SpaceX-ruimtevaart uitgestel weens weer

Weens die onstuimige weerstoestande is die ruimtevlug uitgestel tot Saterdag (Foto: David Phillip, AP)

Die lansering van SpaceX, Elon Musk se ruimtevaartonderneming, se ruimtekapsule Crew Dragon met twee Nasa-ruimtevaarders aan boord na die Internasionale Ruimtestasie (ISS), is Woensdagaand etlike minute voor dié ruimtevlug sou vertrek, uitgestel weens die onstuimige weerstoestande. Die lansering sal nou na verwagting eerskomende Saterdag omstreeks 21:22 plaasvind.

Die BBC berig Nasa het dié ruimtevlug 16 minute voor die ruimtekapsule sou vertrek, gekanselleer weens reën en donderbuie. Dié weerstoestande was egter ’n uur na die bestemde lanseringstyd weer gunstig om wel voort te gaan.

Maroela Media het vroeër berig dit sou die eerste keer in nege jaar wees dat ʼn ruimtetuig met Amerikaners van Amerikaanse grondgebied gelanseer word.

Ruimtevaarders Bob Behnken en Doug Hurley net voor die SpaceX-lansering (Foto: SpaceX via Twitter)

Ruimtevaarders Bob Behnken en Doug Hurley sou vanaf die Kennedy-ruimtesentrum aan boord van SpaceX se ruimtekapsule Crew Dragon, gelanseer deur die nou bekende Falcon 9-vuurpyl, na die Internasionale Ruimtestasie vertrek.

The New York Times berig ligte reën het Woensdag die heeldag by die Kennedy-ruimtesentrum geval en teen die middag begin opklaar.

Luidens ’n berig in The Independent het Jim Bridenstine, Nasa-administrateur, aan NasaTV gesê dat weerkenners bekommerd was dat die lansering weerlig kon veroorsaak.

Hy het bygevoeg dat hulle teleurgesteld was dat die lansering nie kon plaasvind soos beplan nie. “Dit was ’n wonderlike dag vir Nasa en SpaceX. Ons spanne het op ’n indrukwekkende wyse saamgewerk en deurgaans goeie besluite geneem. Saterdag gaan ’n goeie dag wees,” sê Bridenstine.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Queline ·

dit is n voorreg om dit te kon sit en kyk, kan nie wag vir Saterdag nie om te kyk of hul dan kan opgaan.

Aai ·

Queline,ja dit was ‘n vooreg om te sien hoe staan mense op en lewe gaan aan tydens die covid-19 in daai land.Kan ook nie wag vir Saterdag.

Stofdonkie ·

Daar is darem seker nie covid waar hulle oppad heen is nie?

Vriendelike Frikkie ·

Die ISS vat “social distancing” tot ‘n nuwe vlak. Hulle kan nie eers gou ‘n tjoppie of melk gaan koop nie.

Herman ·

Kan julle seblief nie vir DZ saamvat nie. Ons sal saamklap vir n kaartjie. Laai haar sommer daar erens af. Ten minste is daar niemand wat rook daar nie……..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.