Seoel: Ysigwekkende noodoproepe voor stormloop

Die stegie waar die stormloop hom afgespeel het. (Foto: Koji Ito / Yomiuri / The Yomiuri Shimbun via AFP)

Noodoproepe toon dat die Suid-Koreaanse polisie traag was om te reageer op die naweek se dodelike stormloop in Seoel en premier Han Duck-soo het Woensdag belowe om die owerhede aanspreeklik te hou vir die tragedie wat die lewe van 156 mense geëis het.

Die eerste noodoproep is Saterdag om 18:34 gemaak. In die oproep waarsku ʼn senuweeagtige inbeller die polisie om die skare in ʼn nou stegie van die Itaewon-vermaakdistrik in bedwang te bring.

“Ek voel asof mense doodgedruk gaan word. Ek kon skaars uitkom. Ek dink julle moet die situasie beheer,” was die inbeller se woorde aan die polisie.

ʼn Polisiebeampte sou eers ná 21:00 eindelik hulp ontplooi. Teen daardie tyd het talle liggame reeds in die straat gelê toe die polisie op die toneel aangekom het.

Só lui noodoproepe

“Hier is te veel mense wat gestamp, vertrap, seergemaak word. Dit is chaoties. Julle moet dit beheer,” het die betrokke inbeller om 20:09 by die polisie gepleit.

“Hier word mense op die strate vertrap. Dit raak gevaarlik … Daar is geen beheer nie en ʼn drierigtingpad is heeltemal versper. Ek het ʼn video-opname. Kan ek dit vir julle stuur?” lui nóg ʼn noodoproep om 20:33.

“Mense word amper doodgedruk … Daar is te veel mense … Dit is nie ʼn grap nie,” was die noodoproep 20 minute later om 20:53.

Die stegie agter die toneel van die stormloop. (Foto: Chris Jung / NurPhoto / NurPhoto via AFP)

21:02

“Mense word hier hard gestamp en almal is paniekerig … Doen asseblief iets daaraan om plek te maak. Ek dink mense gaan hier sterf.”

21:07

“Ek loop die risiko om met soveel mense hier doodgedruk te word … ek vra asseblief dat julle eenrigtingverkeer hierheen rig.”

21:10

“Die situasie hier is regtig ernstig. Mense binne die stegie word kwaai gedruk. Dit geld nie net vir ʼn winkelgebied nie. Die hele stegie is (in gevaar).”

“Ek het dit. Ons sal polisiemanne daarheen ontplooi,” het ʼn polisiebeampte uiteindelik aan die inbeller gesê.

21:51

“Hier is te veel mense. Kan julle so gou moontlik hier uitkom vir skarebeheer?”

22:11

“Dit lyk of mense doodgedruk word … totale chaos.”

Maroela Media het vroeër berig die meeste slagoffers was tieners of jong volwassenes en is tydens die stormloop doodgetrap.

Die groot groep mense het in die nou stegie saamgedrom om Allerheiligeaand (Halloween) te vier en die voorval word bestempel as die ergste in Suid-Koreaanse geskiedenis. Ooggetuies het beskryf hoe verwarde partytjiegangers gedruk en gestamp het, sonder enige polisie- of skarebeheer in sig.

Die nasionale polisiehoof het vroeër gesê omdat dit nie ʼn amptelike geleentheid met ʼn aangewese organiseerder was nie, het die polisie of plaaslike owerhede dit nie nodig geag om die skare aktief te bestuur nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sandra ·

Hulle het dit nie nodig geag om skare beheer toe te pas nie…en nou is 156 mense se lewens daarmee heen? Ek hoop hulle kom in groot moeilikheid omdat hulle so lank geneem het om iets daaromtrent te doen.

Koos 100 ·

Ek wil net gou die emosie hier uithaal. Geen polisie mag of diens in die hele wêreld het genoeg mannekrag om 20:00 in die aand om te ontplooi om die skare te beheer nie. 10 lede gaan niks hieraan kon doen nie. En daar sit nie 100 of 200 lede iewers en wag dat so iets gebeur nie. Om 100 of 200 lede te ontplooi van hulle huise tot op die toneel binne 3 ure is eintlik nie sleg nie. Rk weet nie wat die volle verhaal hier is nie, maar meer as net die polisie moet hiervoor pa staan!

domheks ·

Dit klink soos ‘n trop diere wat aangejaag word. Almal wil net voor wees – om te wat?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.