Groot soektog na vermiste Titanic-toeriste-duikboot

OceanGate Expeditions se Titan-tuig

Amerikaanse en Kanadese kuswagspanne is in ʼn resies teen tyd gewikkel om ’n onderwatervaartuig met vyf mense aan boord op te spoor nadat dit tydens ʼn duik na die Titanic se wrak in die Noord-Atlantiese Oseaan vermis geraak het.

Die tuig van 6,5 meter, wat deur OceanGate Expeditions bedryf word, het vroeg Sondag die duik na die wrak begin en minder as twee uur later is kontak met die tuig verloor.

Die Britse miljardêr Hamish Harding is een van die passasiers aan boord. Hy het vooraf op sosiale media plasings gemaak oor sy opgewondenheid oor die ekspedisie.

“Dit is ’n uitdaging om ’n soektog in daardie afgeleë gebied te doen, maar ons ontplooi alle beskikbare hulpbronne om seker te maak dat ons die tuig kan opspoor en die mense aan boord kan red,” het John Mauger van die Amerikaanse kuswag aan verslaggewers gesê.

Tyd is ’n kritieke faktor, met ʼn geskatte 70 uur se oorblywende suurstof op die vaartuig.

OceanGate Expeditions het op sy webwerf gesê ’n duikekspedisie na die terrein van die Titanic-wrak is “tans aan die gang”.

Die maatskappy gebruik ’n duikboot met die naam Titan vir sy duike tot ’n maksimum diepte van 4 000 meter.

OceanGate Expeditions het in ʼn verklaring gesê die fokus is nou op die bemanningslede in die duikboot en hul gesinne.

Hamish Harding (Foto: Instagram)

Harding, ’n 58-jarige vlieënier, ruimtetoeris en voorsitter van die Dubai-gesetelde Action Aviation, het Sondag op sy Instagram-rekening gesê dat hy “trots is om uiteindelik aan te kondig” dat hy by die OceanGate-ekspedisie aangesluit het.

Action Aviation het Sondag ʼn inskrywing op Twitter geplaas dat “die duikboot suksesvol ontplooi is en Hamish is tans besig om te duik” tesame met foto’s van Harding en ander bemanningslede.

Die Titanic het in 1912 tydens sy nooiensvaart van Engeland na New York ’n ysberg getref en gesink met 2 224 passasiers en bemanning aan boord. Meer as 1 500 mense is in die tragedie dood.

Die wrak is in 1985 gevind en lê in twee groot stukke sowat 400 myl van die kus van Newfoundland, Kanada, sowat 13 000 voet onder die water.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Estelle ·

Ek kan my nie indink waardeur die mense op die boot se geliefdes gaan nie.

Prinses Bella ·

Te veel geld en te min verstand. Dis wat gebeur as mense onverrekende risikos loop. Vir wat? Om ‘n gesinkte stuk metaal te sien…

Philip ·

En jy besluit sommer hulle het onverrekende risikos geneem? As jy in jou voertuig klim en ‘n straatblok ver ry neem jy ‘n risiko, as jy oor ‘n straat stap neem jy ‘n risiko, om in SA net in jou huis te sit neem jy al ‘n groot risiko.
Om mense wat meer uit die lewe wil haal summier af te maak as “met min verstand” is ongevraagd en dui dalk op “te min omgee en te min verstand”

Sandra ·

Ek hoop hulle word, vir hulle gesinnes se onthalwe, veilig gevind. Ek kan nie help om aan die ironie te dink dat die meeste mense wat op die Titanic omgekom het, arm was. Nou gaan kyk ‘n miljarder na ‘n geroeste skip, wat ek nie eens dink veel het om te sien nie. Ek kan my net indink hoeveel dit moes gekos het. Maar ons almal het seker ons drome om iets ongewoons aan te pak, nie almal het die geld nie. So dit bly ‘n droom.

Brakkies ·

Dit kos nogal 250 000 dollars per persoon vir n 8dae reis na titanic….
Sowat 2,4 miljoen rand…..

Sandra ·

Ek het gaan kyk op hulle webtuiste. die Oceangate expeditions, dit kos $250 000 dollar wat 4 557 487,50 Suid Afrikaans Rand is. Wow!!!

etienne ·

Ek persoonlik dink daai kapsule het beskadig geraak, en net tot die bodem gesink. Die druk van die water op daai diepte is oor die 5500 pond per vierkante duim. Dit is genoeg om enige ding pap te druk. ons bid vir n goeie uitkoms hier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.