Maan toe! Vuurpyl uiteindelik gelanseer

Nasa se vuurpyl word uiteindelik gelanseer. (Foto: Nasa/Twitter)

Nasa het uiteindelik Woensdag sy kragtigste vuurpyl nóg op ’n reis na die maan gelanseer.

Die Artemis 1-vuurpyl, wat 32 verdiepings hoog is, is om 01:47 plaaslike tyd van die Kennedy-ruimtesentrum in die Amerikaanse deelstaat Florida gelanseer.

Tegniese probleme het egter die onbemande toetsvlug vanoggend effens vertraag.

Ingenieurs moes Dinsdagaand inderhaas plan maak met ’n kleplekkasie. ’n Span is uitgestuur en die probleem kon ná ’n uur opgelos word.

Nasa het egter later aangekondig dat ’n radar wat die vuurpyl se vlugpad monitor, probleme gee weens ’n foutiewe Ethernet-skakelaar wat vervang moes word. Dié probleem is ook vinnig opgelos en die lansering het binne die vensterperiode van twee ure plaasgevind.

Nasa se vuurpyl word uiteindelik gelanseer. (Foto: Nasa/Twitter)

Die vuurpyl sal na verwagting sy bestemming binne dae bereik. Die vuurpyl sal egter nie op die maan land nie, maar eerder ’n verre wentelbaan aanneem en 64 000 kilometer van die maan verby beweeg, voordat dit weer na die aarde terugkeer.

Die vuurpyl se hitteskild sal ’n temperatuur die helfte van die son se oppervlak moet weerstaan wanneer dit deur die atmosfeer terugbeweeg.

Die sending sal 25 en ’n half dae duur voordat die vuurpyl op 11 Desember in die Stille Oseaan sal beland.

Nasa se vuurpyl word uiteindelik gelanseer. (Foto: Nasa/Twitter)

Sowat 100 000 mense het Woensdag aan die kus saamgedrom om die lansering te aanskou nadat die lang verwagte toetsvlug om die maan die afgelope paar maande verskeie kere uitgestel is.

“Ek was al ’n paar keer hier om te kyk hoe hierdie ding opgaan net sodat dit weer gekanselleer kon word. Dit is nou my derde keer hier en ek is opgewonde om dit te sien,” het Andrew Trombley, ’n ruimte-entoesias van St. Louis in Missouri, vanoggend gesê.

“Ek was te jonk vir die Apollo-sendings, so … ek wou persoonlik hier wees.”

Honderde omstanders kyk hoe Nasa se vuurpyl uiteindelik gelanseer word. (Foto: Nasa/Twitter)

Maroela Media het vroeër berig die toetsvlug maak deel uit van die Artemis 1-sending en dieselfde soort vuurpyl is gebruik om die Apollo 11-kapsule met drie ruimtevaarders in 1969 na die maan te stuur.

Die omstander Kerry Warner het op haar beurt gesê die lansering van die Artemis 1-vuurpyl is “deel van Amerika en waaroor Amerika gaan”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pietertjie ·

Dis vreemd dat hulle dit byna sestig jaar gelede so maklik kon regkry, maar nou sukkel dit. Dalk is moderne tegnologie toe nie so modern nie.

groenboer ·

Hulle het dit nie so maklik reggekry 60 jaar gelede nie. Daar was ‘n styl leerkurwe, waarin o.a. drie ruimtevaarders hul lewens verloor het. Ek is eintlik verbaas dit gaan hierdie keer so maklik!

Jan ·

En die beste wat NASA kan doen is om, om die maan te wentel en weer terug te kom.

Sou gedink het dat na 50 jaar, hulle bietjie meer innoverend as dit sal wees.

groenboer ·

Met die Apollo-sendings is dieselfde prosedure gevolg: al die stelsels is eers afsonderlik getoets voor enige bemannings op die maan self geland het. Hopelik kry hulle dit hierdie keer sonder lewensverlies reg.

Antie Sarie ·

Wat? Gaan daar die keer nie n foon oproep wees deur die prezzie nie?

Hennie ·

Ek wonder altyd hoeveel miljoen ton CO2 word vrygestel met hierdie lanserings. En waarvoor nou regtig weer maan toe gaan? Eidelikheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.