Kuswag vind ‘wrakstukke’ in soeke na duikboot

Een van OceanGate se duikbote (Foto: OceanGate/Facebook)

ʼn Toneel met wrakstukke is naby die wrak van die Titanic gevind in die soeke na ʼn vermiste duikboot met vyf mense aan boord, het reddingsbeamptes Donderdag gesê.

ʼn Onderwaterrobot het op die wrakstukke afgekom.

“Kenners evalueer tans die inligting,” het die Amerikaanse kuswag in ʼn plasing op Twitter gesê.

Verskeie lande neem deel aan die soektog na die Titan-tuig, ondanks vrese dat die vaartuig nie meer suurstof beskikbaar het nie. Skout-admiraal John Mauger van die Amerikaanse kuswag het aan NBC se Today Show gesê reddingsbeamptes bly tog “ten volle verbind tot die redding”. “Die mens se wil om te lewe moet in berekening gehou word. Ons gaan voort met die soektog en redding.”

ʼn Rits bates en kenners is die afgelope 24 uur beskikbaar gemaak en sonar het ongeïdentifiseerde klanke onderwater opgemerk.

Organiseerders van die reddingspoging, wat Amerikaanse en Kanadese weermagvliegtuie, kuswagskepe en afstandbeheerde robotte insluit, fokus hul pogings in die gebied waar die klanke gehoor is.

Die klanke, wat Dinsdag en Woensdag gehoor is, het die hoop laat opvlam dat die passasiers steeds leef. Kenners kon egter nog nie die bron van die klanke bevestig nie.

Die Franse navorsingskip Atalante het Donderdag ʼn onbemande robot ontplooi wat op dieptes van tot 6 000 meter onderwater kan soek, het die Amerikaanse kuswag gesê. Kenners beskryf die Victor 6000 as “die grootste hoop” op ʼn onderwaterreddingspoging.

Die Kanadese vaartuig Horizon Arctic het ook ʼn robot ontplooi wat reeds die bodem gehaal het en met sy soektog begin het.

Mauger sê vaartuie met mediese personeel en ʼn dekompressiekamer is ook op pad na die gebied.

Die 6,5 meter lange Titan het Sondagoggend omstreeks 08:00 afgeduik en sou sewe ure later weer te voorskyn kom. Minder as twee uur ná die Titan geduik het, is alle kommunikasie egter verbreek.

Aan boord is die Britse miljardêr Hamish Harding en Pakistani-Britse burgers Shahzada Dawood, ʼn magnaat, en sy seun Suleman. OceanGate Expeditions vra $250 000 (sowat R4,6 miljoen) per persoon vir ʼn rit om na die wrak van die Titanic te gaan kyk.

Ook aan boord is OceanGate se uitvoerende hoof, Stockton Rush, en ʼn Franse duikbootoperateur Paul Henri-Nargeolet, ook bekend as “Mr Titanic” vir sy gereelde duike by die wrak.

Skepe en vliegtuie het al die 20 000 vierkante kilometer op die oppervlak gefynkam in die soeke na die Titan.

Die Titanic se watergraf is 600 km van die kus van Newfoundland, Kanada en meer as 3 km onder die oppervlak van die Noord-Atlantiese Oseaan. Die skip het in 1912 tydens sy nooiensvaart van Engeland na New York ʼn ysberg getref en gesink met 2 224 passasiers en bemanningslede aan boord. Meer as 1 500 mense is oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.