Republikeine se kanse om senaat te wen al skraler

Die Amerikaanse pres. Donald Trump en die man wat hom die stryd aansê, Joe Biden. (Foto’s: ANA)

Vier dae na die middeltermynverkiesing in die VSA raak dit duidelik dat die Republikeine se doelwit om beheer oor die Amerikaanse senaat te kry, waarskynlik nie verwesenlik gaan word nie.

Vir Republikeine is dit duidelik dat kandidate wat hulle veldtog sterk om die voormalige president Donald Trump gebou het, heelwat swakker as verwag gedoen het. Konserwatiewe Republikeine met ’n goeie baanrekord het egter goed presteer.

Terwyl baie Republikeine skynbaar bloot staatgemaak het op die politieke klimaat en Republikeinse kiesers se sterk afkeer van Biden en sy beleid van die afgelope twee jaar, het Demokrate ’n meesterlike poging aangewend om Demokrate deur vroeë stemme en posstemme te laat stem. Dit het in talle deelstate soos Pennsilvanië en Arizona die deurslag gegee.

Teen Vrydagaand is Mark Kelly, die Demokratiese senator van Arizona, as wenner teen sy opponent Blake Masters aangewys. Teen Saterdagoggend het die Republikein Adam Laxalt met net 9 000 stemme in Nevada voorgeloop, terwyl duisende posstemme nog getel moet word. Dié stemme is tot dusver met ’n ratio van twee teen een vir Laxalt se opponent, die Demokraat Catherine Cortez Masto, getel.

Sou die Demokrate in Nevada wen, sal hulle ook beheer oor die senaat behou. Die Demokrate en Republikeine het tot dusver elk 49 setels in die senaat gewen. Die Demokrate hoef net een van die oorblywende setels, Nevada en Georgia, te wen om beheer oor die senaat te behou. Aangesien die Demokrate die Withuis beheer, bring die adjunkpresident, Kamala Harris, die beslissende stem in die senaat uit in gevalle waar die stemming gelyk verdeel word.

In die huis van verteenwoordigers was die Republikeine Saterdagoggend steeds op pad na ’n oorwinning, maar met ’n piepklein meerderheid. In talle setels in deelstate soos Kalifornië, Arizona en Colorado moet die stemme nog klaar getel word en in baie gevalle loop Republikeine met minder as een persentasiepunt voor, terwyl duisende posstemme nog getel moet word. Terwyl die Republikeine vir ’n meerderheid van minstens twintig setels in die huis gehoop het, kan hulle meerderheid uiteindelik so min as vyf setels wees, wat beteken dat groot dissipline van die hele koukus vereis sal word om die Demokrate in belangrike prosesse te stuit.

Die Republikeine se prestasie in die goewerneursverkiesings was ook uiters wisselvallig. Teen Saterdagoggend het dit duidelik geword dat die Republikeine die goewerneurskap van Nevada by die Demokrate afgeneem het. Die sittende goewerneur, Steve Sisolak, het teen die Republikein Joe Lombardo verloor. Lombardo, die polisiehoof van die distrik waarin Las Vegas val, het ’n uitstekende veldtog gevoer en het tot ongelukkige kiesers in Nevada gespreek met ’n boodskap van streng wetstoepassing en noodsaaklike ekonomiese hervormings.

Republikeine sukkel selfs met ‘maklike oorwinnings’

Mense wag om hulle stemme uit te bring in die 2022 middeltermynverkiesing (Foto: Michael M. Santiago/ Getty Images via AFP)

In Arizona is dit steeds onduidelik of die Trump-gesteunde Kari Lake die goewerneurskap kan wen. Die Republikein Doug Ducey moet na twee termyne uittree en Lake het met die ondersteuning van Trump die nominasie vir die Republikeine op 2 Augustus naelskraap in ’n voorverkiesing beklink. Nog 200 000 stemme moet in Arizona getel word. Lake is tans met meer as 30 000 stemme agter haar opponent Katie Hobbs. Hobbs het ’n swak veldtog gevoer, het geweier om in enige debat teen Lake deel te neem en die meeste van haar beleidstandpunte is sodanig links dat dit uit voeling met ’n meerderheid van keisers in Arizona is. Tog slaag Lake nie daarin om ’n maklike oorwinning te behaal nie. Die finale uitslag van die goewerneursverkiesing in Arizona behoort nog oor die naweek bekend te wees.

Die Republikeine het weens swak kandidate en swak veldtogte nie daarin geslaag om in deelstate soos Kansas, Wisconsin, Pennsilvanië, New Hampshire, Oregon of Colorado goewerneurskappe by Demokrate af te neem nie. In die meeste van hierdie deelstate was die Demokrate se kandidate ongewild of het die Republikeine genoeg rede gehad om te wen.

