Pleidooi ná Texas-skoolskietery: ‘Doen iets!’

Gemeenskapslede van Uvalde in Texas sit blomme neer vir die slagoffers wat tydens die skietery omgekom het (Foto: Michael Santiago, AFP)

Daar was Sondag desperate pleidooie aan pres. Joe Biden dat skietery by skole in die VSA gestuit moet word.

Die Amerikaanse president het Uvalde in Texas die afgelope naweek besoek, nadat 19 leerders en twee volwassenes verlede week tydens ʼn skietery by ʼn laerskool daar doodgeskiet is.

“Doen iets!” het die skare in die straat uitgeroep toe Biden die Sacred Heart Church verlaat het waar hy saam met die slagoffers se familielede hul roudienste bygewoon het.

Biden het die skare tydens ʼn toespraak beloof dat hy alles in sy vermoë sal doen om die VSA ʼn veiliger plek te maak.

Verlede Dinsdag se skietery by die Robb Elementary School word as die dodelikste Amerikaanse skoolskietery in jare bestempel.

Maroela Media het vroeër berig die skieter – geïdentifiseer as die 18-jarige Salvador Ramos – het die oggend met ʼn pistool en nog ʼn vuurwapen in die skool losgebrand. Die polisie het hom later doodgeskiet. Hy het voor die skietery ook sy ouma in die gesig geskiet. Sy het die aanval oorleef.

ʼn Soortgelyke massaskietery het boonop twee weke gelede in Buffalo, New York, plaasgevind.

Ricardo Garcia, wat by ʼn hospitaal in Uvalde werk, sê hy is “geëerd” dat Biden die dorp besoek het, maar vra dat daar ingrypend na vuurwapenbeheer in die VSA gekyk moet word.

Die 47-jarige Garcia was Dinsdag by die hospitaal aan diens toe die slagoffers van die skietery daarheen geneem is.

“Die beeld van ma’s wat in die hospitaalgange skreeu nadat hulle gehoor het hul kinders is dood, spook by my,” het Garcia gesê.

Polisieoptrede bevraagteken

Skrikwekkende verhale van oorlewendes se beproewings het nou boonop aan die lig gekom en die optrede van die polisie word al hoe meer bevraagteken.

Die tienjarige Samuel Salinas het onder meer vertel hoe hy in sy klaskamer gesit het, toe Ramos daar ingebars en aangekondig het dat almal gaan sterf.

Toe “het hy net begin skiet”, het Samuel aan ABC News gesê.

Texas-owerhede het Vrydag erken dat sowat 19 polisiebeamptes byna ʼn uur lank in ʼn skoolgang was voor hulle eindelik die klaskamer binnegedring en Ramos doodgeskiet het.

Ouers het Sondag hul woede oor die polisie se optrede te kenne gegee nadat die departement van justisie ʼn ondersoek oor die gebeure van stapel gestuur het.

Sommige leerders wat die aanval oorleef het, vertel dat hulle die 911-noodnommer geskakel het, terwyl hulle gewag het vir hulp om op te daag.

Ander het voorgegee dat hulle dood is, in ʼn poging om nie Ramos se aandag te trek nie.

Samuel het vertel hy dink Ramos het wel op hom geskiet, maar die koeël het ʼn stoel getref en ʼn vleeswond aan die seun se been veroorsaak.

“Ek het gemaak asof ek dood is sodat hy my nie weer moet skiet nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Andre ·

Hy het reeds iets gedoen. Hy het dit toegelaat om ‘n politieke agenda te dryf.

Dries ·

Dit is n vreeslike tragedie. Die tragedie wat afspeel in Ukraine is net so erg maar daai moordenaar gaan nog steeds voort.

Hoekom ·

‘n Werklike oplossing wat ter tafel gelê is deur die olifante om Amerika en die se skole ‘n veiliger plek te maak, is van die hand gewys deur die demokratiese donkies. Die ene Chuck Schumer het leiding geneem in hierdie besluit. Instede wil die donkies Amerika in twee skeer, deur hierdie gebeurtenis en soort gelyke gevalle te gebruik om ‘n politieke agenda te dryf net om meer stemme te werf vir hul eie party. Sodat hulle in ‘n mags posisie bly en daardeer die donkies se leiers te kan verryk. Hulle voel ‘n veer vir die normale amerikaanse burgers, vir die donkies gaan dit net oor om hul “special interests” en eie sakke te kan beskerm deur “any means necessary”

Waarnemer ·

Ons heg sulke polisie beamptes hier nodig….hulle skiet moordenaars dood.

marius ·

Aan ‘n liberale nasie wat opgebring is met geen waardes kan niks gedoen word nie . Hulle is die vrugte wat nou ryp is om te vernietig . Hulle gaan nie verdwyn of verander nie . Die skade is klaar berokken .

KatjieDeKat ·

Nie almal in Amerika is liberale nie! Daar is miljoene der miljoene konserwatiewe mense met common sense en morele waardes.

VaalDonkie ·

Die polisiebeamptes het hul eie kinders gaan uithaal, en toe loop rondstaan en ander ouers gekeer om dieselfde te doen. Een vrou is geboei toe sy wou haar kind gaan kry. En dan reken hulle jy het nie gewere nodig nie want die polisie sal jou beskerm!

Swerwer ·

Dit is ‘n tragiese gebeurtenis .. Ongelukkig moet die ouers van die kinders iets doen om sulke voorvalle te voorkom deur hulle reg op te voed by die huis van kleins af en as daar gedragsafwykings is moet dit aangespreek en hulp gekry word. Die staat/Regering is verantwoordelik om dissipline en Godsdiens terug te skryf in die skoolsalabusse en dissipline toe te pas, net soos die ouers van vandag veronderstel is om dit van kleins af met hul kinders toe te pas.

gpsa ·

Hoeveel moorde word hier per dag gepleeg? Dink dis naby 60 per dag, met ‘n baie kleiner bevolking as Amerika. Wys mens hoe is ons al ge kondisioneer dat moord hier nie so erg is nie.

domheks ·

Donald Trump het mos klaar voorgestel dat metaal verklikkers by skole opgestel moet word! Wat is dit met julle en wapens?

Pietertjie ·

Interessant hoe “iemand” altyd opgeroep word om “iets” te doen. Hoekom begin die skreeuers nie by hulle eie huise, met ‘n beter opvoeding aan hulle kinders nie? Dis ‘n totale gebrek aan dissipline en respek wat sulke insidente tot gevolg het.

Maritza ·

Tensy Biden ‘n wereld kan verander om mekaar lief te he en respekteer is daar absoluut niks wat hy sal kan doen nie. Die duiwel het sy greep op die mensdom. Slegs ons self kan dit verander

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.