Gyselaars in Nederland bevry

‘n Verdagte word in hegtenis geneem nadat verskeie mense in ‘n kuierplek in Ede, Nederland, gyselaar ghou is. (Foto: Remko de Waal / ANP / AFP)

ʼn Gyselaarsdrama wat Saterdag ure lank in die Nederlandse dorpie Ede geheers het, het dieselfde dag nog sonder bloedvergieting tot ʼn einde gekom.

Alle gyselaars is teen middagete bevry en die polisie het die verdagte in hegtenis geneem.

“Gyselaars is bevry, een persoon is in hegtenis geneem. Ons kan nie meer inligting in hierdie stadium deel nie,” het die polisie kort ná 13:00 op X gesê.

Owerhede het dit reeds vroeër die dag duidelik gemaak geen terroriste-motiewe word vermoed nie.  Plaaslike koerante berig dat ʼn “verwarde man” in die vroeë oggendure by die kuierplek ingebars, dreigemente gemaak en vier mense as gyselaars gehou het.

ʼn Groot polisieteenwoordigheid was ʼn paar uur later voor die kuierplek sigbaar en verskeie huise in die omgewing is ontruim.

Drie mense is aanvanklik uit die gebou vrygelaat, met beeldmateriaal wat wys hoe hulle met hul hande in die lug die gebou verlaat. Die vierde gyselaar is kort daarna ook bevry en die verdagte in hegtenis geneem. Beeldmateriaal het gewys hoe ʼn man op die grond kniel, met sy hande agter sy rug, terwyl polisiebeamptes hom boei.

“ʼn Aaklige situasie vir al daai mense. My gedagtes is by hulle en hul geliefdes. Ek hoop dat die saak nou vinnig en veilig uitgeklaar kan word,” het Rene Verhulst, burgemeester van Ede, gesê.

Verlede jaar het ʼn 27-jarige man, gewapen met twee gewere, verskeie mense vyf uur lank in ʼn Apple-winkel in Amsterdam as gyselaars gehou. Die beproewing het geëindig toe die verdagte agter die laaste gyselaar, wat probeer ontsnap het, aangehardloop het en hy deur ʼn polisievoertuig raakgery is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.