Nuwe malaria-entstof toon belowende resultate

(Foto: Olympia DE MAISMONT/AFP)

ʼn Nuwe malaria-entstof was 77% doeltreffend in proewe op jong kinders en word bestempel as ʼn moontlike deurbraak in die stryd teen die dodelike siekte wat deur muskiete oorgedra word.

In ʼn kliniese proef in Burkina Faso is gevind dat die Matrix-M-entstof, wat deur die Universiteit van Oxford se Jenner-instituut ontwikkel is, 77% doeltreffend is nadat 450 kinders in 2019 ingeënt is en toe ʼn jaar lank gemonitor is. Geen ernstige nadelige newe-effekte is aangemeld nie.

Dit is die eerste kandidaat-entstof vir malaria wat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se teiken van ʼn 75%-doeltreffendheid oortref.

ʼn Breër “fase 3”-proefneming waarby 4 800 kinders betrokke is, sal nou in vier Afrikalande uitgevoer word, in samewerking met Indië se Serum-instituut en die Amerikaanse farmaseutiese maatskappy Novavax.

Prof. Adrian Hill, hoof van die Jenner-instituut, wat die koronavirus-entstof ontwikkel het wat nou wêreldwyd deur AstraZeneca versprei word, het rakende die toetsuitslae gesê dit is ʼn “groot dag” in die wêreldwye stryd teen malaria.

Die Verenigde Nasies (VN) se gesondheidsagentskap het gesê die uitwissing van malaria, wat jaarliks die lewe van ongeveer 400 000 mense eis, is ʼn “lewensvatbare doelwit vir alle lande”.

Groter risiko vir kinders

“Malaria het verlede jaar minstens vier keer soveel lewens in Afrika geëis as in die geval van Covid-19,” het Hill gesê.

“Niemand het dit vir ʼn oomblik bevraagteken of daar magtiging vir die noodgebruik van behandeling vir Covid-19 in Afrika moet wees nie. So, hoekom kan dieselfde noodmaatreël nie ook geld vir ʼn siekte wat kinders eerder as ouer mense doodmaak nie?”

Die Serum-instituut het hom daartoe verbind om jaarliks minstens 200 miljoen dosisse te vervaardig. Volgens Hill het die Matrix-M-entstof “die potensiaal om ʼn groot uitwerking op openbare gesondheid te hê indien lisensiëring verkry word”.

Die entstof is gegee in ʼn ewekansige proef met 450 babas en kleuters van vyf maande tot 17 maande oud. Die babas het ná ʼn jaar ʼn opvolginenting ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Maggies ·

(Ek haal aan:“Malaria het verlede jaar minstens vier keer soveel lewens in Afrika geëis as in die geval van Covid-19,”)
Malaria was nie as ‘n pandemie in Afrika verklaar nie.
Dit het ook nie miljoene mense se lewens ontwrig nie.
Het ook nie so groot finansiële impak op Afrika gehad nie. Iewers maak dinge nie vir my sin nie.

OW ·

Jy is reg Koos.Malaria is wel oordraagbaar deur ‘n besmette wyfie- anophelus muskiet wat die plasmodium parasiet dra,en tydens ‘n bloedmaal die plasmodium parasiet vrystel.

Maggies ·

Koos ek is deeglik bewus van die feit dat Malaria nie aansteeklik is nie. My doel van my skrywe was bloot om uit te lig dat vier keer soveel lewens geëis is as met covid, maar geen haan het daaroor gekraai tot nou toe nie.

Anoniem ·

Die uitwissing van malaria is ‘n groot prioriteit wêreldwyd dit is hoekom inentings soos die nagevors word

Andre ·

Die kudde se vriende was te slim om die strooi storie te glo, nou word malaria voorgehou om die kraal vol te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.