Ses waarskynlik dood ná skip Amerikaanse brug verwoes

Die skip het glo krag verloor en in die brug, by een van die VSA se besigste hawens ingeploeg. Ses mense is vermoedelik dood. (Foto: Nasionale Vervoerveiligheidsraad/AFP)

Amerikaanse owerhede het die soektog na ses mense opgeskort nadat ʼn volgepakte vragskip in ʼn Baltimore-burg ingeploeg, dit laat ineenstort en ʼn versperring van een van die VSA se besigste kommersiële hawens veroorsaak het.

“Gegrond op die hoeveelheid tyd wat ons spandeer het, die omvattende soektog wat geloods is en die watertemperatuur … glo ons nie in hierdie stadium dat ons enige van die mense nog lewend gaan vind nie,” het skoutadmiraal Shannon Gilreath, verbonde aan die Amerikaanse kuswag, gesê.

Die ses is almal deel van ʼn aand-konstruksiespan wat slaggate op die Francis Scott Key-brug herstel het toe die ramp kort ná middernag Amerikaanse tyd getref het.

“Ons beweeg nou van ʼn soek-en-reddingsoperasie na ʼn herwinningsoperasie,” het Roland Butler, hoof van die staatspolisie in Maryland, gesê.

Die temperatuur en die gety maak dit moeilik vir duikers om onderwater te werk, maar bote sou steeds regdeur die nag patrollies doen.

Beeldmateriaal wys hoe die vragskip in een van die brug se ondersteunende kolomme inploeg waarna die staalstruktuur, wat in 1977 gebou is, soos ʼn kaartehuis inmekaar tuimel.

Wes Moore, goewerneur van Maryland, het vroeër gesê die owerhede se vinnige optrede nadat die brug ʼn noodsein uitgestuur het, het verhoed dat ander voertuie oor die brug ry.

“Hierdie mense is helde. Hulle het lewens gered,” het Moore gesê.

Die FBI en ander agentskappe het benadruk dat daar geen verband met terreur bekend is nie.

“Die voorlopige ondersoek dui op ʼn ongeluk,” het Moore gesê.

Die goewerneur, ʼn opkomende ster in die Demokratiese Party, het ook gesê daar is geen aanduidings van enige strukturele foute met die brug nie en dat alles aan vereistes voldoen het.

“Die span wat daar gewerk het, was besig om slaggate te herstel – net sodat julle verstaan dat dit niks met ʼn struktuurkwessie te doen het nie,” het Paul Wiedefeld, Maryland se vervoerhoof, gesê.

Pres. Joe Biden het die ineenstorting ʼn “verskriklike ongeluk” genoem en onderneem om die hawe weer oop te stel en die brug te herbou.

Twee van die vermiste werkers is van Guatemala, het die VSA se departement van buitelandse sake gesê.

Probeer anker gooi

Staalbalke lê nog oor die skip nadat die vaartuig in die brug vasgeploeg het. (Foto: Nasionale Vervoerveiligheidsraad/AFP)

In die middel van die Patapsco-rivier het staalbalke uit die water gesteek, met verwronge metaal wat oor die dek van die skip gehang het.

“Die brug is iets waarna ons al ons hele lewe lank kyk. En skielik … is dit net weg,” het Tiffany Wengert, ʼn plaaslike onderwyseres, gesê.

Besonderhede het aan die lig gekom van hoe die bemanning die ramp probeer afweer het nadat die skip krag verloor en in die rigting van die brug begin beweeg het.

“Net voor die voorval het die vaartuig, Dali, tydelik krag verloor. As ʼn gevolg kon dit nie die gewenste rigting hou nie en was daar ʼn botsing,” het die maritieme owerheid van Singapoer, onder wie se vlag die vaartuig vaar, gesê.

Die owerheid het gesê die skip se bestuursmaatskappy, Synergy Marine, het aangemeld dat die bemanning “ankers gegooi” het in ʼn desperate poging om die skip tot stilstand te bring.

Federale ondersoekers verwag dat opnames van die vaartuig ʼn deurslaggewende rol gaan speel om te help bepaal wat presies gebeur het, het Jennifer Homendy, die hoof van die nasionale vervoerveiligheidsraad, wat die ondersoek lei, gesê.

Duikers sal ná sonop weer ʼn omvattende soektog hervat om die vermiste mense op te spoor.

Die Baltimore-hawe is die VSA se negende besigste wat betref buitelandse vrag wat hanteer word, asook in geldterme, en is regstreeks verantwoordelik vir die skep van meer as 15 000 werksgeleenthede en die ondersteuning van byna 140 000 meer.

“Dit gaan ongetwyfeld ʼn groot en uitgerekte uitwerking op verskaffingskettings hê,” het die Amerikaanse minister van vervoer, Pete Buttgieg, gewaarsku.

Dit is ook heeltemal te vroeg om te sê wanneer die hawe moontlik weer sal kan heropen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bolandse Nooi ·

OK, so …. het die vragskip teen een van die steunpilare gebots en het die brug a.g.v. strukturele skade ineengesak? Of was dit doodeenvoudig TE HOOG belaai met vragskeepshouers wat veilige onderdeur-vaart na die hawe ONMOONTLIK sou maak?

OW ·

@ Bolandse Nooi.Enige van jou genoemde scenario’s is moontlik.Dit lyk egter vir my toe die vaartuig krag verloor het,kon hy nie tussen twee steunpilare deurgaan nie,en bots toe met een van die pilare,wat vermoedelik gebreek het,en die deel van brug laat ineenstort het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.