Sea World-vlieënier as held onthou

Ash Jenkinson (Foto: Sea World, Facebook)

Ash Jenkinson (40), die vlieënier van die Sea World-helikopter wat Maandag in ʼn noodlottige botsing aan Australië se Goue Kus betrokke was, was ʼn “eersteklas vlieënier” en ʼn “eersteklas man”.

Só het John Orr-Campbell, eienaar van Sea World Helicopters, Donderdag op Sea World se Facebook-blad geskryf.

Jenkinson en drie passasiers is dood toe die Sea World-helikopter teen ʼn ander helikopter vasgevlieg het. Nóg drie passasiers in die Sea World-helikopter, onder wie twee kinders, is in ʼn kritieke toestand.

Die vlieënier en vyf passasiers in die ander helikopter, onder wie vier Suid-Afrikaners, het die voorval oorleef.

“Ek het Ash die afgelope nege jaar persoonlik geken. Hy was ʼn goeie man en uitnemende vlieënier met 6 210 vliegure onder die knie,” het Orr-Campbell geskryf.

“Om ʼn man en vlieënier van Ash se kaliber te verloor, is skokkend in elke opsig. Ek en die personeel van Sea World is tot ons binneste verpletter. My hart breek as ek aan Ash se verloofde, Kosha, en sy eenjarige seun, Kayden, dink.”

Vanessa Tadros en haar seun, Nicholas, met hul Sea World-helikoptervliegkaartjie. Vanessa is in die ongeluk dood en Nicholas is tans kritiek.(Foto: Facebook)

Orr-Campbell het in dieselfde asem ook hulde gebring aan die vlieënier van die ander helikopter wat betrokke was.

“Ek wil die ander vlieënier, Michael James, loof wat die tweede helikopter heldhaftig en veilig na die grond gebring het. Ons wens hom ʼn spoedige herstel toe.”

Orr-Campbell het verder gesê dat Jenkinson sy kommersiële vlieglisensie in 2008 bekom het, en tot 2011 helikopters in Wes-Australië gevlieg het. Hy was in dié tyd ook by verskeie soek-en-reddingsvlugte betrokke. In 2019 is hy as die hoofvlieënier by Sea World Helicopters aangestel. Hy was onder meer verantwoordelik vir al die veiligheidsaspekte van vlugte wat met dié helikopters onderneem is.

“Rus in vrede Ash, jy sal altyd in ons harte wees.”

Daily Mail in die Verenigde Koninkryk berig dat die ongeluk plaasgevind het sowat 20 sekondes nadat die Sea World-helikopter opgestyg het. Die ander helikopter was besig om te land. Die Sea World-helikopter het ná die botsing op die grond neergestort.

Die passasiers wat gesterf het is ʼn pasgetroude egpaar van Brittanje, Ron (65) en Diane (57) Hughes, en ʼn 36-jarige ma van Sydney, Vanessa Tadros. Tadros se seun, Nicholas (10), is een van die kinders wat kritiek beseer is, saam met Winnie de Silva (33) en haar seun, Leon (9).

Jenkinson, die Hughes-egpaar en Tadros is op die toneel dood terwyl Nicholas, Leon en De Silva met kritieke beserings na ʼn hospitaal gehaas is.

Diane en Ron Hughes was pasgetroud. (Foto: Facebook)

De Silva en haar seun, Leon, het albei skedelbreuke opgedoen, maar hulle is tans in ʼn bestendige toestand. Volgens Daily Mail is Nicholas steeds kritiek en aan lewensondersteuningstoerusting gekoppel.

Vier van die oorlewendes in die ander helikopter het beserings opgedoen weens glasskrapnel toe die Sea World-helikopter se rotorlemme deur die kajuit gesny het.

Maroela Media het vroeër berig dat twee Suid-Afrikaanse egpare, Elmarie en Riaan Steenberg, en Marle en Edward Swart, in die helikopter was wat veilig op die grond geland het. Hulle is oorspronklik van Suid-Afrika, maar woon saam met hul gesinne in Auckland in Nieu-Seeland.

Elmarie het Woensdag op Facebook gesê dat sy steeds in ʼn hospitaal aan die Goue Kus is waar sy tans aansterk.

Die egpare staan die Australiese Vervoerveiligheidsburo ook by met hul ondersoek na die oorsaak van die ongeluk. ʼn Video wat in die helikopter geneem is wat veilig geland het, wys die oomblikke voordat die tuig met Sea World se helikopter bots.

ʼn Verslag oor die voorval word binne ses tot agt weke verwag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.