Rusland uit VN se toerismeliggaam geskors

Zurab Pololikashvili, sekretaris-generaal van die VN se Wêreldtoerisme‑organisasie. (Foto: Juanjo Martín/POOL/AFP)

Die Verenigde Nasies (VN) se toerismeliggaam het Rusland Woensdag uit die organisasie geskors vanweë sy voortslepende inval in Oekraïne. Rusland het egter kort voor die besluit aangekondig dat hy hom aan die organisasie onttrek.

“Die boodskap is duidelik,” het Zurab Pololikashvili, sekretaris-generaal van die VN se Wêreldtoerisme‑organisasie (UNWTO), in ʼn twiet geskryf.

“Elke handeling het ʼn gevolg. Vrede is ʼn fundamentele mensereg wat aan almal, sonder uitsondering, gewaarborg word.”

Meer as twee derdes van UNWTO se 159 lidlande het die resolusie gesteun om Rusland se lidmaatskap op te skort, het ʼn woordvoerder van die organisasie gesê.

Die mosie is reeds in Maart deur 22 lidlande, waaronder Spanje, Japan, Pole en Frankryk, voorgestel.

Rusland, wat hierdie skorsing verwag het, het egter aan die begin van die byeenkoms aangekondig dat hy hom aan die organisasie onttrek. Die land se verteenwoordiger het ook vertrek voordat tot stemming oorgegaan is.

Spanje se minister van toerisme, Maria Reyes Maroto, wat die algemene vergadering gelei het, het die VN se besluit verwelkom.

“Die Russiese president Wladimir Poetin se millitêre veldtog skend die kernbeginsels van die VN,” het sy gesê.

Rusland se ministerie van buitelandse sake het egter teruggekap ná die skorsing en gesê dit is ʼn “polities gemotiveerde besluit wat ons as onwettig beskou” en dat dit bloot aangedryf is deur “anti-Russiese propaganda” en “afpersing”.

Die UNWTO, wat tegniese ondersteuning aan lande verskaf om toerisme te bevorder, het vroeër gewaarsku dat die konflik in Oekraïne die globale toerismesektor se reeds ongelyke herstel van die impak van die Covid-19-pandemie, verder sal belemmer.

Die ontwrigting van internasionale reisigers vanuit Rusland en Oekraïne kan verliese van tot $14 miljard vir die toerismebedryf vanjaar beteken. Volgens die organisasie sal die impak hiervan die meeste in eiland- en kusbestemmings gevoel word.

Die VN se Algemene Vergadering het vroeër vandeesmaand Rusland uit die wêreldliggaam se Menseregteraad geskors as straf weens sy inval in Oekraïne.

Rusland se inval in dié land, wat op 24 Februarie van stapel gestuur is, het reeds duisende dood of beseer gelaat. Talle dorpe lê steeds in puin en miljoene mense is die afgelope tyd genoop om na naburige lande te vlug.

Nog 50 000 vlug uit Oekraïne

Meer as 52 000 Oekraïense burgers het die afgelope 24 uur uit die land gevlug weens die voortslepende konflik met Rusland. Meer as 5,3 miljoen mense het reeds vir veiligheid na naburige lande gevlug.

Die VN het Woensdag gesê dat altesame 52 452 mense sedert Dinsdag uit die land gevlug het.

Hoewel die aantal vlugtelinge sedert Maart aansienlik verminder het, meen die VN se vlugtelingagentskap dat nog drie miljoen Oekraïense burgers teen die einde van die jaar vlugtelinge in ander lande kan wees.

Die uittog is al beskryf as Europa se vinnigste groeiende vlugtelingkrisis sedert die Tweede Wêreldoorlog.

Benewens die Oekraïense vlugtelinge, het die VN se internasionale organisasie vir migrasie (IOM) gesê dat byna 225 000 bykomende mense wat oorspronklik van Derdewêreldlande is – onder andere studente en trekarbeiders – ook na buurlande moes vlug.

Vroue en kinders is verantwoordelik vir 90% van Oekraïners wat na die buiteland toe vlug, terwyl mans tussen die ouderdomme van 18 en 60 jaar nie kan vlug nie omdat hulle vir militêre diensplig in aanmerking kom.

Volgens die VN se vlugtelingagentskap het ses uit tien elke vlugtelinge na Poland gegaan, gevolg deur Roemenië en selfs Rusland. Meer as 600 000 burgers het reeds na Rusland gevlug.

Ten spyte van die groot skaal waarop Oekraïners uit die land vlug, meen die VN dat 1,2 miljoen mense reeds na Oekraïne begin terugkeer het.

Die agentskap het egter beklemtoon dat “hierdie getal ook oorgrensbewegings weerspieël wat nie noodwendig volhoubare terugkoms aandui nie, aangesien die situasie reg oor Oekraïne uiters wisselvallig en onvoorspelbaar bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

krodedil ·

Rusland moet uit elke internasionale ligame geskop word. Verbied ook deelname van Rusland se sportmanne op alle vlakke. Tyd is nou ryp

Treurwilger ·

Nonsens, laat politiek én oorlog uit sport bly.
Elke mens wat besig is op die sportveld, is een mens minder wat besig is met twak aanjaag op ‘n ander plek.
Dit was destyds verkeerd om Suid-Afrikaanse sportmanne oor Apartheid te straf, en dis steeds verkeerd vandag.
“Two wrongs don’t make a right”..

MT ·

Korrek. Maar hierdie beginsel is slegs van toepassing as die links-liberale elite aan stuur van sake is, en nie andersom nie.

Wat op dees Aarde ·

En tog word Rusland se sportmanne en -vroue geskors vir “doping” omdat hulle nie van die opkikkers kan wegbly nie.

Treurwilger ·

As dié tipe skorsing deur die bank regverdig op alle lande toegepas is, sou minder ge’dope’te VSA atlete in hul vroeë dertigs aan hartaanvalle beswyk het.
Flo Jo maar net een voorbeeld.

Marius ·

Dink in elk geval enige bestemming na aan Rusland of in Europa is moeilikheid soek. Jy weet nooit wat ‘n mal man volgende gaan doen nie.

Treurwilger ·

Die “Verenigde Nasies” het ongelukkig slegs ‘n stem wanneer hulle verdeel en nié verenig nie.
Wat ‘n nuttelose versameling soustreinryers.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

‘n Nuttelose ondoeltreffende oneffektiewe organisasie soos die ANC se Mzansibabwe.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

En die ANC se National Democratic Society, oftewel eMzansibabwe, het seker buite stemming gebly of teen die besluit gestem.

annie ·

Indien enigeen sou glo dat die tv- en filmbedryf nie reklame maak en breinspoeling bewerk nie, is die bydraes van baie Afrikaners klinkklare bewys daarvan. Rusland verteenwoordig die bose… So word geglo. Oooo7 se M6 en die CIA lag lekker… When a plan comes together. Die goeie Engelse en Duitsers gaan julle weer kom red… Moed hou! Trek solank Kaap toe… Dis veiliger daar… Solank…

Deon ·

Ek verstaan nie nou nie, kondig in alle prag en praal aan hoe hulle Rusland skors met die wete dat hulle eintlik ander lande en nie Rusland, daarmee benadeel. As Rusland uit al wat n organisasie is geskors gaan word dan hoef Putin geen verantwoording teenoor enige iemand te doen nie en hy kan begin kern wapens loslaat na willekeur

JM ·

Rusland se siek selfregverdiging maak ‘n mens naar. Putin is wreed, korrup en geestelik siek.

Autobahn ·

Weens Biden se oorlog in die Oekraïne word Rusland geskors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.