Larry King sterf op 87 

Larry King. Foto: Twitter/Larry King

Die veteraan geselsprogramaanbieder Larry King is Saterdag in die ouderdom van 87 dood.

Sy dood is op sy amptelike Twitter-rekening deur Ora Media, waarvan hy die medestigter was, aangekondig. Hy is in die Cedars-Sinai- mediese sentrum in Los Angeles dood. King is aan die begin van die maand in die hospitaal opgeneem met Covid-19.

King het tipe 2-diabetes en ʼn lang geskiedenis van gesondheidsprobleme gehad, insluitend verskeie hartaanvalle, longkanker en angina, ʼn toestand wat veroorsaak word deur verminderde bloedvloei na die hart.

Die legendariese aanbieder was een van die bekendste gesigte op Amerikaanse televisie, en was bekend vir sy opgerolde moue, veelkleurige dasse, kruisbande en groot bril.

King het 25 jaar lank CNN se Larry King Live aangebied en in 2010 afgetree. Hy het steeds onderhoude gevoer op sy eie webwerf en in 2012 met Larry King Now op Ora TV begin, ʼn aanlyn digitale netwerk waarvan hy medestigter was. Hy het in 2013 ook met die program Politicking with Larry King op Ora TV begin.

“Vir 63 jaar het Larry duisende onderhoude op TV, radio en digitale media gedoen, en die onderhoude, sy toekennings en internasionale eerbetoon getuig van sy unieke en blywende talent as uitsaaier,” het Ora Media gesê.

Die maatskappy het sy medelye betuig met King se oorlewende kinders, Larry jr., Chance, Cannon en die hele King-familie.

“Begrafnisreëlings en besonderhede oor ʼn roudiens sal later in koördinering met die King-familie bekend gemaak word. Die King-familie het versoek dat hul privaatheid in die tyd gerespekteer word.”

Die lys van persone met wie King onderhoude gevoer het, strek van elke Amerikaanse president sedert 1974 tot wêreldleiers soos Jasser Arafat en Wladimir Poetin en bekendes soos Frank Sinatra, Marlon Brando en Barbra Streisand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Natasha67 ·

RIV. Ek het grootgeword met Larry King op CNN, en het nie ‘n episode gemis nie. Hy het nie maklik iemand geoordeel nie, bloot gesprekke gevoer.

Marthinus W ·

Larry het nie afgetree nie. Hy is uitgeskop omdat hy te oud was. Toe bied RT hom die geleentheid om verder te werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.