(Foto’s) Kroningsparade: Gaste arriveer stuk-stuk by Westminster-abdy

Dame Emma Thompson. (Foto: Jane Barlow/AFP)

Die sowat 2 000 uitgesoekte gaste wat vandag die geskiedkundige kroning van koning Charles III in persoon gaan aanskou, het vroeg Saterdagoggend stuk-stuk by Londen se Westminster-abdy begin arriveer.

Die seremonie word deur lede van verskeie koninklike families, buitelandse hooggeplaastes, politici en selfs lede van die Britse publiek bygewoon.

Bekendes soos Lionel Richie, sir Andrew Lloyd Webber en die aktrise dame Emma Thompson het ook in “gewone kantoordrag”, soos in die uitnodiging gestipuleer is, gearriveer.

Die Amerikaanse sanger, Lionel Richie. (Foto: Gareth Cattermole/POOL/AFP)

Twee wêreldleiers word Saterdag ook deur hul vroue, naamlik die Amerikaanse presidentsvrou en Olena Zelenska, vrou van die Oekraïense president, Volodymyr Zelenski, verteenwoordig.

Hulle was ook onder die gaste wat Vrydagaand na ʼn kroningsonthaal by Buckingham-paleis genooi is.

Die Amerikaanse presidentsvrou, Jill Biden, Catherine, die prinses van Wallis en Olena Zelenska, die vrou van die Oekraïense president, Volodymyr Zelenski. (Foto: Twitter/@The Prince and Princess of Wales)

Lede van die Britse koninklike familie, onder wie die prins en prinses van Wallis, die hertog en hertogin van Edinburgh, en prins Harry, die hertog van Sussex, sal van die laaste gaste wees om by die abdy aan te sluit.

Twee bekende koninklike gesigte sal egter nie vandag teenwoordig wees nie, naamlik Meghan Markle, die hertogin van Sussex, en Sarah Ferguson, die hertogin van York en eksvrou van prins Andrew, die hertog van York.

“Dit is ’n staatsgeleentheid, en ek dink nie jy kan dit albei kante toe hê en verwag om genooi te word nie,” het Ferguson vandeesweek aan Good Morning Britain gesê.

Sy het die nuwe koning gelukgewens en bygevoeg dat sy die geleentheid vanuit die gemak van haar sitkamer sal volg.

Maroela Media het ook vroeër berig dat die hertogin van Sussex te midde van openbare druk onder lede van die koninklike familie saam met prins Archie en prinses Lilibet in Kalifornië agterbly. Koninklike kenners het ook daarop gewys dat dit die klein prins se vierde verjaarsdag op 6 Mei is en dat sy moontlik tuis bly om sy verjaarsdag te vier.

ʼn Paar Suid-Afrikaanse gesigte, onder wie Charlene, prinses van Monaco, en die operasangeres Pretty Yende, is ook by Saterdag se spoggeleentheid te sien.

Koning Charles se seremonie is heelwat afgeskaal in vergelyking met koningin Elizabeth sʼn in 1953, waar nagenoeg 8 000 mense in die abdy saamgedrom het om die seremonie te aanskou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Ja Dame, die honger mense by die voedselbanke stuur groete.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.