‘Pa, ons is almal so trots op jou,’ sê William by kroningskonsert

Prins Wiliam, die prins van Wallis, bring hulde aan sy pa tydens die kroningskonsert. (Foto: Stefan Rousseau/POOL/AFP)

Prins William, die prins van Wallis, het te midde van Sondagaand se sterbelaaide kroningskonsert by die Windsor-kasteel ʼn hartroerende huldeblyk aan sy pa, die nuwe koning van die Verenigde Koninkryk (VK), gebring.

“Vir meer as 50 jaar, in elke uithoek van die VK, regoor die Statebond en regoor die wêreld, het hy homself toegewy om ander te dien, beide huidige en toekomstige geslagte,” het die 40-jarige troonopvolger gesê.

“Pa, ons is almal so trots op jou.”

Met die opmerking dat sy oorlede ouma, koningin Elizabeth II, “daarbo is en ons graag dophou”, het William bygevoeg dat sy “’n baie trotse ma” sou wees.

Dié konsert is Sondagaand deur nagenoeg 20 000 mense bygewoon met kunstenaars soos Nicole Scherzinger, Olly Murs, Katy Perry, Lional Richie en die Take That-groep, wat vir vermaak gesorg het.

Hugh Bonniville van Downton Abbey-faam het as gasheer opgetree en video-boodskappe van bekendes soos Tom Cruise, Joan Collins en die geliefde kinderboekkarakter, Winnie the Pooh, is tydens die verrigtinge op groot skerms, wat landwyd deur die VK opgerig is, gespeel.

Catherine, die prinses van Wallis, het die konsert saam met haar en prins William se oudste kinders, prins George en prinses Charlotte, bygewoon. Hul jongste spruit, prins Louis, wat deesdae aan sy skattige gesigsuitdrukkings geken word, het eerder tuis gebly.

Die BBP-box by die konsert. (Foto: Stefan Rousseau/POOL/AFP)

Sarah Ferguson, die hertogin van York, het haar eksman, prins Andrew, na dié geleentheid vergesel, hoewel sy nie vroeër die naweek onder die kroningseremonie se gaste was nie.

“Dit is ’n staatsgeleentheid, en ek dink nie jy kan dit ‘albei kante toe hê’ en verwag om genooi te word nie,” het Sarah verlede week aan Good Morning Britain gesê.

Harry Haastig terug huis toe ná seremonie

Prins Harry het ook nie op hom laat wag om na Kalifornië terug te keer ná Saterdag se swierige seremonie nie.

Maroela Media het vroeër berig dat die hertogin van Sussex, Meghan Markle, te midde van openbare druk onder lede van die koninklike familie saam met prins Archie en prinses Lilibet in Kalifornië agtergebly het. Koninklike kenners het daarop gewys dat dit die klein prins se vierde verjaarsdag op 6 Mei is en dat sy moontlik tuis bly om sy verjaarsdag te vier.

Die koninklike familie in Westminster-abdy. (Foto: Yui Mok/AFP)

Prins Harry het aldus mediaberigte Vrydag stil-stil op ʼn kommersiële vlug na Londen gereis en Saterdag direk van Westminster-abdy na die lughawe teruggekeer.

Prins Harry het ook nie by sy broer, prins William, in die voorste ry van die abdy tydens die kroningsplegtigheid gesit nie, maar eerder in die derde ry by sy niggies, prinsesse Eugene en Beatrice.

Dit blyk dat die twee broers steeds van mekaar vervreemd is en glad nie met mekaar gedurende die seremonie gesels het nie, moontlik weens die publisering van die prins se opspraakwekkende boek, Spare, waarin hy verskeie uitlatings oor sy pa en broer maak.

Bronne: BBC, AFP.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Nici ·

Ek glo nie Sarah die Hertogin van York het haar nooiensvan teruggeneem of haar titel verloor nie.
Joernaliste deesdae het ‘n obsessie om verkeerd te identifiseer.

Minnie ·

As sy Pappa maar net nie sy Mamma soos gemors weggegooi het nie, het Harry darem ouerliefde van een ouer gekry.
Charles het nie n idee wat liefde is nie……nes albei sy ouers.

Nommer 7 ·

Die situasie is nie so eenvoudig nie. Dit gaan als oor die queen mother. Lees maar op.

Pampoen ·

Hulle is so trots op hom omdat hy baie gedoen het. Soos byvoorbeeld ……. nee, ek kan nie nou aan iets dink nie.

Minnie ·

Jy klink na n kenner van die koningshuis. Help ons asb reg en noem so paar goedjies wat Charles gedoen het vir die Britse volk.

George ·

Wel begin ek met die oor 750 charity organisasies, insluitend dies waar Diana gewerk het, sy jare wat hy by die RAF of navy geserve het, sy amptelike toere vir die verhoudings tussen UK en ander lande en commonwealth lande wat ook invoere/uitvoere vanaf Britanje, of soek jy iets meer spesifieks?

Republikein in die Wes Kaap ·

Daai liefdadigheidsorganisasies word deur staatsamptenare geskep en gedryf. Hy is net die gesig. Die oorsese toere word deur amptenare gereël. Hy open verrigtinge, gaan drink dan ‘n koppie tee, en eet ‘n scone en verdwyn. Hy is net die gesig. Sy dae in die vloot was wel ‘n werk. Hy het nie veel daar bereik nie. Sy matrose sê hy was luierig. Charles praat wel met plante. Diane het goeie werk gedoen met landmyne in Angola. Harry se Invictus was ook goeie werk.

George ·

Die vraag was wat hy doen, nie wat hy geskep het nie. In daai geval, soos die redenasie gaan, hulle was ook maar net die gesigte van die organisasie wat werklik die werk doen. Daar is baie meer agter die Koninglikes as wat mense dink, daar is baie leesstof daar buite.

Minnie ·

10 uit 10 vir Harry.
Ek sou ook my gesin beskerm het. Lees sy boek dan sal jul als verstaan. Die koninghuis is NIKS wat in die media gewys word nie. Als n klug !

George ·

Natuurlik is dit nie dieselfde in openbaar nie, jou standaard afrikaner is nie dieselfde in publiek as by die huis nie, nie dieselfde by n braai teenoor by die kerk nie, niks nuuts nie. Sy boek is net hoe hy dit “ervaar” het, sy eie opinie. Nie nou juis die beste bron as dit net eenkantig is nie.

Minnie ·

Jy erken nou 100% wat ek bedoel. Dankie. As mense, van waar ookal, net hulself kan wees en eerlik ten alle tye, sal ons in n wonderlike wêreld kon leef.
Harry se “bron” is sy vermoorde ma, hoe hy nooit toegelaat was om te rou nie, hoe hy geboelie was deur sy eie familie, hoe sy pa dit duidelik gemaak het dat hy nooit goed genoeg sal wees nie, ens ens.
En ter loops, ek is net 50% Afrikaner…..en 50% Brits…..en ten alle tye eerlik en dieselfde, ook by die kerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.