Leë bokse gemerk ‘geklassifiseerd’ by Mar-a-Lago gevind

Pres. Donald Trump. (Foto: Evan Vucci, AP)

Hoogs geklassifiseerde regeringsdokumente is tydens die FBI se onlangse klopjag by die VSA se oudpres. Donald Trump se Mar-a-Lago-landgoed in Florida gevind.

Ondersoekers sê daar is op meer as 11 000 staatsdokumente tydens dié opspraakwekkende klopjag beslag gelê.

Dit nadat Trump se prokureurs sowat twee maande gelede aan amptenare van die departement van justisie in ʼn beëdigde verklaring bevestig het dat daar geen geklassifiseerde materiaal meer op die perseel is nie.

Daar is egter ook op 90 leë bokse op die landgoed afgekom. Daar word nou bespiegel dat sensitiewe dokumente moontlik verlore, vernietig of verskuif is.

Hofstukke, wat deur ʼn hof in Florida bekend gemaak is, verskaf ʼn inventaris van die inhoud van 33 bokse waarop daar tydens die klopjag op 8 Augustus beslag gelê is. Dit wys ook dat talle hoogs geheime lêers in Trump se persoonlike kantoor gevind is.

Trump se privaat woning in Mar-A-Lago in Palm Beach, Florida (Foto: Giorgio VIERA/AFP)

Dié dokumente in Trump se kantoor sluit in drie dokumente wat “vertroulik” gemerk is, 17 dokumente wat “geheim” gemerk is, sewe dokumente wat “hoogs geheim” gemerk is, 43 leë bokse wat as “geklassifiseerd” gemerk is en 28 leë bokse wat lees “stuur terug na personeelsekretaris/militêre assistent”.

Daar word van Amerikaanse presidente verwag om al hul dokumente en e-posse aan die nasionale argief oor te dra. Die departement van justisie ondersoek nou die moontlikheid dat Trump rekords onbehoorlik hanteer het deur die rekords van die Withuis na Mar-a-Lago te neem nadat hy verlede jaar uit sy amp is.

Trump se voormalige prokureur-generaal sê nou die klopjag op die Mar-a-Lago-landgoed in Florida blyk geregverdig te wees.

“Hulle het waarskynlik goeie bewyse van [dwarsboming],” meen Bill Barr, die man wat die Amerikaanse departement van justisie tydens die laaste helfte van die Trump-administrasie gelei het.

“Mense sê dit is ongehoord,” sê Barr oor die klopjag. “Wel, dit is ook ongehoord vir ʼn president om al hierdie geklassifiseerde inligting te neem en dit in ʼn buiteklub te stoor.”

Bykomende bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.