Man agter Russiese rebellie: Wie is Yevgeny Prigozhin?

Yevgeny Prigozhin (Foto: Twitter)

Voordat hy die afgelope naweek gedreig het om Moskou se militêre leierskap tot ʼn val te bring, was Yevgeny Prigozhin bekend as “Poetin se sjef”.

Die sakeman, nou rebellieleier, het vroeër jare ’n spyseniersmaatskappy bedryf en staatstenders vir spysenieringsdienste van die Kremlin ontvang voordat hy op die ou end een van Rusland se top‑ militêre bevelvoerders se felste kritici geword het.

Prigozhin het in ’n stadium noue bande met pres. Wladimir Poetin gehad. Die Russiese president beskuldig sy voormalige kok nou van verraad.

Meer oor Yevgeny Prigozhin

Die internasionale uitsaaivennoot Deutsche Welle (DW) berig Prigozhin is in 1961 gebore en het sy twintigerjare in ’n Sowjet-tronk deurgebring. Prigozhin het nege jaar tronkstraf vir roof en bedrog uitgedien.

Ná die val van die Sowjetunie en sy vrylating uit die tronk, het Prigozhin ’n entrepreneur geword.

Prigozhin het aanvanklik ’n worsbroodjiestalletjie in sy tuisdorp bedryf voordat hy eindelik ’n luukse restaurant in St. Petersburg oopgemaak het. Verskeie van die Russiese elite, onder wie Poetin – toe die onderburgemeester van St. Petersburg – het gereeld by dié restaurant gaan aansit.

Prigozhin se onderneming het later uitgebrei nadat Poetin president geword het.

Sy spysenieringsmaatskappy Concord, wat in die 1990’s gestig is, het eksklusiewe en winsgewende regeringskontrakte vir staatsetes ontvang. Dit sluit in spysenieringskontrakte vir Poetin se inhuldigingseremonie en ’n besoek deur die Amerikaanse president George W. Bush aan St. Petersburg.

Die kontrakte het Prigozhin die bynaam “Poetin se sjef” besorg.

Prigozhin se ambisies het egter veel verder as die spysenieringsbedryf gestrek.

Stig van Wagner-groep

In 2014 het Prigozhin ’n private militêre maatskappy genaamd die Wagner-groep gestig – ’n eenheid wat hy tot verlede jaar ontken het hy gestig het.

Die Wagner-huursoldategroep het in 2014 vir die eerste keer in Oekraïne betrokke geraak toe hulle separatiste gehelp het om die Krim-skiereiland te annekseer.

Die groep het ook ná Rusland se inval van Oekraïne verlede jaar ’n belangrike militêre bate vir die Kremlin geword. Die groep sê sy soldate het in Januarie vanjaar beheer oorgeneem van die Oekraïense stad Soledar – een van Moskou se seldsame oorwinnings sedert die begin van die oorlog.

Die doeltreffendheid van die Wagner-groep het Prigozhin in staat gestel om ’n veldtog teen Rusland se top‑ militêre amptenare van stapel te stuur.

Prigozhin is al maande lank in ’n bittere magstryd met die Russiese ministerie van verdediging gewikkel.

Hy het onder meer militêre leiers van onbevoegdheid beskuldig te midde van openbare oproer oor die gebrek aan ammunisie vir Russiese soldate. In Februarie vanjaar het Prigozhin Rusland se top‑ militêre bevelvoerders in ’n stemboodskap van “verraad” beskuldig omdat hulle glo Russiese soldate van ammunisie ontneem het.

Prigozhin het later ook die minister van verdediging, Sergei Shoigu, en die top- Russiese generaal Valery Gerasimov persoonlik getakel en van militêre burokrasie beskuldig nadat Russiese soldate nie daarin kon slaag om Bakhmut in te val nie.

“Bakhmut sou voor die Nuwejaar geneem gewees het, as nie vir ons afgryslike militêre burokrasie […] en die stokke wat daagliks in die wiele gedruk word nie,” het Prigozhin in Mei vanjaar aan Russiese staatsmedia gesê.

