Sesjarige wonderbaarlik gered ná aardbewing

Inwoners probeer hul eiendom red uit beskadigde huise (22 November 2022) (Foto: Aditya Aji/AFP)

Owerhede in Indonesië het Donderdag verskeie groot masjinerie, helikopters en duisende personeellede ontplooi in ʼn desperate poging om nog dosyne mense te vind wat onder puin vasgekeer is ná ʼn aardbewing minstens 272 lewens geëis het.

Die hoop om nog oorlewendes te vind, vervaag.

Sommige oorlewendes is lewend uit gebuigde metaalstrukture en betonblokke getrek in dramatiese reddingspogings in Cianjur in Wes-Jafa, insluitend ʼn sesjarige seuntjie wat twee dae lank onder die puin vasgekeer was sonder kos of water.

Beamptes sê 39 mense word nog vermis en is vermoedelik vasgekeer, insluitend ʼn sewejarige meisie. Reddingspogings word egter bemoeilik deur gietende reën en naskokke.

Die redding van die jong seun Azka het familielede en reddingsbeamptes egter bietjie hoop gegee.

“Toe ons besef Azka leef, het almal begin huil – ek ook,” het die 28-jarige plaaslike vrywilliger Jeksen Kolibu Donderdag aan AFP gesê. “Dit was roerend, dit het soos ʼn wonderwerk gevoel.”

Reddingswerkers het Donderdag in Cugenang, wat die ergste deur die aardbewing getref is, deur beton geboor en dakteëls verwyder by ʼn huis waar ʼn jong meisie vermoedelik begrawe is. Haar beangste ma het staan en toekyk.

Ander reddingswerkers het hamers en hul kaal hande gebruik om die rommel te verwyder in ʼn poging om die sewejarige Cika te vind.

“Sy het buite gespeel. Ek het kos gemaak in die kombuis toe die aardbewing gebeur het. Dit was so vinnig, net twee sekondes, toe sak die huis inmekaar,” het haar ma, Imas Masfahitah (34), aan AFP gesê. “My instink sê vir my sy is hier, want sy het daarvan gehou om hier te speel,” het sy gesê, met verwysing na die huis van die meisie se ouma waar die soektog gefokus is. “Wat ook al gebeur; ek sal probeer om dit te aanvaar.”

Owerhede het later die soektog vir Cika opgeskort en gesê hulle sal Vrydag die soektog hervat.

“Ons hoop nog steeds dat daar oorlewendes is,” het Suharyanto, hoof van die nasionale rampbestuuragentskap BNPB, tydens ʼn perskonferensie gesê. “Die bewyse is Azka wat gister lewend gevind is.”

Die dodetal van Maandag se aardbewing sal na verwagting verder styg met sowat 2 000 mense wat beseer is, waaronder sommige in ʼn kritieke toestand.

Vir ʼn paar vroue was daar vreugde aan die kantlyn van die ramp. Minstens drie babas is in dieselfde ontruimingstent gebore – ʼn dag ná die aardbewing, het goewerneur van Wes-Java, Ridwan Kamil, gesê. Een van die kinders word “Gempita” genoem, die Indonesiese woord vir aardbewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.