Noodlanding vir Boeing toe enjinkap afval

Skermgreep uit een van die video’s wat op sosiale media gedeel is (Video: @T_Investor_/Twitter)

ʼn Vlug van Southwest Airlines moes Sondag na Denver, Colorado in die VSA terugkeer toe ʼn enjinkap afgeval het net ná die vliegtuig opgestyg het, het die Federale Lugvaartadministrasie (FAA) gesê. Dit is die jongste in ʼn rits veiligheidsvoorvalle waarby Boeing-vliegtuie betrokke is.

Die FAA het in ʼn verklaring gesê Southwest Airlines Vlug 3695, ʼn Boeing 737-800-passasiersvliegtuig, het weer by Denver- internasionale lughawe geland “ná die bemanning aangemeld het dat die enjinkap afgeval en die vlerkklap getref het”.

Die vliegtuig het Sondag om 08:15 (1415 GMT) opgestyg en was op pad na Houston. Dit is ná landing na die hek teruggesleep en die FAA sal die voorval ondersoek, het die Amerikaanse lugvaartowerheid gesê.

CNN, ABC en ander Amerikaanse media het dramatiese video’s gebeeldsend wat passasiers geneem het.

“Kom ons verklaar ʼn noodgeval vir Southwest 3695; ons versoek om onmiddellik terug te keer,” het ʼn bemanningslid gesê, aldus die New York Times, wat radioboodskappe met lugverkeerbeheer aangehaal het. “Ons het ʼn stuk van die enjinkap wat afhang.”

Southwest het die voorval as ʼn “meganiese probloeem” beskryf en gesê die vlug het veilig geland en passasiers is op ander vlugte bespreek.

“Ons vra om verskoning vir klante vir die ongerief van vertraging. Ons instandhoudingspanne hersien die vliegtuig. Ons plaas die grootste prioriteit op die veiligheid van ons klante en personeel,” het ʼn woordvoerder per e-pos aan AFP gesê.

Boeing wou nie kommentaar lewer oor die voorval nie.

Die vliegtuigvervaardiger het die afgelope paar jaar ʼn rits veiligheidskwessies beleef, insluitend die noodlottige Lion Air en Ethiopian Airlines-ongelukke van 737 MAX-vliegtuie in 2018 en 2019 wat die lewens van meer as 350 mense geëis het.

Die vervaardiger het in Januarie ook byna ʼn katastrofale voorval beleef toe ʼn romppaneel van ʼn Boeing 737 MAX 9 Alaska Airlines-vliegtuig midde die vlug afgewaai het.

In Maart moes ʼn Boeing 777-vliegtuig, op pad na Japan, ʼn noodlanding uitvoer toe ʼn wiel afgeval het net ná die vliegtuig opgestyg het. Die wiel het in ʼn parkeerterrein van die San Francisco- internasionale lughawe beland.

Minstens 13 mense is ook in Maart in die hospitaal opgeneem nadat ʼn Boeing 787-9 Dreamliner van LATAM Airlines tydens ʼn vlug ʼn tegniese probleem ondervind en skielik ʼn ent in die lug geval het. Die vliegtuig was van Sydney na Auckland onderweg toe die voorval plaasgevind het.

Amerikaanse reguleerders het Boeing 90 dae gegee om met ʼn plan vorendag te kom wat gehaltebeheerkwessies kan oplos. Die hoof van die FAA het gesê die maatskappy moet “homself verbind tot ware en ingrypende verbeterings”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lesly ·

Ek kan nie glo dat dit nog kan gebeur nie. Na 45 jaar in die vliegtuig onderhoud bedryf, het ek soveel veranderinge gesien om foute te voorkom. As ‘n enjin kap(fan cowl) oopgemaak en toegemaak word, word daar ‘n inskrywing in die tegniese log boek gemaak en ‘n 2de inspeksie word benodig wat deur ‘n gelisensieerde tegnikus geteken word. In Europa en VK is dit al seker 15 jaar plus ‘n reel. Amerka se standaarde is dalk net nie dieselfde nue

Robert ·

Ek dink dit is ń skrikwekkende ervaring! Bly almal is veilig…..

Werner ·

Die storie oor Boeing is baie kommerwekkend. Een fluitjieblaser is vermoor nadat hy braaf genoeg was om oor die omstandighede by die mpy te praat. En alles te danke aan hul diversiteitbeleid, wat bloot beteken vaardige en kundige mense word vervang deur polities-korrekte mense. Die gevolg is natuurlik uiters swak vakmanskap en geen veiligheid- en risikobeheer nie.

Klink dit bekend? ….

ES ·

Ek wonder of dit werklik Boeing is en of meeste van hierdie vliegtuie net nie ordentlik gediens en onderhou word nie?

Martie ·

Werner dit klink so bekend maar dis nogtans kommerwekkend. Ons leef almal net een keer.

Cassie Carstens ·

Ek wonder of ek regtig nog wil vlieg, veral met Boeiings wat oor al die jare baie betroubaar was, dit maak mens bang.

Joan ·

Werner, ek stem saam. Oral is daar voete oor die grense, soos by ons, ook in Amerika. Hulle word ook net in diens geneem sonder kwalifikasies, slegs omdat hulle nie omgee wat hulle betaal word nie. Een van die dae sit een van hulle ook indie Withuis en regeer die land, soos hier by ons.

Joan ·

Spotty, nadat ek Leslie se kommentar gelees het, wil ek met jou saamstem – sabotasie is hier nie uitgesluit nie. vernaam nadat ‘n fluitjieblaser vermoor is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.