Israel: Talle buitelanders dood, vermis of as gyselaar geneem

Só lyk die suidelike Israeliese stad Ashdod ná ‘n Hamas-aanval Maandag. (Foto: AHMAD GHARABLI / AFP)

Tientalle buitelanders is dood, beseer of as gyselaar geneem tydens Saterdag se verrassingsaanval op Israel. Verskeie vermiste buitelanders het ʼn musiekfees naby die Gaza/Israel-grens bygewoon waar minstens 260 feesgangers Saterdag dood is.

Die slagoffers sluit in minstens vier Amerikaners, twee Oekraïners, 12 Thaise burgers, 10 Nepalese burgers, een burger van Kambodja, ʼn Kanadees en ʼn Franse burger.

ʼn Franse vrou is dood en verskeie ander word vermis.

Meyer Habib, ʼn LP wat Franse burgers oorsee verteenwoordig, het Maandag gesê “minstens agt” Franse burgers is tydens die aanval vermoor, gevange geneem of word steeds vermis.

Die gyselaars sluit in ʼn 26-jarige man van Bordeaux wat Saterdag se Supernova-musiekfees bygewoon het. Volgens Habib behoort Frankryk “Hamas regstreeks aanspreeklik te hou vir [gyselaars se] veiligheid en alle middele moet gebruik word om hul vrylating te verseker”.

Jake Marlowe (26), wat twee jaar gelede uit Brittanje na Israel verhuis het, is glo as gyselaar geneem terwyl hy as veiligheidswag by die musiekfees gewerk het.

Verskeie Duits-Israeliese burgers is ook ontvoer, het ʼn bron van die Duitse departement van buitelandse sake Sondag gesê.

Die ma van die 22-jarige Shani Louk het aan Der Spiegel gesê sy het haar dogter herken in video’s wat aanlyn versprei word van ʼn halfnaakte vrou wat met haar gesig na onder agterop ʼn bakkie – omring deur gewapende mans – in Gaza gelê het.

Louk was ook by die musiekfees.

Brasilië se departement van buitelandse sake het Sondag gesê drie Brasilies-Israeliese burgers word vermis nadat hulle die musiekfees bygewoon het. ʼn Vierde word in ʼn hospitaal behandel.

Die Ierse regering het ook bevestig dat ’n Iers-Israeliese vrou vermis word. Plaaslike media het haar intussen geïdentifiseer as die 22-jarige Kim Damti wat die musiekfees bygewoon het.

Damti het Saterdagoggend tydens haar laaste telefoonoproep saam met ʼn vriend na ʼn motor gehardloop, berig The Irish Times.

Israel draai krane toe

Israeliese owerhede het Maandag opdrag gegee dat die watertoevoer na die Gaza-strook dadelik opgeskort word.

Die bevel volg kort nadat Yoav Gallant, Israel se minister van verdediging, ʼn “volledige beleg” op die Gaza-strook beveel het. Die Gaza-strook ontvang ongeveer 10% van sy jaarlikse water vanuit Israel.

Israel se weermag het Maandag verklaar dat sy magte in “beheer is van gemeenskappe” in sy suidelike gebied naby Gaza.

“Ons is in beheer van die gemeenskappe,” het militêre woordvoerder Daniel Hagari aan joernaliste gesê. Hy het ook gewaarsku daar kan moontlik steeds “terroriste” in die gebied wees.

“Ons het mense uit 15 van die 24 gemeenskappe aan die grens na veiligheid geneem.”

Hagari sê Israeliese magte sal na verwagting die ontruiming “binne die volgende 24 uur” voltooi.

Die aanval op Israel het reeds minstens 700 lewens geëis. Die land het intussen ook sowat 3 000 reserviste opgeroep in die hoop om Hamas te stuit.

Israeliese intelligensiedienste is onkant betrap deur die aanval en kenners meen dit is omdat Israel die militante groep “hopeloos misverstaan” het.

“Dit is ʼn reusemislukking van die intelligensiestelsel en die militêre apparaat in die suide,” sê genl. (afg.) Yaakov Amidror, wat tussen 2011 en 2013 as Israel se nasionale veiligheidsraadgewer gedien het.

Benewens die operasionele mislukking van Israel se gesaghebbende intelligensiedienste om die goed georganiseerde aanval te sien kom en die weermag se onvermoë om dit te stuit, was Israel se breër benadering tot Hamas heeltemal gebrekkig, het Amidror gesê.

“Ons het ʼn groot fout gemaak, ek ook, om te glo dat ʼn terreurorganisasie sy DNS kan verander,” het hy aan joernaliste gesê.

Hamas word deur Israel, die Verenigde State en die Europese Unie as ʼn terreurgroep geklassifiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andries ·

Dit is n betreurenswaardige situasie. Israel se Pearl Harbour / 911… Kry almal baie jamr. Maar di aanvallers moet mooi verstaan, Israel weermag is soos n hond wat byt en ni los ni… Hamas en sy ondersteuners gaan n baie pynlike duur prys betaal

Republikein in die Wes Kaap ·

Hamas se einde is in sig. Iran s’n ook. Dit gaan bloedig wees.

Johann ·

En die terroris ANC verlustig hulle in hulle kamerade se moord en verwoesting. SIEK!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.