Hospitaal sê Navalny is vergiftig

Alexei Navalny (Maart 2010) (Foto: AP Photo/Alexander Zemlianichenko, File)

Dokters by die Charité-hospitaal in Berlyn het gesê kliniese bevindings dui daarop dat die Russiese opposisieleier, Alexei Navalny, vergiftig is.

Navalny (44) se toestand is ernstig, maar daar is nie tans ʼn akute gevaar op sy lewe nie, het die hospitaal Maandag in ʼn verklaring gesê. Hy is steeds in ʼn geïnduseerde koma.

Navalny het Donderdag op ʼn vlug na Moskou skielik siek geword. Hy is Saterdag vir noodbehandeling na Duitsland geneem. Sy span voer aan hy is in Siberië vergiftig. Russiese dokters het egter gesê hy ly moontlik aan ʼn metaboliese siekte.

Steffen Seibert, die Duitse bondskanselier Angela Merkel se woordvoerder, het vroeër gesê dit is waarskynlik dat die Russiese opposisieleier Alexei Navalny vergiftig is en voorkomingsmaatreëls is getref vir sy veiligheid.

Navalny word onder polisiebewaking in die hospitaal gehou, het die federale strafregtelike polisiekantoor (BKA) Sondag aan dpa-nuusagentskap gesê.

Dirk Wiese, die Duitse beampte wat aan die hoof staan van betrekkinge met Rusland, het Sondag ʼn volledige verduideliking geëis van die omstandighede rondom Navalny se siekte, omdat hy skielik en onder raaiselagtige omstandighede siek geword het. “Daar is ʼn beskuldiging van vergiftiging. Die skielike agteruitgang in Navalny se gesondheid moet deursigtig en geloofwaardig opgeklaar word met Russiese owerhede se samewerking,” het hy aan die Redaktionsnetzwerk Deutschland-groep gesê. Enige verdere verklarings op diplomatieke vlak sal moet wag tot die dokters ʼn diagnose gegee het, het Wiese bygevoeg.

Alexei Navalny se vrou Yulia (Foto: Kay Nietfeld/dpa via AP)

Veiligheidsbeamptes het aan die Moskovsky Komsomolets-koerant bevestig hulle het Navalny agtervolg in die dae voor hy skielik siek geword en Donderdag in ʼn koma verval het. Die verslag bied besonderhede oor waar Navalny en sy span gebly het, met wie hy gepraat het en selfs wat hulle tydens ʼn reis deur Siberië geëet het. Die berig voer aan, gegewe die vlak van waarneming, kon hy slegs op die vliegtuig of by die lughawe vergiftig word.

Navalny se ondersteuners glo die tee wat hy gedrink het, is vergiftig en dat die Kremlin verantwoordelik is vir sy siekte en die vertraging om hom na Duitsland oor te plaas.

Russiese dokters het egter gesê toetse het nie enige spoor van gif getoon nie. Die Kremlin het nog nie reageer op bewerings nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Grassie ·

Dit lyk vir my ‘n mens raak maklik siek in ‘n vliegtuig bokant Rusland – gaan vra maar vir David Mabuza. Miskien het die dokters vergeet om Navalny te toets vir ‘n baie algemene gif in Rusland, My Russies is maar vrot maar ek dink die gif se naam begin met “smir” en eindig met “noff.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.