James Bond-veiling haal miljoene vir liefdadigheid

(Foto: James Bond 007/Facebook)

ʼn James Bond-veiling in Londen met Aston Martin-motors, manspakke en ʼn horlosie van die fiktiewe superspioen het £6,9 miljoen (R138,3 miljoen) vir liefdadigheid ingesamel – dit is meer as alle vorige 007-verkope gesamentlik deur die afslaers.

Die tweeledige veiling deur Christie’s en EON Productions om die 60 jaar te vier sedert die première van die eerste fliek Dr. No, het Woensdag tot ʼn einde gekom – die amptelike James Bond-dag.

Die veiling het al 25 flieks in die saga ingesluit met plakkate en aandenkings asook die voertuie, horlosies en kostuums.

ʼn Regstreekse veiling het verlede maand £6,1 miljoen gehaal met ʼn replika van ʼn Aston Martin DB5 wat vir toertjies in die 2021-fliek No Time To Die gebruik is, wat vir £2,92 miljoen (sowat R58,9 miljoen) verkoop is.

Daniel Craig by die première van ‘No time to die’. (Foto: Tolga Akmen / AFP)

Die aanlyn veiling, wat Woensdag tot ʼn einde gekom het, het ʼn verdere £771 000 bygedra met topverkopers soos ʼn getekende draaiboek van 2006 se Casino Royale vir £69 300 (byna R1,4 miljoen) en ʼn manspak wat Daniel Craig in 2012 se Skyfall gedra het vir £44 100 (sowat R885 000).

ʼn Spyskaart wat Bond in 1965 se Thunderball gebruik het om kaviaar mee te bestel ná hy ʼn kaartspel teen die superboef Largo by ʼn Bahamas-casino gewen het, is vir £60 480 (R1,2 miljoen) verkoop.

Opbrengs uit die verkope sal aan verskeie liefdadigheidsorganisasies geskenk word, insluitend Bafta, die Britse Rooi Kruis, Dokters Sonder Grense, National Youth Theatre, Refugee Action en The Prince’s Trust.

“Ons is verheug oor die buitengewone sukses van die Christie’s-verkope wat tot voordeel strek van meer as 45 liefdadigheidsorganisasies wat uiters belangrike werk doen,” sê Michael G. Wilson en Barbara Broccoli, vervaardigers by EON Productions.

Adrian Hume-Sayer, direkteur en hoof van verkope by Christie’s, sê die uitslag “is ʼn teken van die voortgesette aantrekkingskrag van een van die beste en mees geliefde ikone in die rolprentbedryf”. “Dit is die vierde en verreweg die grootste James Bond-liefdadigheidsveiling waar Christie’s bevoorreg genoeg was om deel te kon wees. Ons is verheug dat die geld tot voordeel van so baie mense sal strek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.