Pakistan beleef ‘monstermoeson van die dekade’

Só het Sukkur, ʼn stad in die suide van die Sindh-provinsie, Sondag gelyk. (Foto: Asif HASSAN / AFP)

’n Humanitêre noodlenigingsoperasie is Maandag in Pakistan van stapel gestuur namate nog reën oor die land uitgesak het.

Pakistan beleef tans “die monstermoeson van die dekade”, aldus Sherry Rehman, minister van klimaatsverandering.

Die Pakistanse regering is weens die onophoudelike reën genoop om ʼn noodtoestand af te kondig en het nou ook ʼn beroep op internasionale hulp gedoen. Die eerste noodhulpvlugte – van Turkye en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) – het Sondag geland.

Altesame 1 061 mense is sedert Junie in Pakistan dood toe die seisoenale reën begin uitsak het. Daar word egter voorspel dat die dodetal moontlik veel hoër kan wees aangesien honderde dorpies in die bergagtige noorde van Pakistan weens vloede gestrand is.

Vanjaar se vloede word tans vergelyk met 2010, die ergste op rekord, toe meer as 2 000 mense omgekom het en byna ʼn vyfde van die land onder water was.

Sowat 33 miljoen mense word vanjaar geraak, met byna ’n miljoen huise wat reeds beskadig of vernietig is.

Só het Sukkur, ʼn stad in die suide van die Sindh-provinsie, Sondag gelyk. (Foto: Asif HASSAN / AFP)

Die jaarlikse reënseisoen is noodsaaklik vir die besproeiing van gewasse en die aanvulling van mere en damme oor die Indiese subkontinent. Dit sorg egter ook jaar ná jaar vir grootskaalse vernietiging, met een uit elke sewe Pakistani’s wat vanjaar deur die moeson geraak word.

Sukkur, ʼn stad in die suide van die Sindh-provinsie, loop veral deur. Miljoene hektaar ryslande het in reeds oorstroom weens weke lange onophoudelike reën. Die Indusrivier dreig om sy walle te oorstroom weens water wat stroomaf van sytakke in die noorde vloei.

“Ons oes het oor 5 000 hektaar gestrek waarop die beste gehalte rys gesaai is en deur jou en ons geëet word,” vertel ’n boer, Khalil Ahmed (70).

Talle geboue, waaronder ʼn hotel met 150 kamers, is ook deur die vloedwater verwoes.

Groot dele van Sindh lyk soos ʼn eindelose waterlandskap met massiewe weermaggeleide noodlenigingsoperasie wat belemmer word.

“Daar is geen landingstroke beskikbaar nie … ons vlieëniers vind dit moeilik om te land,” het een senior offisier aan AFP gesê.

Weermaghelikopters het ook gesukkel om mense na veiligheid te bring in die noorde weens die steil heuwels en valleie wat vliegtoestande bemoeilik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.