Foto’s: Vulkaan stoot lawa uit in Ysland

Die vulkaniese uitbarsting sowat 40 km van Reykjavik , Ysland. (Foto: Die Yslandse meteorologiese sentrum/Twitter)

’n Vulkaan het Vrydagaand naby Reykjavik, Ysland se hoofstad, uitgebars nadat dit vir meer as 900 jaar sluimerend was.

Die uitbarsting het omstreeks 20:45 sowat 40 km van Reykjavik plaasgevind nadat honderde klein aardbewings die gebied geskud het.

Die vulkaniese uitbarsting was egter klein en het geen gevaar vir mense ingehou nie.

Rooi lawa borrel sedertdien uit ’n spleet in ʼn vallei in Geldingadalur naby die berg Fagradalsfjall op die Reykjanes-skiereiland in die suidweste van Ysland.

Beamptes van die Yslandse kuswag staan en kyk hoe lawa uit die spleet borrel. (Foto: Icelandic Coast Guard / AFP)

Hoewel Ysland se Keflavik- internasionale lughawe en die klein vissershawe van Grindavik net ʼn paar kilometer van die vulkaniese uitbarsting geleë is, is die gebied onbewoon en dit lyk asof die uitbarsting geen gevaar inhou nie.

“Die uitbarsting word as klein beskou,” het die Yslandse meteorologiese sentrum, wat seismiese aktiwiteite monitor, Saterdag in ʼn verklaring gesê.

Volgens dié sentrum is die “uitbarstingskeur” ongeveer 500 meter tot 1 km lank.

Die vulkaniese uitbarsting sowat 40 km van Reykjavik , Ysland. (Foto: Icelandic Coast Guard / AFP) /

“Daar is min uitbarstingsaktiwiteite in die gebied.”

Die uitbarsting het in die Krysuvik- vulkaniese stelsel plaasgevind. Dié stelsel was vir die afgelope 900 jaar sluimerend met die laaste uitbarsting op die Reykjanes-skiereiland wat byna 800 jaar gelede plaasgevind het. Dié uitbarsting het ongeveer 30 jaar, van 1210 tot 1240, geduur.

Die streek word egter die afgelope paar weke gemonitor nadat ʼn aardbewing van 5,7 op 24 Februarie naby berg Keilir aan die buitewyke van Reykjavik geregistreer is.

Die Fagradalsfjall-vulkaan het Vrydagaand die lug in die omgewing rooi laat voorkom. (Foto: Halldor KOLBEINS / AFP)

ʼn Ongewone aantal kleiner skuddings, meer as 50 000, is sedertdien geregistreer, die grootste getal kleiner skuddings sedert digitale opnames in 1991 begin het.

Ysland het 32 ​​vulkaniese stelsels wat tans as aktief beskou word – die meeste vulkaniese stelsels in Europa. Die land beleef gemiddeld elke vyf jaar ʼn vulkaniese uitbarsting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.