Die voorheen mediasku Prigozhin het sedertdien die gesig geword van Rusland se oorlog teen Oekraïne.

Maroela Media het vroeër berig die vete tussen Prigozhin en Rusland se militêre leierskap het Saterdag ʼn gewelddadige kookpunt bereik toe Wagner-troepe ʼn belangrike leërhoofkwartier in die suide van Rusland gekaap en daarna noordwaarts getrek het om die hoofstad te bedreig.

Poetin en Prigozhin het sedertdien ʼn ooreenkoms bereik. Die ooreenkoms behels dat Poetin nie vervolging teen Prigozhin of sy lede sal instel nie, mits hy Rusland verlaat en in ballingskap in die buurland Belarus gaan woon.

FBI ook op Prigozhin spoor

Prigozhin word ook tans deur die Amerikaanse Federale Speurdiens (FBI) gesoek vir “sameswering om die Verenigde State te bedrieg”.

Die FBI het selfs ʼn beloning van $250 000 aangebied vir inligting wat tot Prigozhin se inhegtenisneming kan lei.

Volgens die FBI was Prigozhin die primêre befondser van die Internetnavorsingsagentskap (IRA) wat in St. Petersburg gesetel was en hy het ook toesig gehou oor die agentskap se onwettige bedrywighede van politieke en verkiesingsinmenging in die VSA.

Die onwettige bedrywighede het die aankoop van Amerikaanse rekenaarbedienerspasie, die skepping van honderde fiktiewe aanlyn persona, en die gebruik van gesteelde identiteite van persone uit die Verenigde State ingesluit.

Bykomende bronne: AFP, CBS News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Johan ·

Gelukkig is die “rebellie ” nou weer onder beheer en die Wagner opad na Belarus waar hulle nader aan Kiev is. Ek sal nogal graag wil weet of die CIA werklik $6B betaal het vir die “rebellie”, maar ons sal seker nooit die waarheid weet nie

capie ·

Na ‘n onlangse tv onderhoud met Prigozhin in sy kantoor is die wereldkaart teen die muur ontleed. Lande waar Wagner aktief betrokke is, is gemerk. Lande waar Wagner betrokke was by onlangse verkiesings is met wit gemerk. Suid Afrika en sommige ander Afrika lande is met ‘n groen regmerkie gemerk. Wat is Wagner se aktiwiteit in Suid Afrika?

Johan ·

Ekt dit ook interessant gevind. Daar is ook een in Madagaskar. Die VSA het natuurlik omtrent in elke land op die planeet n militêre bases en hand in die paai met onluste of rebellies.

Ryan ·

Ek het n ander mening hier. Kon hierdie hele debakel georkestreer word sodat Putin nou tuis moet bly en nie die BRICS beraad in Suid Afrika kan bywoon nie , en dus nie in hegtenis geneem word nie? N goeie, maar deursigte plan van Putin en Ramaphosa.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die hele ding is opgevoer. Eintlik was dit ‘n militêre oefening. Nie ‘n enkele Wagner lid is gedood nie. Poetin het glo sy medelye uitgespreek oor die dood van die bemanning van ‘n paar vliegtuie wat deur Wagner afgeskiet is, sommer bo die snelweg. Dit sluit twee gevegshelikopters in. Kyk, een helikopter sou ‘n paar honderd Wagners weggeblaas het. Nêrens is betroubare wrakstukke nie. Die weermag het geen amptelike onderoek geloods nie. Dis maar hoe die Russe dinge doen. Hou almal aan die raai.

annie ·

Hierdie ou kêrel is ‘n opportunistiese oorlogsmakelaar. Na sy planne om Rusland te skaakmat wil hy nou weer heuning om Putin se mond smeer dat hy net ‘n boodskap wou oordra sodat hy weer kan voortstu en geld maak. Hou hom uit!

