Olimpiese Spele: Dis nie óf nie, maar hóé

Olimpiese ringe in Tokio (Photo by Behrouz MEHRI / AFP)

Vanjaar se Olimpiese Spele in Tokio sál voortgaan, ondanks ʼn veranderende koronavirussituasie, het Yoshiro Mori, die president van die Olimpiese reëlingskomitee, Dinsdag gesê.

Die Japanse regering, organiseerders en Olimpiese amptenare probeer steeds steun vir die Spele opbou ondanks ʼn wêreldwye toename in Covid-19-gevalle minder as ses maande voor die openingseremonie.

“Ons sal beslis voortgaan, al verander die koronavirus deurentyd,” het Mori tydens ʼn vergadering van organiseerders en lede van Japan se regerende party in Tokio gesê.

“Die bespreking moet verder strek as bloot of ons dit gaan aanbied of nie. Dit gaan oor hóé ons dit gaan doen. Kom ons dink aan ʼn nuwe soort Olimpiese Spele.”

Seiko Hashimoto, Japan se minister verantwoordelik vir die Olimpiese Spele, het tydens die vergadering gesê sy is vol vertroue dat die Spele sal voortgaan. “Om ʼn sukses van die Tokio-spele te maak, sal bewys dat die wêreld verenig is.”

Die vergadering kom enkele ure voor die Japanse premier, Yoshihide Suga, na verwagting ʼn maand lange verlenging van Japan se noodtoestand sal afkondig. Daar word verwag dat die noodtoestand tot 7 Maart in Tokio en verskeie ander dele van die land gaan duur.

Hoewel die eerste toetsbyeenkoms vir vanjaar se Olimpiese Spele in Tokio na verwagting uitgestel sal word weens reisbeperkings te midde van die Covid-19-pandemie, sal die landwye Olimpiese fakkel-aflos steeds op 25 Maart begin.

Organiseerders van die Spele sal glo Woensdag verdere besonderhede bekend maak rakende maatreëls om veiligheid gedurende die byeenkoms te verseker.

Die Spele skop in dié stadium soos beplan op 23 Julie af. Daar moet wel nog besluit word hoeveel toeskouers in venues toegelaat gaan word, asook of buitelandse toeskouers toegelaat gaan word of nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Dankie tog die Olimpiese Spele het nie 2020 SA toe gekom nie. Die ANC sukkel al klaar om te “multitask”, nou dink net as dit die virus was, die Olimpiese Spele en al die ander kommuniste nonsens wat hulle al sedert 26ste Maart 2020 meer besig is. Dinsdag aand met Cyril – die Olimpiese Spele is aan. Woensdag aand met NDZ – die Olympiese Spele is AF! Donderdag aand met Bheki Cele – neuk hulle ouens!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.