Pa dood ná kleuter sneller trek

Argieffoto (Foto: Hansie Linde)

ʼn Tweejarige seuntjie van die Amerikaanse deelstaat Florida se ma gaan nou strafregtelik vervolg word nadat die kind per ongeluk sy pa doodgeskiet het. Die ouerpaar het glo ʼn gelaaide vuurwapen onbewaak gelaat.

Albei ouers was ten tyde van die voorval op parool, ná verskeie misdrywe van kinderverwaarlosing en dwelmgebruik, het die balju gesê.

Polisiebeamptes is op 26 Mei na die gesin se huis naby Orlando ontbied. Marie Ayala was met die beamptes se aankoms inderhaas besig om mond-tot-mondasemhaling op haar man, Reggie Mabry, toe te pas.

Mabry (26) is kort daarna in die hospitaal dood.

Sheriff John Mina van Orange County sê die wetstoepassers het aanvanklik vermoed Mabry het homself om die lewe gebring. Die oudste van die egpaar se drie kinders het egter later aan ondersoekers onthul dat sy tweejarige boetie die sneller getrek het.

Die vuurwapen was in ʼn sak wat Mabry op die grond gelos het. Luidens hofstukke het die kleuter op die vuurwapen in die sak afgekom en sy pa in die rug geskiet terwyl dié ʼn videospeletjie op ʼn rekenaar gespeel het.

Die gesin van vyf, van wie een ʼn vyf maande oue babadogtertjie, was almal in dieselfde vertrek toe die skoot geklap het.

Mina sê die ouerpaar was ten tyde van die voorval albei uit op parool ná verskeie misdrywe van kinderverwaarlosing en dwelmgebruik.

“Vuurwapeneienaars wat nie hul vuurwapens behoorlik beveilig nie, is net een breukdeel van ʼn oomblik daarvan weg dat een van hierdie tragedies in hul huise gebeur,” meen Mina.

“Hierdie jong kinders het nou eintlik albei hul ouers verloor. Hul pa is dood. Hul ma is in die tronk, en ʼn jong kind moet sy lewe lei met die wete dat hy sy pa doodgeskiet het.”

Die jongste voorval in Florida vind plaas te midde van ʼn vuurwarm debat oor wapenregulasies in die VSA ná verskeie dodelike massaskietvoorvalle in onder meer ʼn supermark, hospitaal en laerskool.

Verskeie soortgelyke voorvalle waar kinders per ongeluk die sneller getrek het, het hulle ook reeds in die VSA afgespeel.

ʼn Driejarige kleuter het in Maart vanjaar per ongeluk sy ma doodgeskiet toe hy met ʼn vuurwapen in hul motor in die parkeerterrein van ʼn supermark in Dolton, ʼn voorstad van Chicago, gespeel het.

ʼn Jong ma van Orlando is in Augustus verlede jaar dood toe haar kleuter haar per ongeluk in die kop geskiet het terwyl sy met ʼn Zoom-oproep vir die werk besig was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Marcello ·

Hoe op aarde gee jy kinders terug aan ouers wat alreeds vir verwaarlosing van die kinders opgesluit was?????? Maar in SA as jy net jou hand lig, nie eers slaan nie, word jy toegeluit, vir kindermishandeling….

Waarnemer ·

WOW…kind skiet pa…ma word aangekla!!!Ja,dat sy vir kinder verwaarlosing aangekla kan word maar moord of strafbare manslag..nee…dit maak nie sin nie.

Kensy ·

haar aanklag het te doen met die feit dat die vuurwapen nie na behore beveilig en gestoor is nie, en binne bereik van die kind was. Dus nalatigheid- die artikel lei -ma gaan nou strafregtelik vervolg word nadat die kind per ongeluk sy pa doodgeskiet het. Dit se nie die aanklag is moord of strafbare manslag nie.

Piet ·

Ja, ek weet nou nie. Klink nie die vuurwapen het aan die ma behoort nie.

Mariaan ·

Kinderverwaarlosing!! Dan verdien julle nie jul kinders nie…hoop die kindertjies word eerder by mense geplaas wat mooi na hul sal kyk….dis dalk maar hoe dit moes gebeur om die arme kinders vd swak ouers te red!

Dessie ·

Marcello ek stem met jou en wil ook graag weet hoe werk dit!!! Ja iets maak nie sin nie vir my ook.

Human ·

Uit op parool na verskeie aanklagtes van dwelmgebruik en kinderverwaarlosing en nog steeds in besit van n vuurwapen en dit is die land wat voorgee dat hulle die leier is van die Westerse beskawing. Arogansie en eiewaan is die VSA se pad na ondergang, netn kwessie van tyd, tensy daar `n wonderwerk gebeur wat hoogs onwaarskynlik is.

Kensy ·

Die artikel se nie hy was wetig in besit van die vuurwapen nie.

Human ·

Sheriff Mina praat van vuurwapen eienaars sê niks van ‘n onwettige wapen in die ouers se besit of aanklag van onwettige besit.

VaalDonkie ·

Hoe weet jy? Het jy al probeer ‘n vuurwapen koop in die VSA?

Human ·

Verskeie aanklagtes van dwelmmisbruik, kindermishandeling en uit op parool maak die afleiding of is dit bo jou vuurmaakplek.

minniemuis ·

Genade…..hulle het eers gedink hy het selfmoord gepleeg ☻maar hy is in die rug geskiet

Kensy ·

Ek glo dit was n onwettige vuurwapen. As hy op parool uit is, is hy sekerlik nie bevoeg om n vuurwapen wettigliklik te besit nie

Kalmkop ·

Heel duidelik is die VSA se vuurwapenwette te laks!!! Beide het vorige veroordelings, hulle behoort nie wapens te besit nie!!! Dis net te maklik daar!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.