‘Hartklop’-sein opgetel ná Nasa kontak met ruimtetuig verloor

Voyager 2 (Foto: Twitter)

Nasa het Dinsdag ’n “hartklop”-sein van Voyager 2 opgetel nadat hy miljarde kilometer van die aarde af kontak met die ruimtetuig verloor het.

BBC berig die ruimtetuig – wat die heelal sedert 1977 verken – het sy antenna verlede maand verkeerd gekantel om twee grade van die aarde af te wys nadat Nasa ’n verkeerde opdrag na dié ruimtetuig gestuur het.

Voyager 2 het as gevolg hiervan sedert 21 Julie opgehou om opdragte van Nasa te ontvang of data te stuur.

Die ruimtetuig is in 1977 gelanseer en is tans meer as 19,9 miljard km van die aarde af, waar dit teen ’n geskatte 55 346 kilometer per uur deur die interstellêre ruimte – die fisieke ruimte binne ʼn  sterrestelsel – beweeg.

Nasa het Dinsdag gesê die hartklop-sein – wat weens die ruimtetuig se ligging ongeveer 18 uur geneem het om die aarde te bereik  – is ʼn goeie teken dat die Voyager nog in ’n goeie en werkende toestand is.

Die ruimte-agentskap se skottel in die Australiese stad Canberra probeer die afgelope ruk om enige verdwaalde sein van Voyager 2 op te tel. Die antenna bombardeer intussen Voyager 2 se gebied met die korrekte bevel in die hoop om weer kontak met die ruimtetuig te maak.

Indien dit nie werk nie, sal Nasa tot Oktober moet wag om weer met sy ruimtetuig kontak te maak.

Voyager 2 is geprogrammeer om sy oriëntasie verskeie kere elke jaar terug te stel sodat sy antenna na die aarde wys. Die volgende herstelling vind op 15 Oktober plaas. Nasa sal na verwagting dan kommunikasie met die ruimtetuig kan hervat.

Voyager 2 en sy tweeling Voyager 1 is die enigste ruimtetuie om nog ooit buite die heliosfeer – die beskermende borrel van deeltjies en magnetiese velde wat deur die son gegenereer word – te funksioneer. Dié twee ruimtetuie het onderskeidelik die interstellêre ruimte in 2018 en 2012 bereik met die doel om die buitenste sonnestelsel te bestudeer.

Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nonnie ·

Wonder ‘wie’ het die verkeerde sein gestuur aan Voyager 2……?

Lizl ·

19.9miljard km….. Ek kry nie eers altyd n sein reg by die wifi nie….. ????????

MARELIZE ·

1977 … Ek was 6 jaar oud en in Sub A. Min het ons toe geweet hoe tegnoglogie ons lewens sou verander

Maar hoe kan 2023 tegnologie met sulke absoluut verouderde tegnologie kommunikeer as ek my toeps elke nou en dan moet opdateer, my rekenaar se Windows en Google Chrome kort-kort vir my vertel: Ons gaan nie meer hierdie of daardie program diens nie, buiten as jy myself opgradeer.

Dan vra ek hoe? Hoe kan 2023 met 1977 gesels? Want 1977 kon nie weet dat hy elke kort-kort mort opgradeer nie!

Marthinus W ·

Een van Nasa se probleme is dat Amerika nog die imperiale stelsel gebruik. Met n vorige Mars-missie het een groep wetenskaplikes in imperiale syfers gewerk, en n ander groep in die metrieke stelsel. Toe lees die ruimetuig die imperiale stelsels asof dit metriek was, en jaag volspoed op Mars af. n Paar miljoen dollar se verlies. [Ek sien al hoe meer jonges hier by ons wat in duime en myl en jaart praat en skryf, weens al die Amerikaanse programme. Selfs die desimalae skeier, die komma, is grootliks vervang met die punt.]

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.