Nuwe Twitter-baas Musk pos hoofde  

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Chris Delmas/AFP)

Elon Musk is die nuwe baas van die sosialemediaplatform Twitter en het met die intrapslag talle van die topbestuurders in die pad gesteek.

“The bird is freed,” het Musk na die oorname getwiet, met verwysing na die maatskappy se ikoniese voëllogo.

Musk het nie op hom laat wag nie en het Parag Agrawal, uitvoerende hoof, sowel as die maatskappy se finansiële hoof en veiligheidshoof afgedank, het Washington Post en CNBC berig.

Musk het vroeër die dag getwiet dat hy Twitter koop “omdat dit belangrik is vir die toekoms van die beskawing om ʼn gemeenskaplike digitale stadsplein te hê, waar ʼn wye verskeidenheid oortuigings op ʼn gesonde manier gedebatteer kan word”.

Die sluiting van die ooreenkoms kom ná ʼn lang en uitgerekte heen-en-weer tussen die miljardêr en die sosiale netwerk.

Musk het probeer om terug te tree van die Twitter-ooreenkoms kort nadat sy ongevraagde aanbod van $44-miljard in April aanvaar is, en het in Julie gesê hy kanselleer die kontrak omdat hy deur Twitter mislei is. Twitter het op sy beurt probeer bewys Musk het verskonings bedink om weg te loop bloot omdat hy van plan verander het.

Nadat Musk probeer het om die transaksie te beëindig, het Twitter ʼn regsgeding aanhangig gemaak om Musk by die ooreenkoms te hou.

Met ʼn verhoor op hande het Musk sy oornameplan laat herleef. Musk het intussen die beskrywing op sy Twitter-profiel na “Chief Twit” verander en ʼn video geplaas wat wys hoe hy by die maatskappy se hoofkwartier in Kalifornië instap met ʼn wasbak. “Entering Twitter HQ – let that sink in!” het hy geskryf.

Musk het vroeër vanjaar gese hy sou Twitter se verbod op oudpres. Donald Trump ophef. Volgens Musk het Twitter se besluit om die voormalige Amerikaanse president van die platform af te skop “ʼn groot deel van die land vervreem”.

“Ek sou die permanente verbod omkeer,” het die miljardêr op ʼn Financial Times-konferensie gesê. Trump is van Twitter en ander aanlynplatforms geskop nadat die Amerikaanse kongresgebou op 6 Januarie 2021 aangeval is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Martin ·

Die beste nuus van die week. Nou kan alle mense se sienings weer gehoor word, nie net die verkrampte “Liberals” nie.

Jacob ·

Ek is seker dat die hele “woke” klomp en die “Demokrate” vanoggend skoon onderklere nodig het.

Conrad ·

Nou dis nuus. Bly vir hom, mag hy suksesvol sy doel met Twitter bereik – vryheid van spraak.

Morné ·

Elon Musk is iemand wat doen en nie net dreig nie. Het sy kaliber hier in Suid Afrika nodig

Goldy ·

Briljant, een van die enigste sterk wereldleiers en hoop vir goeie leierskap in ons generasie.

Johan ·

Om iemand hof toe te sleep sodat dié jou baas kan word en jou afdank is dalk nie n goeie idee nie.

Vrijburger ·

Musk is ‘n meester trol wat my baie binne pret verskaf. Hy het gereeld die (s)linkes skuim-om-die-mond histeries. LOL.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.