Koningin vir ‘lewenslange en liefdevolle diens’ vereer

Koningin Elizabeth II is Maandag finaal ter ruste gelê. (Foto: Tristan Fewings/AFP)

“As toekomstige wêreldleier het koningin Elizabeth II op die ouderdom van 21 belowe om haar land met haar hele lewe te dien, hetsy dit lank of kort is. Selde is só ʼn belofte so goed nagekom.”

Met dié woorde het Justin Welby, aartsbiskop van Kantelberg, koningin Elizabeth II se begrafnisdiens Maandagoggend in die Westminster-abdy in Londen geopen.

“Diegene wat met liefde dien, sal geliefd onthou word wanneer diegene wat aan mag en voorregte vasklou eendag vergeet word,” het hy voor die sowat 2 000 gaste, onder wie politici, koninklikes, bekendes en lede van die Britse koninklike familie, gesê.

Skermgreep van die regstreekse uitsending van die koningin se begrafnis. (Foto: SkyNews/YouTube)

In ʼn tradisie wat dateer van koningin Victoria se begrafnis in 1901, is die koningin se kis vandag op ʼn kanonwa deur matrose van die koninklike vloot in ʼn plegtige optog vanaf Westminster Hall, waar sy vir die afgelope vier dae in staatsie gelê het, na die abdy geneem.

Koning Charles III, sy broers en suster en die koningin se kleinseuns het die monarg se kis gevolg vir dié tog, wat ʼn laaste geskiedkundige en seremoniële reis deur die stampvol strate van Londen was.

Ander senior koninklikes, onder wie Camilla, die koningin-gemalin, Kate Middleton, die prinses van Wallis, asook Meghan Markle, die hertogin van Sussex, het by dié gevolg binne die abdy aangesluit.

Die koningin se kinders, koning Charles III, prinses Anne, prins Andrew en prins Edward. (Foto: Marco Bertorello/AFP)

Die twee oudste kinders van prins William en Kate Middleton, prins George (9) en prinses Charlotte (7), het hier óók by hul ouers aangesluit en is nou ná hul oumagrootjie se dood amptelik tweede en derde aanspraakmaker op die Britse troon.

Die langsdienende monarg in Britse geskiedenis is op 8 September in die ouderdom van 96 in haar huis in Balmoral in Skotland dood nadat haar gesondheid die afgelope jaar versleg het.

Die laaste staatsbegrafnis wat in Brittanje gehou is, was in 1965 vir die land se destydse eerste minister, Winston Churchill.

Staatshoofde soos pres. Joe Biden, leier van die VSA, en pres. Cyril Ramaphosa, asook die nuwe Britse premier, Liz Truss, wat ook die laaste premier is om deur die ontslape monarg ingesweer te word, het ook die diens bygewoon.

Bronne: AFP, SkyNews en BBC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Arno ·

Ek kyk dit nou juis. Die einde van ‘n era. Koning Charles het baie groot skoene om te fill, of moet ons sê hak skoene :-)

Karina ·

En nou moet ‘n Suid Afrikaner beweer die Koninging se begrafnis was rassisties omdat “swart staat leiers in busse geprop is” Die Amerikaners sal nooit toelaat dat Pres Biden in ‘n bus ry nie, sy beskerming is prioriteit daarom het hulle sy “gepantserde” kar ingevlieg asook die sekuriteit se voertuie. Ander begrafnis gangers is ook met busse vervoer om parkeer probleme te verhoed. Die mense wil altyd net “rassisties” skreeu. Kry die woord uit julle koppe uit !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.