Prins Andrew weer op voorgrond in gedenkdiens

Koningin en Prins Andrew

Koningin Elizabeth II en haar seun, prins Andrew. (Foto: Richard Pohle/POOL/AFP)

Prins Andrew, die hertog van York, se eerste openbare verskyning sedert die afhandeling van ʼn saak van seksuele aanranding wat deur Virginia Giuffre teen hom aanhangig gemaak is, het wéér omstredenheid vir die Britse koningshuis veroorsaak.

Die hertog het Dinsdag sy ma, koningin Elizabeth II, vergesel na die gedenkdiens wat vir sy oorlede pa, prins Philip, die hertog van Edinburg, in Westminster-abdy plaasgevind het.

Prins Philip is verlede jaar kort voor sy 100ste verjaardag dood en weens die Britse regering se inperkingsregulasies was sy begrafnis op 17 April 2021 tot slegs 30 mense beperk. Daarom is daar besluit om vanjaar dié gedenkdiens, wat danksy verslapte regulasies deur nagenoeg 1 800 mense bygewoon is, te hou.

Talle vrae het egter ontstaan rondom die koningin se keuse om vir haar tweede oudste seun, wat weens sy hofstryd van militêre ererolle en koninklike beskermheerskap onthef is, ʼn prominente rol by die gedenkdiens te gee.

Die hertog en hertogin van Cambridge en hul kinders, prins George (8) en prinses Chartlotte (6). (Foto: Daniel Leal/POOL/AFP)

Andrew is min gesien sedert ʼn rampspoedige 2019-onderhoud waarin hy woede uitgelok het deur sy vriendskap met die veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein, ʼn finansierder wat homself in die tronk om die lewe gebring het, te verdedig.

Dinsdag het hy egter sy 95-jarige ma van die Windsor-kasteel na Westminster-abdy vergesel en haar voor die diens na haar sitplek begelei. Hy het ook ʼn sitplek in die voorry gehad langs sy broer, Edward, die graaf van Wessex.

Die BBC se voormalige koninklike korrespondent Peter Hunt sê dit was ʼn “doelbewuste besluit” en ʼn manier om die publiek daaraan te herinner dat Andrew geen aanspreeklikheid in sy hoëprofielsaak erken het nie.

“Sy [die koningin] sê daarmee baie duidelik dat hy steeds ʼn rol by gesinsgeleenthede het,” het hy bygevoeg.

Die koningin vier tans haar 70ste jaar op die Britse-troon, wat ʼn rekord is, en dié gedenkdiens is die eerste hoëprofielgeleentheid wat sy bywoon sedert sy in Oktober verlede jaar ʼn nag in die hospitaal deurgebring het.

Die koningin het vroeër vanjaar ook positief vir Covid-19 getoets en het sedertdien haar pligte waar moontlik digitaal voortgesit. Daar is ook bespiegeling dat sy in privaatheid ʼn rolstoel gebruik en ʼn traphyser by haar huis op die Balmoral-landgoed in Skotland laat installeer het.

Sowat 1 800 gaste kon die verrigtinge bywoon. (Foto: Dominic Lipsinki/POOL/AFP).

Die Buckingham-paleis het eers twee uur voordat die verrigtinge begin het bevestig dat die koningin wel die diens gaan bywoon.

ʼn Noemenswaardige afwesigheid gister was dié van prins Harry, die koningin se kleinseun, wat tans in ʼn regstryd met die Britse regering gewikkel is oor sy veiligheidsreëlings.

Harry, die hertog van Sussex, het ook onlangs kritiek ontlok deur te bevestig dat hy volgende maand sy Invictus Games-geleentheid vir gewonde veterane in Nederland sal bywoon, maar nie sy oupa se gedenkdiens nie.

Harry het hom verlede maand tot die Britse howe gewend nadat die regering geweier het dat hy uit sy eie sak vir polisiebeskerming betaal en aangevoer dié besluit beteken hy kan nie terugkeer na sy tuisland nie. Hy meen sy eie privaatsekuriteit sal nie genoegsame beskerming in Brittanje bied nie.

Bronne: AFP/The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Miskruier ·

All is forgiven and forgotten. Geld wat stom is, maak reg wat krom is.

JohanR ·

My prins nou hoeveel het jy die meisie betaal vir haar stilbly? Beatles….can’t buy me love. Prins….can buy my way out!

philippus ·

Dit was n 2 snydende mes. As jy dit onbevooroordeeld gevolg het. Sou jy gesien het, Amerikaanse en Britse polisie het gevind daar is geen saak om te antwoord nie. Die siviele eis, was oor geld. Ofns Sal nooit waafheid weet nie. Hy het geskik om sy ma se jubilee jaar van verleentheid te red.

kaplyn ·

Nou Johann, moet dan nie die berigte oor die Britse Koningshuis lees nie. Of is jy te nuuskierig?

Annelize ·

Genade tog! Moet die man nou vir die res van sy lewe soos ‘n melaatse behandel word?
Dis nog steeds sy Ma, en nog steeds sy Pa, as dit die Koningin se wens is dat hy haar vergesel, het dit regtig niks met niemand uit te waai nie, dis nog steeds haar kind.
Ja, geld wat stom is het duidelik hier reggemaak wat krom is, maar ek kan nie help om partydae te wonder of dinge nie met opset krommer gemaak is as wat dit in werklikheid was nie, met die oog op klingelende Ponde nie.

Die eintlike probleem by gister se diens was die vieslike vermetelheid van Harry en Meghan om dit nie by te woon nie, wat ‘n klap moes dit nie gewees het in die Koningin se gesig nie. Dis soos een kommentator op TV tereg genoem het, sy verskoning was pateties. Ten minste het Andrew die ruggraat en ordentlikheid gehad om ondanks sy skandale, sy plek vol te staan, dis baie meer as wat mens van Harry kan se.

Christine ·

Annelize, beste kommentaar van die dag. Stem 100% saam met als wat jy sê!

Miena ·

Koninklike of nie… hooggeplaaste of nie… VIP of nie… ons is almal mens op die ou end. Nou wonder ek net hoekom moet hy (Harry) dan aanspraak maak op veiligheid / sekuriteit vir wanneer (indien wel) hy wil Engeland toe gaan – welke vir kuier, plesier of kerk! Wat maak hom nou so spesiaal om in ag geneem te word vir veiligheids magte wat na hom moet omsien vs n ander normale persoon wat ook wil gaan kuier, plesier of kerk in Engeland? Hy het mos nou afstand gedoen van alle titels en beskerming en en en…. Ek vra maar net vir myself

Christine ·

Miena, dis nie vir hom nie, dis vir sy liewe vroutjie! Sý is die een wat van die begin af gekla het oor alles, wat gevoel het die papparatzi gaan haar behandel soos vir Prinses Diana! Sy is pateties en draai vir Harry om haar pinkie. Arme, arme, Little Richie Rich, of Little Harry Rich.

kaplyn ·

Hy het langs sy ma tydens die diens gesit. Kyk op die foto.

Alfred E Neuman ·

Lyk my die ou tannie is nou heeltemaal die kluts kwyt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.