Oudrugbykaptein met demensie gediagnoseer

Ryan Jones in 2011. (Foto: Ian MacNicol / AFP)

Die vroeë aanvang van demensie is by die voormalige Wallis-rugbykaptein Ryan Jones (41) gediagnoseer.

Dié agterspeler wat 75 wedstryde vir Wallis en ʼn verdere drie vir die Britse en Ierse Leeus gewen het, het aan The Sunday Times gesê dit voel asof “sy wêreld uitmekaar val” nadat hy in Desember die skoknuus ontvang het dat hy waarskynlik aan chroniese traumatiese enkefalopatie, ʼn neurodegeneratiewe siekte, ly.

Jones is een van verskeie oudspelers wat met ʼn ernstige breinbesering gediagnoseer is.

“Ek is regtig bang want ek het drie van my eie kinders en drie stiefkinders en ek wil ’n fantastiese pa wees.

“Ek het 15 jaar van my lewe soos ’n superheld geleef en ek is nie een nie. Ek weet nie wat die toekoms inhou nie… Ek is nie in staat om die goed te doen wat ek voorheen kon doen nie.”

Jones sê hy wil net ʼn “gesonde, gelukkige en normale” lewe lei.

“Ek voel dit is weggeneem en daar is niks wat ek daaraan kan doen nie. Ek kan nie harder oefen nie, ek kan nie die skeidsregter speel nie, ek weet nie meer wat die reëls van die spel is nie.”

Hoe rugby die kwessie van kopbeserings en harsingskudding hanteer, het ’n groot gesprekspunt in die spel geword.

’n Aantal oudspelers, onder meer die Engelse Wêreldbeker-wenner Steve Thompson en Jones se voormalige toetsspanmaat Alix Popham, is deel van ’n regsaak teen Wêreldrugby, die Rugbyvoetbalunie en die Walliese Rugbyunie oor ’n beweerde versuim om hulle teen die risiko’s van harsingskudding en sub-harsingskudding te beskerm.

“Rugby stap toe oë in ʼn katastrofiese situasie in,” het Jones gesê.

Wêreldrugby het verlede maand aangekondig dat elite-spelers in sommige gevalle deur ’n verlengde minimum tydperk van 12 dae langs die kantlyn in die gesig gestaar word as gevolg van strenger harsingskuddingprotokolle.

Spelers wat voorheen ’n kopbeseringassessering gedruip het, kon moontlik weer die volgende naweek op die veld verskyn indien hulle die nodige protokolle gevolg en geslaag het.

Maroela Media het vroeër berig dat die vroeë aanvang van demensie en chroniese traumatiese enkefalopatie in 2021 ook by die voormalige All Black‑stut Carl Hayman (42) gediagnoseer is. Hy het ná sy diagnose ook regsaksie teen beheerliggame vir rugby geneem weens kopbeserings wat spelers tydens wedstryde opdoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Astrain ·

Rugby is dalk ‘n sport met volksbesit maar die brein beserings wat hierdie mans opdoen is skrikwekkend. Daar is onlangs ‘n jong man van 30 in my huis oorlede agv epilepsie agv rugby harsingskuddings opgedoen oor jare…wanneer die mans uitbrand, sterf hulle arm en vergete!!!

Cherokee ·

As dit die geval is met rugbyspelers, is dit waarskynlik selfs meer waarskynlik ‘n probleem vir boksers.

Republikein in die Wes Kaap ·

Erasmus se tipe rugby gaan ook ‘n tol eis.

Republikein in die Wes Kaap ·

Sit die bal onder die arm en storm kop eerste in opponent. Lê dan op die grond vir ‘n paar minute. Duik dan saam met twee ander latte die opposisie. Koppe stamp dat die sop spat en ons lê weer vir ‘n paar minute. Dan weer op en begin van vooraf. P-S du Toit, Etzebeth, de Ellende, Pollard en Kolisi se breins lyk seker soos jellie. Maar nou ja, dimensie voor 40 is hulle probleem. Lekker man.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.