Netflix laat blyk waarna intekenare kyk (en nié kyk nie)

Argieffoto ter illustrasie van Netflix. (Foto: Chris DELMAS / AFP)

Netflix het Dinsdag ’n ongekende blik op sy toptreffers (en topflops) gebied toe die stromingsreus vir die eerste keer nóg gedetailleerde kyksyfers oor byna al sy reekse en flieks bekend gemaak het.

Die nuwe tweejaarlikse publikasie getiteld “What We Watched: A Netflix Engagement Report” is Dinsdag, tot vervaardigers se vreugde, gepubliseer en bevat data vir alle programme van meer as 50 000 uur wat deur Netflix-gebruikers gekyk is.

Dit kom neer op altesame 18 000 reekse en rolprente wat 99% van alle stromings op Netflix verteenwoordig en neerkom op byna 100 miljard uur.

Die eerste seisoen van The Night Agent is boaan die omvattende lys van wat mense oor ʼn tydperk van ses maande op Netflix gekyk het. Dié Amerikaanse aksieriller is in Maart vanjaar op Netflix gelaai en het sedertdien vir meer as 812 miljoen uur se kyktyd wêreldwyd gesorg.

The Mother met Jennifer Lopez in die hoofrol was die stromingsdiens se topfliek vir die eerste helfte van 2023.

Ander reekse wat in dié periode goed presteer het, was Wednesday, You en Queen Charlotte wat spruit uit die Bridgerton-reeks.

Programme in ander tale as Engels het ook besonder goed gedoen in die eerste ses maande van 2023. Die programme – veral die Koreaanse en Spaanse titels – het 30% van alle kykers gegenereer.

Die nuwe verslag, wat volgens Netflix elke ses maande uitgereik sal word, is ʼn eerste vir die stromingsdiens wat in die verlede daarvan beskuldig is dat hy sy data van die publiek weerhou ondanks die weeklikse toptienlyste wat hy gepubliseer het.

Die stromingsdiens Netflix. (Foto: Thibault Penin/Unsplash)

Netflix het vanjaar net soos menige ander stromingsdiens hernieude druk ervaar om meer deursigtig te wees te midde van stakings deur skrywer- en akteursvakbonde in Hollywood.

“Dit is ’n groot stap vorentoe vir Netflix en ons bedryf,” het die maatskappy Dinsdag met die publikasie van sy nuwe, meer omvattende verslag erken.

“Ons glo die kykerinligting in hierdie verslag sal skeppers en ons bedryf dieper insigte gee in ons gehore en wat by hulle aanklank vind.”

Netflix sê ook dat meer as 60% van die reekse en rolprente wat tussen Januarie en Junie vanjaar uitgereik is, ieder geval op sy weeklikse toptienlyste verskyn het. “Hoewel hierdie verslag dus wyer in omvang is, is die neigings wat daarin weerspieël word baie soortgelyk aan dié in die toptienlyste,” sê die stromingsdiens.

Die neigings sluit in die gewildheid van terugkerende gunstelinge soos Ginny & Georgia, Alice in Borderland, The Marked Heart, Outer Banks, You, Queen Charlotte: A Bridgerton Story, XO Kitty en die rolprentvervolgverhale Murder Mystery 2 en Extraction 2.

Die gewildheid van nuwe reekse soos The Night Agent, The Diplomat, Beef, The Glory, Alpha Males, FUBAR en Fake Profile, wat groot gehore en aanhangers genereer, is ook in die weeklikse toptienlyste én die nuwe verslag te bespeur.

Klik hier vir die volledige verslag.

Foto ter illustrasie. (Foto: Souvik Banerjee / Unsplash)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ryan ·

Die meeste internasionale sport kan gratis gekyk word as jy n intekenaar van n vpn diens is. Die koste is ook n fraksie van dstv se subskripsie koste.

piet ·

Ryan, jy het nie noodwendig VPN nodig nie, net weet waar om te soek…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.