Oekraïense dorpe het net vir drie dae kos

Rusland het Oekraïne ingeval (Foto: Aris Messinis, AFP)

Sommige dorpe in Oekraïne het nie meer as drie of vier dae se kos oor nie, het die hulpagentskap Mercy Corps Dinsdag gesê. Dié groep het gewaarsku dat die humanitêre stelsel in die land “heeltemal afgetakel is”.

Steve Gordon, Mercy Corps se Oekraïense raadgewer vir humanitêre reaksie, skat dat minstens 70% van die bevolking van Kharkiv en Sumy geheel en al afhanklik van hulp is.

“Dit is gebiede soos Sumy, met 800 000 mense, wat tans byna heeltemal afhanklik is van hulp en waarheen kos op ʼn daaglikse basis gestuur word. Stede benodig ten minste ʼn maand se kos wat in verskillende pakhuise gestoor word ingeval dit onder skoot sou kom,” het Gordon gesê.

“Die werklikheid is dat die humanitêre stelsel tans heeltemal afgetakel is. Ons sien nie ʼn hoë funksionele, gekoördineerde internasionale hulppoging wat die hele Oekraïne dek soos wat ons dikwels in ander konfliksones sien nie.

Terwyl die Verenigde Nasies (VN) hulp in sommige gebiede bied, is daar talle mense wat slegs oorleef deur die ondersteuning van klein Oekraïense burgerlike organisasies soos kerkgroepe, wat noodsaaklike aflewerings van kos en mediese voorrade koördineer. “Hierdie wonderlike vrywilliger netwerke werk so hard as wat hulle kan, maar hulle word tot die uiterste beproef.”

Vlugtelinge

Volgens die VN het byna 3,6 miljoen vlugtelinge sedert die Russiese inval in Oekraïne ʼn maand gelede al die land verlaat. Meer as twee miljoen van dié vlugtelinge het na Pole uitgewyk.

Altesaam tien miljoen mense het glo uit hul huise gevlug, wat meer as ʼn kwart van die bevolking verteenwoordig in streke onder regeringsbeheer.

Ongevalle

Volgens die kantoor vir die VN se hoë kommissaris vir menseregte is bevestig dat minstens 925 burgerlikes in Oekraïne dood is, onder wie 75 kinders.

Moskou swyg oor sy dodetal, terwyl Oekraïne sê sowat 15 000 Russiese soldate het reeds gesneuwel.

Kiëf het ook nie ʼn opdatering gegee oor die aantal Oekraïense soldate wat dood is sedert pres. Wolodimir Zelenski ʼn week gelede aangekondig het dat daar ongeveer 1 300 dood is nie.

Tronkstraf vir vals nuus

Russiese wetgewers het Dinsdag wetgewing goedgekeur wat lui dat oortreders tronkstraf van tot 15 jaar opgelê kan word vir die publisering van vals inligting oor Rusland en die “konfliksituasie” wat tans in Oekraïne heers.

Die wetsontwerp sal die goedkeuring van die federasieraad van die hoërhuis en die handtekening van pres. Wladimir Poetin benodig voordat dit wet word.

Dié wetsontwerp is ʼn uitbreiding op ʼn wet wat vroeër in Maart goedgekeur is en wat bepaal dat oortreders 15 jaar tronkstraf opgelê kan word vir die publisering van vals inligting oor die Russiese weermag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Kokerboom ·

Die wereld moet Rusland totaal aanspreeklik hou vir koste van heropbou van Oekraine. Menslike lyding het geen prys. Mag GOD SY hand van redding oor land hou!

Treurwilger ·

NAVO-lande wat die vernietiging met geskenkte wapens aanhelp en uitrek, het ook ‘n rol te speel by die heropbou.

VaalDonkie ·

Jy weet, oorlog is ‘n vieslike ding. Zelenski moet maar sy trots in sy sak druk en Putin se voorwaardes aanvaar. Want dis nie hy wat gaan honger ly nie, dis onskuldige burgers. Oekraine kannie die oorlog wen nie en Rusland wil net voorkom dat hulle by NAVO aansluit.

Anna-marie ·

Die wat swak leiers kies dra gewoonlik die gevolge daarvan.

Luister ·

Zelenski dwing niemand om teenstand te bied nie. Dit is die bevolking self wat besluit het hulle wil nie weer onder Russiese onderdrukking leef nie. Rusland is nie daar om hulle te bevry nie, maar te onderdruk. Dit gaan nie oor NAVO nie, want as Rusland wel verower, dan is sy grens langs NAVO lande. Het Poetin daaraan gedink? Nou wil ander lande ook by NAVO aansluit, want hulle is bang vir Rusland.

Kokerboom ·

Kan EU nie dit koordineer en ‘n grootse poging aanwend?

VaalDonkie ·

Dis dan presies waaroor die oorlog gaan: Oekraine wat sy ooreenkoms met Rusland wil verbreek en by NAVO aansluit.

Anna-marie ·

Grootse poging wat sal lei tot ‘n grootse oorlog….WWIII

annie ·

Biden en Navo en die hele gespuis is al vir jare besig met ‘n veldtog teen Rusland via Oekraïene met die oog op gebiedsuitbreiding met aanvalle en invalle in die land en omgewing. Die neo-Nazi’s en Mr Tjoklits is/was voorbokke. Zolly se grootheidswaan word bloot uitgebuit. Die VSA begeer Rusland en haat sy breinkrag. Oekraïene word beheer deur sluwe gierige en verwarde mense. Rusland moet kyk hoe wapens en gif teen hom ophoop en maar wag vir sy ondergang?

Herman ·

Oekraine moet volhou en Russiese soldate uitwis soos hulle reeds gewys het dat hulle kan doen. Konvensioneel kan hulle die stryd nie voer teen die Russe nie. Hulle moet dus inisiatief aan die dag le soos wat die Boere gemaak het tydens die ABO. Die Vrystaat was ook totaal vernietig en die magsvergelyking oorweldigend. Tog was die lewensverlies aan die aggressor se kant beduidend hoer. Merkwaardig dat hulle hulle daardie tyd ook gewend het tot aanvalle op en uitwissing van burgerlikes, vroue en kinders. Ek wonder of die Russe ook nie vir hulle oorlogsmisdade gaan boet nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.