‘ ʼn Lewende legende’

Roger Federer op Wimbledon. Foto: Adrian Dennis.

In ʼn merkwaardige tennisloopbaan van meer as 20 jaar het Roger Federer 1 251 wedstryde gewen en 20 Grand Slam-titels ingeoes.

ʼn Buitengewone speler wat buitengewone dinge op die baan kon doen. Sedert hy gistermiddag sy uittrede aangekondig het, stroom die huldeblyke omtrent in.

“Ek het gewens dat hierdie dag nooit aanbreek nie,” het Rafael Nadal getwiet.

“Dit was ʼn plesier, maar ook ʼn eer en ʼn voorreg om al hierdie jare met jou te deel; om so baie ongelooflike oomblikke op en langs die baan saam met jou te ervaar.”

Benewens sy grasieuse houespel, sy goedhartigheid en ordentlikheid, sal tennisliefhebbers altyd die Switserse meester vir sy bestendigheid onthou.

Tussen 2005 en 2010 het hy in 18 van die 19 Grand Slam-eindstryde gespeel. Terselfdertyd het hy die Amerikaanse Ope vyf keer op ʼn streep – tussen 2004 en 2008 – gewen.

“Roger is een van my helde en ongetwyfeld ʼn inspirasie. Dankie vir alles wat jy vir die sport gedoen het; ek wil nog steeds graag saam met jou speel!” het Carlos Alcaraz, die nuwe wêreldnommereenspeler, gesê.

Serena Williams het ook die heuningkwas uitgehaal om Federer se heldedade op die tennisbaan te beskryf.

Foto: Twitter.

“Ek het nog altyd na jou opgekyk en jou bewonder. Jy het vir my en vir miljoene ander geïnspireer en ons sal dit nooit vergeet nie,” het die Amerikaner op sosiale media gedeel.

Nodeloos om te sê het Federer al ʼn magdom tennisbekers omhoog gehou, maar hy is ook die sportster met die meeste Laureus-titels agter sy naam.

Die Basel-boorling is vyf keer as die sportman van die jaar by die gesaghebbende sporttoekenningsplegtigheid vereer.

Hy was 22 jaar oud toe hy die eerste keer as die wêreld se voorste speler aangewys is en in 2018 het hy die oudste speler geword om die septer op die ATP-ranglys te swaai.

Hy was toe 36 jaar oud gewees.

In die woorde van John Isner – Roger Federer is inderdaad ʼn lewende legende.

Federer se Grand Slam-titels:

Australiese Ope (ses), Franse Ope (een), Wimbledon (agt) en Amerikaanse Ope (vyf).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leon ·

Rodger se nederigheid integriteit ensy sport etiek konstandheid was en sal altyd vir my sy mooiste eienskappe wees.Daar is ander wat ookgoeie tennis speel maar disipline en opvoeding skiet tekort.
In geheel gesien is Rodger die beste tennis speler ooit !!!!!!

Sarel ·

Hy was een van die Grotes en sy naam sal sekerlik in Tenniskringe voort leef vir ‘n tyd en dan soos ander bekende Spottlui maar net verdwyn..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.