Nuwe koning vir Denemarke

Koning Frederik X van Denemarke saam met sy vrou Mary (Foto: Thomas Traasdahl/Ritzau Scanpix/AFP)

Frederik X het Sondag die koning van Denemarke geword en ’n nuwe era ingelui nadat sy ma, koningin Margrethe, geabdikeer het, met meer as 100 000 Dene wat vir die ongekende gebeurtenis opgedaag het.

Na ’n laaste perdekoets-optog deur die strate van Kopenhagen, het die uiters gewilde 83-jarige koningin ’n verklaring van abdikasie by Christiansborg-paleis onderteken, wat haar 52-jarige bewind beëindig het en haar seun outomaties monarg gemaak het.

Tienduisende Dene het die winterkoue trotseer om te sien hoe eerste minister Mette Frederiksen die 55-jarige Frederik op die balkon van die Christiansborg-paleis, die setel van die parlement en regering, tot die nuwe koning uitroep.

Derduisende Dene het in die Christiansborg-paleis se plein bymekaargekom vir die geleentheid. (Foto: Ida Marie Odgaard/Ritzau Scanpix/AFP)

Soos sy ma, is Frederik uiters gewild en geniet hy die steun van meer as 80% van Dene.

“My ma het soos min daarin geslaag om een met haar land te word,” het hy aan die skare gesê.

Koningin Margrethe II van Denemarke onderteken ‘n verklaring van abdikasie langs die Deense eerste minister Mette Frederiksen. (Foto: Mads Claus Rasmussen/Ritzau Scanpix/AFP)

“My hoop is om ’n samebindende koning vir die toekoms te word… Dit is ’n verantwoordelikheid wat ek met respek, trots en vreugde aanvaar,” het hy gesê en herhaaldelik sy hand op sy hart geplaas terwyl die skare gejuig het.

Sy Australies-gebore vrou, Mary, en hul vier tienerkinders, het by hom op die balkon aangesluit. Mary is die eerste gewone burger wat koningin in Denemarke geword het.

In ooreenstemming met Deense tradisie is geen buitelandse hooggeplaastes of koninklikes Sondag genooi nie, en daar was geen kroning of troon nie.

Brittanje se koning Charles het Frederik en Mary gelukgewens met hul toetreding, terwyl Amerikaanse president Joe Biden hulde gebring het aan koningin Margrethe se “ongelooflike voorbeeld van onbaatsugtige, beginselvaste diens”.

Margrethe sal haar titel van koningin behou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Grassie ·

Dit is lekker om soms nog van lande te lees waar mense rede het om bly te wees en te lag, maar dit maak mens ook ietwat jaloers. My familievoorvader Pieter “den Deen” Erasmus het in 1672 uit Denemarke in die Kaap aangekom. Ek wens ek kon met hom praat. Ek sou vir hom gesê het “Nee magtig, groot agteroupa, wat het jy aangevang. Jy kon regtig maar jou wanderlust in toom gehou het, dan het ek ook daar aan die vrolikheid deelgeneem en seker nie eers geweet van ‘n flenterbas landjie daar aan die verre suidpunt van Afrika waar jou nasate nou moet sukkel om voort te bestaan nie, ‘n Land waar daar nie meer rede is om te lag nie, net om te ween.”

Gert ·

Margrethe II abdicates. The 83-year-old Margrethe is the first Danish monarch to voluntarily relinquish the throne in nearly 900 years. Kan dit wees nadat sy ook onlangs op die besoekers lys van Epsteins Island verskyn het?

Tino ·

Ek moet se daar is ‘n moderne respek vir die dat sy haar deel gedoen het maar ook haar seun geleentheid gee om sy deel te doen.

Wens ons “leiers” kan so bietjie leer uit hierdie voorbeeld

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.