Ondersoek ná Olimpiese fietsryer skielik sterf

Padmore by die 2016 Olimpiese Spele in Brasilië. (Foto: Eric Feferberg/AFP)

ʼn Onafhanklike ondersoek is deur ʼn Nieu-Seelandse beheerliggaam van stapel gestuur oor die welstand van atlete ná die skielike dood van die 24-jarige Olimpiese fietsryer Olivia Podmore vroeër vandeesmaand.

Die polisie is glo op 9 Augustus na Podmore se huis in Cambridge op die Noord-eiland van Nieu-Seeland ontbied nadat sy ʼn boodskap op sosiale media geplaas het, het AP News berig. Haar liggaam is later in die huis aangetref.

Die polisie is steeds besig om die saak te ondersoek en die oorsaak van haar dood sal glo binnekort bekend gemaak word.

Dit wil nou voorkom dat haar dood verband hou met verskeie klagtes van wanbestuur binne die sportorganisasie High Performance Sport New Zealand (HPSNZ).

Cycling New Zealand het in ʼn verklaring gesê dat Podmore ʼn geliefde en gerespekteerde fietsryer was. Die organisasie het gesê talle mense is ontsteld oor die nuus van haar afsterwe en het ʼn beroep op die publiek en atlete gedoen om hulp te soek vir hul geestesgesondheid indien hulle dit nodig het.

Dié organisasie het intussen gesê hy sal ondersoek instel oor veranderinge wat glo by HPSNZ aangebring is ná verskeie bewerings van boeliery in 2018 aan die lig gekom het.

Volgens Cycling News is ʼn onafhanklike ondersoek destyds van stapel gestuur om bewerings oor voorvalle binne die HPSNZ te ondersoek. Daar is bevind dat gevalle van afknouery, ʼn onvanpaste persoonlike verhouding sowel as ʼn disfunksionele kultuur in dié organisasie heers. Die HPSNZ het glo versuim om teen dié bewerings op te tree.

“Die dood van Olivia het ons aandag weereens op die ingewikkelde kwessie om atlete se welstand gevestig. Ons prioriteit is om te verseker dat ons verstaan wat destyds gebeur het en wat nog gedoen kan word om dit in die vervolg te voorkom,” het Raelene Castle, uitvoerende hoof van HPSNZ, gesê.

Podmore, wat in Christchurch gebore is, het tydens die 2015 Junior Wêreldkampioenskap ʼn silwer medalje in naellope verower en brons in die tydtoets. Sy het onder meer Nieu-Seeland by die 2016 Olimpiese Spele verteenwoordig en by die Statebondspele in 2018. Sy het vir die Olimpiese Spele in Tokio gekwalifiseer, maar is nie gekies om by dié spele mee te ding nie.

Sedert Podmore se dood het voormalige atlete hul kommer uitgespreek oor die manier waarop HPSNZ bestuur word.

Racquel Sheath, ʼn afgetrede Olimpiese fietsryer vir Nieu-Seeland, het aan 1 News gesê sy wil nie nog ʼn herhaling van Podmore se afsterwe hê nie.

“Ek wil nie hê atlete moet deelneem aan ʼn program (HPSNZ) wat hulle net gebruik en uitspoeg na die tyd nie.”

Volgens Sheath is Podmore geboelie terwyl sy aan HPSNZ behoort het.

“Daar was onregverdige keuring gedoen en sy is nooit met die waardigheid en integriteit wat sy verdien behandel nie. Ons word almal soos goedere behandel en dan word ons vervang,” het Sheath gesê.

Phil Holden, voorsitter van Cycling New Zealand, het gesê die raad het aandagtig na atlete se klagtes geluister en direk met hulle in gesprek getree.

“Cycling New Zealand se raad wil die publiek verseker dat die perspektiewe van die atlete van die begin af in hierdie ondersoek ingebou sal word.”

Verdere besonderhede oor die ondersoek sal na verwagting volgende week bekendgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Vrijburger ·

Was hierdie selfmoord, of selfdood soos dit hedendaags genoem word? Indien wel, waarom loop die media sulke draaie en noem dit nie op die naam nie?

piet ·

Ek lees die polisie ondersoek nog haar dood, dalk het jy ‘n ander berig gelees.

FJ ·

Dit was en dit is welbekend maar ons media noem dit nie direk nie.

Heinrich ·

Moenie vergeet om te kyk of sy ingeënt was nie, al meer sulke stories kom nou uit van perfek gesonde mense wat reaksie toon op die entstof.

Peach ·

Heinrich, propaganda of, in die woorde van Donald J. Trump….. FOP NUUS!

Frank John ·

Ja, die inligting is vaag. Sal moet wag vir opvolg berig wat meer inligting verskaf.

Niklaas ·

Sy het glo aan depressie gely. Het in Rio 2016 deelgeneem, en toe gekwalifiseer vir Tokyo , maar is toe nie in NZ span ingelaat

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.