drieslaapkamer huis te spook?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.