Lasbriewe vir twee senior Russiese offisiere

So lyk Oekraïne deesdae. (Foto: AFP)

Presies ’n jaar nadat die Internasionale Strafhof in Den Haag ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van pres. Wladimir Poetin van Rusland uitgereik het, het die hof ook nou lasbriewe vir die inhegtenisneming van twee senior Russiese offisiere uitgereik.

Die hof het sy visier op Sergei Ivanovich Kobylash en Viktor Nikolayevich Sokolov, onderskeidelik ʼn luitenant-generaal in die weermag en ʼn admiraal in die vloot. Volgens die hof was hulle “na bewering verantwoordelik vir die oorlogsmisdaad van aanvalle op burgerlike teikens”.

Hulle word ook van misdade teen die mensdom beskuldig.

Die hof sê daar is gronde om te glo dat Kobylash en Sokolov verantwoordelik was vir missielaanvalle op Oekraïense elektrisiteitsinfrastruktuur. Die vermeende misdade is tussen 10 Oktober 2022 en 9 Maart verlede jaar gepleeg.

Die hof voer aan daar was in hierdie tyd ’n veldtog van aanvalle teen elektriese kragsentrales en substasies in Oekraïne.

“Daar is redelike gronde om te glo dat hulle individuele strafregtelike verantwoordelikheid vir die voorgenoemde misdade dra,” het die hof Dinsdag gesê.

Na bewering het Kobylash en Sokolov óf die aanvalle direk uitgevoer, óf hulle het daarvoor opdrag gegee, óf hulle het versuim om “behoorlike beheer oor die magte onder hul bevel uit te oefen”.

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, het die lasbriewe verwelkom aangesien dit volgens hom ʼn boodskap aan Russiese bevelvoerders stuur dat “geregtigheid sal geskied” oor aanvalle teen burgerlikes en kritieke infrastruktuur.

“Elkeen wat sulke misdade pleeg, moet weet dat hulle aanspreeklik gehou sal word,” het Zelenski gesê.

Wie is Kobylash en Sokolov?

Luidens ’n dokument op die Russiese departement van verdediging se amptelike webwerf is Kobylash (58) in beheer van ʼn lugeenheid wat verband hou met Rusland se kernwapen-afweerstelsel.

Sokolov (61) is volgens sy amptelike biografie bevelvoerder van Rusland se Swartsee-vloot.

Die Internasionale Strafhof, wat in 2002 geskep is om oorlogsmisdade wêreldwyd te ondersoek, het in September ʼn veldkantoor in Kiëf geopen as deel van sy pogings om Russiese magte aanspreeklik te hou vir moontlike oorlogsmisdade.

’n Lasbrief is in Maart verlede jaar vir Poetin se inhegtenisneming uitgereik.

Maroela Media het verlede jaar berig die Russiese president word van oorlogsmisdade beskuldig nadat duisende Oekraïense kinders na bewering onwettig na Rusland gedeporteer is.

’n Lasbrief is ook vir die inhegtenisneming van dié land se presidensiële kommissaris vir kinderregte, Maria Lvova-Belova, op soortgelyke aanklagte uitgereik.

Dit is egter hoogs onwaarskynlik dat daar iets van enige van die lasbriewe sal kom aangesien die Internasionale Strafhof nie by magte is om mense in hegtenis te neem nie. Die hof kan boonop slegs jurisdiksie binne sy lidlande se territoriale gebied uitoefen – en Rusland is nie een van hierdie lidlande nie.

Mense kan egter aanspreeklik gehou word sou hulle hul voet in enige van die hof se meer as 120 lidlande sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jan Jacobs ·

Intresant, maar geen lasbrief, vir Isreal se Benjamin Netanyahu nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Amerikaanse, Britse en hul bondgenote se politici en generaals het ook met tye kop verloor. Wanneer word hulle ondersoek?

Wondermaarnet ·

Sal nie verbaas wees as die twee in SA skuil nie. Die kaders beskerm hulle mos.

trotsNAMSA ·

Al drie Russe is welkom in SA. Goeie plek om te kom rus. Den Haag kan maar toemaak. Vermorsing van geld.

minnie muis ·

in suid afrika is krimnele welkom,,,, en bly dan op tax payers se onkoste

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.