Gyselaarsdrama: Verdagte het aanval twee jaar lank beplan

Malik Faisal Akram (Foto: Twitter)

Die man wat Saterdag vier mense tien uur lank by ʼn sinagoge in Texas, VSA, as gyselaars aangehou het voordat hy deur polisie doodgeskiet is, het glo twee jaar lank gebid vir dié terreuraanval.

Volgens die Londense Jewish Chronicle is daar ʼn opname van die 44-jarige Malik Faisal Akram se laaste telefoonoproep met sy broer, waartydens hy sy beplanning uiteengesit het.

Luidens die opname sê Akram vir sy broer, Gulbar, dat hy na Amerika gegaan het “om te sterf” en dat hy sal terugkeer huis toe in ʼn “lyksak”. Hy sê ook in die opname dat hy “as ʼn martelaar onthou wil word”.

Akram het ook aan sy broer erken dat hy twee jaar lank rakende die aanval vir Allah gebid het.

Sy broer het hom glo aangespoor om homself oor te gee.

Die BBC het gesê kenners glo die oproep is eg.

Die opname laat verdere vrae ontstaan oor die deeglikheid van ʼn onlangse ondersoek na Akram deur Britse veiligheidsdienste.

Maroela Media het vroeër berig Brittanje se binnelandse veiligheidsagentskap hou Akram sedert 2020 dop nadat hy ses maande in Pakistan deurgebring het. Die ondersoek is egter ná meer as ʼn maand gestaak weens ʼn gebrek aan bewyse teen hom. Die agentskap sal na verwagting nou die ondersoek hervat.

Hy het ook in dieselfde jaar sonder enige probleme na die VSA verhuis.

Twee mans is Donderdag onderskeidelik in Birmingham en Manchester in Engeland in hegtenis geneem in verband met hul beweerde aandeel in die gyselaarsdrama.

Dit volg ná twee tieners Sondag deur die Britse teenterreurpolisie in Manchester in verband met die voorval in hegtenis geneem is. Hulle is egter nie aangekla nie en die volgende dag weer vrygelaat.

Volgens Akram se familie het hy geestesgesondheidsprobleme en ʼn misdaadrekord gehad.

Hy het saam met sy vrou en ses kinders in Blackburn, voorheen ʼn meuldorp, gewoon, maar het glo uitgetrek voordat hy na die VSA gereis het.

Sy pa, Malik Akram, het aan die Daily Mail gesê sy seun het verskeie kere huis toe gebel en beweer dat hy “honderde patrone” gehad het.

“Hy het homself vernietig en hy het ons ook vernietig,” is hy aangehaal.

“Lady Al-Qaeda”

In Akram se telefoonoproep met sy broer het hy gesê hy eis die vrylating van Aafia Siddiqui, ʼn Pakistanse neurowetenskaplike bekend as “Lady Al-Qaeda”, wie se aanhouding ʼn groot saak vir djihadiste is.

“Ek het vir hulle (die gyselaars) gesê: ‘Bring haar hier’,” het Akram gesê.

Siddiqui, ʼn 49-jarige Amerikaans opgeleide Pakistanse wetenskaplike, dien ʼn vonnis van 86 jaar uit vir die poging tot moord op Amerikaanse soldate in Afghanistan.

Sy is in 2010 gevonnis, wat gelei het tot betogings in Pakistan en ʼn oproep om wraak van Al Kaïda se destydse nommer twee.

Haar prokureur het ontken dat sy enige betrokkenheid by die moorde gehad het.

In Akram se ontstoke oproep met sy broer beweer hy ʼn lokval is vir Siddiqui gestel en vals beskuldigings is teen haar ingebring.

In die oproep verwys hy ook na die onthoofding van die Amerikaanse joernalis, James Foley, deur die sogenaamde Islamitiese Staat-groep in 2014, nadat die gyselaars geëis het dat Siddiqui vrygelaat word.

“Hulle het hom laat sterf en hulle het haar nie vrygelaat nie, maar raai wat, miskien sal hulle medelye hê met die dekselse Jode,” het hy gesê.

Die Times het Donderdag gesê Akram is twee keer verwys na ʼn Britse regeringsprogram genaamd Prevent, wat daarop gemik is om mense wat as kwesbaar vir radikalisering beskou word, te ontmoedig.

Dit het bronne aangehaal wat sê Akram is in 2016 en 2019 verwys oor “kommer oor sy anti-Westerse en konserwatiewe Islamitiese sienings”.

Maar dit was onduidelik of hy by die vrywillige skema betrokke was, het die dagblad gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jr ·

Het hierdie mense nie iets met hulle lewens te doen. Genade tog

Pablo ·

N krimineel met 6 kinders. Hoe laat hulle so n persoon in Engeland toe?

Swerwer ·

Siek. Hoe kan jy vir 2 jaar lank bid vir ‘n terreuraanval om uit te voer. Tot wie bid jy vir sulke dade?
Hierdie wêreld is regtig ‘n bose een. ‘n Taai toffie wat net nie wil klaar raak nie.

Wielspore ·

Gedurende die jare 70’s het ek het ‘n skoolvriend gehad wat van die buiteland af gekom het. Die pa was gelowig en het die reels van die geloof baie streng toegepas. My vriend se toekoms rakende sy persoonlike lewe word namens hom besluit en hy was gedwing om dit tot op die letter na te kom.
Ek dink in die berig hier bo gaan dit ook oor breinspoeling deur een of ander geloof of instansie, die persoon het nooit aangeleer om self te kan onderskei tussen reg en verkeerd.

Blikkies ·

Hy wil as ‘n Martelaar onthou word, Ek dink eerder hy gaan as ‘n agterstewe onthou word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.