‘Langste vonnis nóg’ vir handel in renosterhoring

Argieffoto

ʼn Viëtnamese handelaar wat renosterhorings die land probeer insmokkel het, is tot 14 jaar tronkstraf gevonnis. Dit word beskou as die langste vonnis wat ooit in ’n Viëtnamese hof vir onwettige renosterhandel opgelê is.

Do Minh Toan (36) het in 2019 altesaam 55 renosterhoring van ongeveer 125 kg van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) na Viëtnam probeer inbring. Hy het probeer om dit in ʼn besending te versteek, maar doeanebeamptes het dit by die Noi Bai- internasionale lughawe in Hanoi ontdek.

Die horings was in gips toegedraai en die polisie het stokke gebruik om die gips oop te breek.

Viëtnam en China bly winsgewende markte vir olifanttande, ietermago’s, dele van tiere en renosterhorings.

Volgens Education for Nature Vietnam (ENV), ʼn nieregeringsorganisasie, is die straf die swaarste wat tot op hede in die land opgelê is vir misdade wat verband hou met die handel in dele van wild en renosterhorings.

Viëtnamese owerhede spits hulle die afgelope paar jaar daarop om die onwettige invoer van dele van wilde diere hok te slaan.

“Te midde van die negatiewe menings oor Viëtnam se hantering van wildmisdade, bewys hierdie vonnis dat Viëtnam se bevoegde owerhede ernstige strawwe begin uitdeel om mense van wildmisdade af te skrik,” het Bui Thi Ha, onderdirekteur van ENV, in ’n verklaring gesê.

Volgens die organisasie is altesaam 317 onwettige renosterhandelsake sedert 2017 in die land aangeteken. Altesaam 24 mense is vir hierdie misdryf in hegtenis geneem en aangekla. Diegene wat gevonnis is, is tot ’n gemiddelde tronkstraf van sowat  vyf jaar gevonnis.

Sommige mense glo dat renosterhoring in poeiervorm help om siektes en babelas te genees.

Stropers in Afrika het die wilde renosterbevolking byna uitgewis om in die vraag na renosterhorings te voorsien. Handel in dié horings word al sedert die 1970’s wêreldwyd verbied.

Daar is tans slegs sowat 29 000 renosters wat in die natuur leef. Dit is ʼn beduidende afname van die halfmiljoen wat aan die begin van die 20ste eeu aangemeld is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mariana ·

Welgedaan Viëtnam. Nou moet ander regerings soos SA ook net wakker skrik, want hier word renosters doodgemaak vir geen rede en die wat hierdie verskriklike dade pleeg word vrygelaat of nooit gevang nie. Wys net hoe verskil die lande se regstelsels van mekaar.

Pieter ·

Die chinese is soos sekere mense vernietig als wat voor kom

Riana ·

Hulle moet hierdie stropers voor ‘v vuur pelaton sit en wereld wyd op TV uitsaai en Daai mense wat dit koop in China en Korea moet selfde straf kry… tronk straf is ‘n betaalde vakansie op my belasting geld!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.