Huise word bedreig deur enorme Kalifornië-veldbrand

Die Bobcat-veldbrand in in Juniper Hill, Kalifornië (18 September 2020) (Foto: AP Photo/Ringo H.W. Chiu)

ʼn Enorme veldbrand wat deur berge noordoos van Los Angeles en in die Mojave-woestyn woed bedreig steeds huise, maar beamptes sê die wind het bedaar en dit behoort brandbestryders in staat te stel om die vlamme onder beheer te bring.

Teen 427 km² is die Bobcat-brand die grootste ooit in die Los Angeles County en dit woed al meer as twee weke lank. Dit is tans nog net 15% onder beheer.

Ontruimingsbevele en waarskuwings is gereed vir duisende inwoners aan die voet van die berge en gemeenskappe in die woestyn waar semi-landelike huise en ʼn gewilde natuurreservaat reeds in die brand verwoes is. Geen beserings is aangemeld nie.

Wind wat die vlamme oor die naweek na Juniper Hills versprei het, het intussen bedaar, het Larry Smith, woordvoerder van die brandweer vir die Amerikaanse bosboudiens, gesê. “Dit is effens koeler ook, so hopelik sal dit ook die brandbestryders help.”

Beamptes het gesê dit kan dae lank duur voor spanne die omvang van die verwoesting in die gebied, sowat 80 km noordoos van Los Angeles, bepaal het.

Brandbestryders moes ook bontstaan toe die brand weer naby Mount Wilson begin woed het. Die veldbrand het ook ʼn sentrum by Devil’s Punchbowl verwoes, ʼn geologiese wonder wat jaarliks deur sowat 130 000 toeriste besoek word. ʼn Wildreservaat op die perseel is nie beskadig nie. Personeel en diere is ʼn paar dae vantevore veilig ontruim.

‘n Ontspanningsvoertuig word in die Bobcat-veldbrand verwoes in Juniper Hills, Kalifornië (18 September 2020) (Foto: AP Photo/Ringo H.W. Chiu)

Die Bobcat-brand het op 6 September begin en het die afgelope week in grootte verdubbel. Die oorsaak van die brand word ondersoek.

Nagenoeg 19 000 brandbestryders in Kalifornië bestry die meer as 24 groot veldbrande. Minstens 7 900 veldbrande het vanjaar reeds meer as 15 500 km² in die staat verwoes.

Beamptes stel intussen ook ondersoek in na die dood van ʼn brandbestryder by ʼn veldbrand in die suide van Kalifornië. Die brand het vroeër vandeesmaand ontstaan weens ʼn vuurwerk-toestel wat ʼn egpaar gebruik het om hul baba se geslag met vriende en familie te deel. Die brandbestryder is op 17 September in die San Bernardino- nasionale woud oorlede toe spanne met die El Dorado-brand, sowat 120 km oos van Los Angeles, gespook het. Daardie brand is sowat 59% onder beheer.

ʼn Veldbrand in die suidoostelike deel van Wyoming het Sondag ʼn reservoir genader wat ʼn groot bron van water is vir die staat se hoofstad, Cheyenne. Die waterstelsel is steeds veilig en beamptes kan die as en ander brandende materiaal uitfilter wat deur strome en reservoirs vloei ná veldbrande, het Clint Bassett, waterbehandelingsbestuurder vir die Cheyenne- raad van staatsdienste, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

Daar is verskeie stemme wat, in veral Amerika, opgaan oor die betrokkenheid van Antifa, maar ook soortgelyke organisasies. Daar word vermoed dat dit wraakaanvalle kan wees omdat Antifa, en soortgelyke organisasies, onlangs op verskeie fronte pakslae gekry het. Ook omdat moontlik kan bydrae daartoe dat president Donald Trump se kanse verswak om ‘n tweede termyn in die withuis te spandeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.