Oorloë kan skadu werp op WEF-beraad in Davos  

WEF-in-Davos-2018

Die 48ste Wêreld Ekonomiese Forum se vergadering in 2018. (Foto: Elmond Jiyane)

Die voortslepende oorloë in Gaza en Oekraïne sal waarskynlik ʼn skadu werp op die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF)-beraad wat van 15 tot 19 Januarie in Davos, Switserland, aangebied word. Die wêreld se voorste politieke en sakeleiers kom volgende week vir dié beraad byeen.

Rusland se aanvalle op Oekraïne, wat nou al amper twee jaar voortduur, was die middelpunt van die vorige berade, met Kiëf wat amptenare en wetgewers na Davos gestuur het met die doel om steun vir finansiering en meer wapens te werf.

Nasionale veiligheidsadviseurs oor die sogenaamde “Oekraïense vredesformule” vergader Sondag in Davos met dié land se president, Wladimir Zelensky, wat die beraad vir die eerste keer persoonlik bywoon.

Benewens Oekraïne sal die beraad nou ook bekommernisse moet takel dat Israel se oorlog met Hamas dalk in ʼn volskaalse streeksoorlog kan ontaard.

Die oorlog het reeds ʼn beduidende invloed op handel wêreldwyd, met Hoethi-rebelle wat kommersiële vragskepe in die Rooisee aanval ter ondersteuning van Hamas.

Dít het Vrydagoggend tot lugaanvalle deur die VSA en Brittanje gelei.

Ander kwessies op die agenda sluit in klimaatsverandering, die hoë lewenskoste- krisis, sakekwessies en swak ekonomiese toestande. Dít sal alles onder een tema naamlik “Rebuilding Trust” hanteer word.

“Die byeenkoms vind onder die mees gekompliseerde geo-politiese en geo-ekonomiese toestande in dekades plaas,” het die WEF-president, Borge Brende, Vrydag gesê.

Meer as 60 politieke hoës soos Antony Blinken, die VSA se minister van buitelandse sake; pres. Emannuel Macron van Frankryk; Isaac Herzog, die Israelse president, en verskeie ander leiers uit die Midde-Ooste sal die beraad bywoon.

“Ons weet die oorlog in Gaza duur voort en dat daar bekommernisse is dat die oorlog kan uitkring. Die beraad sal vasstel hoe verdere agteruitgang vermy kan word,” het Brende verder gesê.

Oekraïne sal waarskynlik voortgaan met sy versoeke vir volgehoue Westerse hulp, met Zelensky wat self met leiers en sakelui sal vergader.

Wat die beraad verder kan kompliseer is die handel- en diplomatieke spanning tussen die VSA en China, asook groot verkiesings wat vanjaar in verskeie lande plaasvind, insluitend Brittanje, Indië en die VSA.

Die WEF het Woensdag gesê dat verkeerde en onbetroubare inligting wat deur kunsmatige intelligensie gedryf word van die grootste risiko’s in die aanloop tot verkiesings wêreldwyd is.

Die beraad vind oor vyf dae plaas, met sowat 800 uitvoerende hoofde uit die sakesektor en meer as 2 000 ander deelnemers wat dit bywoon.

Sowat 5 000 Switserse soldate is ontplooi wat die deelnemers aan die beraad sal beveilig terwyl vegvliegtuie lugpatrollies sal uitvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Dir WEF sal net voortgaan met hul bose planne wat een vir een misluk.

Andre ·

…die WEF se besluite is lankal geneem. Die vergadering is maar net vir die pelle om party te hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.