Die Republikeine het twee goewerneurskappe, in Massachusetts en Maryland, verloor. Dit was egter lank voor die verkiesing te wagte en in albei state was die uittredende Republikeinse goewerneurs wel sentrum linkse, gewilde goewerneurs. In Vermont, die mees liberale deelstaat in die VSA, is ’n sentrum linkse Republikeinse goewerneur met ’n groot meerderheid herkies.

Drie uiters konserwatiewe Republikeinse goewerneurs het egter bewys dat hulle met goeie veldtogte groot oorwinnings kon behaal. Ron DeSantis in Florida, Brian Kemp in Georgia en Greg Abbott in Texas is al drie gemaklik herkies. DeSantis, Kemp en Abbott het sonder die steun van Donald Trump uitstekende veldtogte gevoer. Al drie goewerneurs het ook ’n bewese rekord van goeie ekonomiese beleid wat waarskynlik sterk in hulle guns getel het.

Ook in talle deelstate se wetgewers was dit ’n baie slegte week vir die Republikeine. In Wisconsin het die Republikeine nie net die goewerneurskap en twee setels in die huis van verteenwoordigers verloor nie, maar dié deelstaat se wetgewer sal ook vir die eerste keer in meer as vier dekades volledig deur die Demokrate beheer word.

Kritiek teen stadige telproses

(Foto: JOE RAEDLE/ Getty Images via AFP)

Teen Saterdag het baie Republikeine skerp kritiek uitgespreek teen die stadige stemtelproses in deelstate soos Kalifornië, Arizona en Nevada. Dit word veral meegebring deur hierdie deelstate se reëls oor posstemme en die feit dat posstemme nog vir dae na die verkiesing in Nevada ontvang kan word en in Arizona word die handtekeninge op posstemme een vir een met kiesers se handtekeninge op ’n kieserslys vergelyk.

In Georgia het die verkiesingsveldtog vir die finale ronde tussen Raphael Warnock en Herschel Walker reeds begin. Die deelstaat vereis dat ’n kandidaat meer as 50% van die stemme moet kry. Aangesien nie een van dié twee kandidate Dinsdag daarin kon slaag nie, moet hulle op 6 Desember weer teen mekaar meeding, hierdie keer sonder ander kandidate van kleiner partye op die stembrief.

Stryd om presidentskap begin

’n Verwoede stryd om die nominasie vir presidentskandidaat in 2024 se verkiesing het reeds die afgelope dae begin met Trump wat daaglikse aanvalle loods op die gewilde goewerneur van Florida, Ron DeSantis. DeSantis was die ster onder Republikeine in Dinsdag se verkiesing met sy vermoë om ’n breë koalisie van kiesers agter hom te verenig. Terwyl Biden die afgelope week aangedui het dat hy, ten spyte van sy ouderdom (hy word oor ’n paar dae tagtig), in 2024 vir ’n tweede termyn gaan staan, word daar ook allerweë verwag dat Trump binnekort sy kandidatuur gaan aankondig. Intussen neem die stemme in die Republikeinse Party toe wat eis dat Trump vir DeSantis moet terugstaan.

Trump het Vrydag herhaal dat hy die uitslag as ʼn groot oorwinning bestempel. Dit beteken waarskynlik dat ʼn lang en uitmergelende stryd om die beheer oor die party oor die volgende twee jaar voorlê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harley Davidson ·

Die mense wat vir die demokratiese party stem onder Biden se leierskap moet seker net soos Biden wees lagwekkend en ‘n verleentheid vir ‘n eerste wêreld land soos die VSA.

Grassie ·

Ek dink ou Trompie is die rede vir die Republikeine se swakkerige vertoning. Mense voel nie neutraal teenoor hom nie. Sommige mense ondersteun hom met hart en siel en ander haat hom. Dit bring tweespalt onder die konserwatiewes.

Gaitsigubib ·

Trump het eintlik baie van die tweespalt uit die party verwyder, deur van RINO’s soos Liz Cheney ontslae te raak. Die linkse media doen egter hul bes om n ander prentjie te skilder. Mens sien die snert in die berig ook.

Treurwilger ·

“Posstemme” is skynbaar ‘n ‘wenresep’ wat die Demokrate klokslag deurtrek in state waar dinge enige kant toe kan swaai.
Geen onderduimshede vind natuurlik plaas waar die tellery dae lank voortduur nie.
Brasiliaanse verkiesings, met ‘n onmiddellike uitslag, steek die VSA in die skande.

Gaitsigubib ·

Snaaks dat ek wel bewus is van meningsverskille tussen Trump en DeSantes, maar beslis weet ek nie van die “daaglikse aanvalle nie”. Klink vir my na tipiese vals nuus en n poging van die linkse media om verdeeldheid te skep, waar dit nie is nie. Dis ook nogal toevallig dat die bepalende state, Arizona en Nevada, word nie klaar getel nie (onder beheer van die demokrate) terwyl Florida, een van die sate met die hoogste populasie in een dag getel is. Nou begin mens wonder is die demokate net te onbevoeg om n verkiesing te hou of is hulle besig met obskure bedrywighede?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.