Koning Charles, prins Harry bring hulde op eerste herdenking van koningin se dood

Koning Charles het Vrydag ook ʼn portret van haar majesteit vrygestel wat deur Cecil Beaton in 1968 geneem is. (Foto: X(Twitter)/@TheRoyalFamily)

Brittanje se koning Charles III het Vrydag in ʼn kort boodskap die kollig op sy ma, wyle koningin Elizabeth II, se toewyding geplaas tydens die eerste herdenking van haar dood.

Die koningin, wat vir ʼn rekord van 70 jaar op die troon was, is op 8 September 2022 op 96-jarige ouderdom by haar geliefde Skotse woning, Balmoral, dood weens verswakkende gesondheid.

AFP berig dat die koning en sy vrou, koningin Camilla, die naweek by dié einste woning sal deurbring en die oorlede koningin privaat sal herdenk.

“Ter viering van die eerste herdenking van haar oorlede majesteit se dood en my toetreding, word ons met liefde herinner aan haar lang lewe, toewyding, diens en alles wat sy vir so baie van ons beteken het. Ek is ook diep dankbaar vir die liefde en ondersteuning wat aan my vrou en myself betoon is gedurende hierdie jaar terwyl ons ons uiterste bes doen om tot jul diens te wees,” lui sy amptelike verklaring.

Koning Charles het Vrydag ook ʼn portret van haar majesteit vrygestel wat deur Cecil Beaton in 1968 geneem is toe sy 42 was. In dié foto, wat nog nie voorheen uitgereik is nie, dra die koningin die groothertogin Wladimir se tiara wat uit 15 verweefde diamantsirkels bestaan.

ʼn Geweersaluut sal Vrydagmiddag in Hyde Park, Londen, afgevuur word ter herdenking van die koning se troonbestyging. Klokke sal ook om eenuur die middag by Westminster-abdy gelui word om die geleentheid te vier.

Prins William en prinses Catherine, die prins en prinses van Wallis, sal Vrydag na verwagting die koningin herdenk tydens ʼn spesiale diens by die St. David-katedraal in Wes-Wallis.

Dié koninklike egpaar het op 9 September 2022 dié nuwe eretitels, wat voorheen aan koning Charles en prinses Diana toegeken is, geërf ná die koningin se dood.

Prins Harry bring hulde aan koningin tydens toekenningsgeleentheid

Prins Harry, die hertog van Sussex, is ook tans in die Verenigde Koninkryk en het Donderdag hulde aan sy ouma gebring tydens die jaarlikse toekennings vir WellChild, ʼn Londense liefdadigheidsorganisasie vir ernstige siek kinders.

Die hertog is al langer as ʼn dekade by dié organisasie betrokke en het by die geleentheid ook gepraat oor sy ouma se toewyding.

Koningin Elizabeth II sit op 2 Junie 1953 in die Westminster-abdyy op haar inhuldigingsdag in Londen. (Foto: Intercontinentale/AFP)

Hy en sy vrou, Meghan, die hertogin van Sussex, sou op 8 September 2022 dié toekennings bygewoon het toe dokters aangekondig het dat hulle “bekommerd” is oor koningin Elizabeth se gesondheid. Die paartjie het gevolglik hul verskyning gekanselleer sodat die hertog na Skotland kon reis om sy ouma te sien.

Prins Harry het in sy opspraakwekkende memoire, Spare, geskryf dat hy egter nie sy ouma voor haar afsterwe kon groet nie weens struwelinge met ander senior lede van die koninklike familie.

Die hertog het in sy boek aangevoer dat hy nie “genooi” is om sy ouma te groet nie en gevolglik te laat gereis het om haar te groet.

“Soos julle weet, kon ek nie verlede jaar die toekennings bywoon nie, aangesien my ouma oorlede is,” het hy Donderdag aan die gehoor gesê.

“Soos julle ook seker weet, sou sy die eerste persoon gewees het wat daarop aangedring het dat ek steeds by julle almal kom aansluit in plaas daarvan om na haar toe te gaan. Dit is dan ook presies hoekom ek weet dat sy vandag, presies een jaar later, vanaand ʼn oog oor ons almal hou en bly is dat ons voortgaan om die kollig op so ʼn ongelooflike organisasie te plaas.”

ʼn Verteenwoordiger van die Sussex-egpaar het aan People gesê dat die prins na verwagting die herdenking van sy ouma se dood privaat sal deurbring.

Bronne: AFP, BBC, Sky News, People.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karoo ·

Ek wonder of die 15 verweefde diamantsirkels in haar tiara van Suid Afrika kom? En of haar geliefde honde wat Fergie in geneem het nog leef?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.