Thom ·

Die regses hier het natuurlik weer die VSA betrek by die ” komplot ” __ dit was so netso voorspelbaar as dat Poetin ‘n klein bang mannetjie is wat stert tussen die bene in sy vliegtuig gevlug het !
Is onstabiliteit in Rusland tot die Weste se voordeel ? Ongelukkig , nee __ die grootste kernarsenaal in die hande van n huursoldaat kan nie goeie werk afgee nie .

Gaitsigubib ·

Net vir ingeval jy wonder, ek het jou reggemerk want jy is wel reg, maar Republikein onder is ook reg. Ek wens hierdie mense (jy is een van hulle) wat so pro-oorlog is (of teminste nie tengunste van onderhandelinge nie), wil n wapen vat en gaan veg in die voorste lyne. Trump is die enigste mens wat die oorlog wil stop maar jy haat hom. Jy bekommer jou dat Oekraine dalk van sy grond gaan moet opgee, maar jy het geen idee van die agtergrond nie. Ukraine is nie eers werklik n soewereine land nie.

Johan ·

Jy is 100% reg Gaitsigubib, die mense (Weste) wat die oorlog ondersteun maak n reuse fout, duisende Oekraïens gaan onnodig dood, net omdat die Weste nie die Russe se sekuriteit wou respekteer nie. Rusland wou ook nie oorlog hê nie, maar is daarin geforseer. Mag die Weste gou tot hul sinne kom.

Marthinus W ·

Hierdie berig bevat nogal ‘n paar “eerstes”.

Dis die eerste keer wat ek sien Deutsche Welle (DW) word n “internasionale uitsaaivennoot” genoem. Na RT word gewoonlik verwys as “Russiese regeringsbetaalde” nuusdiens. DW word deur die Duitse regering bevonds, nes BBC deur die Britse, VOA, RFE/RFL, deur Amerika; NOS deur Nederland, ens.

Dis die eerste keer dat Wagner nou skielik gehelp het met die anneksasie van die Krim. In 1991 het Kief en Moskou n ooreenkoms geteken, waardeur Rusland hul Swart See Vloot op die Krim sal behou, met die hoofkwartier by Sewastopol. Daarvolgens kon Rusland n maksimum van 25 000 troepe, op 1000 militere installasies, plaas, en hulle het see- en lugtoegang gehad. Ten tyde van die anneksasie was daar 16 000 troepe, en hulle het die anneksasie uitgevoer. Hulle het die Russiese groen uniform gedra, en Christiane Amanpour het smalend op CNN van die “little green men” gepraat.

Johan ·

Ook baie verwysing uit MSM soos dat Rusland “min sukses behaal het”, hulle is besig om die plek plat te vee, en as die Weste aanhou wapens stuur gaan daar nie mense oorbly om daarmee te veg nie. Die Öekraine se weermag is ook grootliks vernietig, en kan nie werklik aanhou veg nie…tragies, maar dit is wat dit is. Enige ander beriggewing is eenvoudig westerse naïwiteit of eenvoudig propaganda om die oorlog uit te rek.

christo ·

Poetin wou permanent ontslae raak van Prigozhin. France 24 nuusagentskap het Belarus se president aangehaal waairin Poetin gese het dat hy hom wil “uithaal” (Engels:” Waste him”). Slegs deur die ooreeding van Belaruse se president het hom laaat afsien van die plan. Indien dit gebeur het sou dit dalk ‘n verdeeltheid onder die Russies bevolking gevolg gehad het. Ongelukkig isdie Russe anders as die westerse bevolking, waar die meeste gewoond is and die soort ding. ‘n “Traak my nie” houding. ‘n toe bek is ‘n heel bek in Rusland.

Autobahn ·

Die Deutsche Welle is ´n propaganda stasie en parasitêr. Hulle teer van my belastingsgeld terwyl hulle ons patriote en konserwatiewes altyd in die slegste lig uitbeeld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.