Hier bak die son sommer die eiers gaar

(Foto: Verskaf)

Dit was helaas nie nodig om ʼn potjie water op die stoof te kook om die eiers gaar te kry nie, want op ʼn plaas net buite Koës aan die suidooste van Namibië het die kwik vandeesweek tot 46 °C gestyg en rondlê-eiers sommer gaargekook.

“Die eiers was nie eens te hard of te loperig gebak nie, net perfek.”

Só sê Albé Snyman, ʼn boervrou in die gebied, wie se werkers Woensdag en toe weer Donderdag op die gaar eiers wat tussen vetplante versteek was, afgekom het.

Die gebied gaan sedert Maandag al gebuk onder ʼn hittegolf met temperature wat wissel van 43 °C tot 46 °C. Dit is maar net die temperature wat sommige boere in die skaduwee aangeteken het.

Albé sê hulle het so ʼn paar eende wat om die huis en op die stoep loop en bedel vir ʼn kossie en hulle lê sommer eiers net waar hulle wil.

“Woensdag het die werkers ʼn holte tussen die vetplante gekry en een van die eiers vir my gebring om in die yskas te sit. Gister [Donderdag] het hulle nog vier vir my gegee. My neef wou vir hom ʼn eier gaarmaak en toe hy die eendeier uit die yskas haal en oopbreek, sien hy dit is reeds gaar.

Die plante waar die eiers versteek was. (Foto: Verskaf)

“Ons spot altyd dit is so warm hier, jy kan ʼn eier op die kar se bonnet bak en wraggies, hier kry ons dit nou reg,” skerts Snyman.

“Ons honde het toe ʼn heerlike kookeier saam met hulle ontbyt van hondekorrels geniet.”

Snyman sê hulle moet dagin en daguit in die son werk, “so ek dink ons is al net so hard gebak soos daai eiers”, lag sy.

Hoewel dit nie ongewoon is vir dié dele van Namibië om skroeiende somers te beleef nie, sê Snyman sy het in al haar jare nog nooit gesien dat ʼn eier in die sand en son gaarbak nie.

“Ons is gewoond aan hierdie uiterste temperature, maar as daar boonop nog ʼn hittegolf ook is, is dit behoorlik erg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Sal miskien die enigste manier wees om eendag ‘n eier in SA te kook – dankie Eishkom!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.