Swaarste straf vir Isis-lid na Frankryk-terreur wat 130 eis

‘n Hofskets van Salah Abdeslam (Foto: Benoit PEYRUCQ/AFP)

Die enigste oorlewende lid van ’n Islamitiese Staat-terreursel wat in November 2015 minstens 130 mense in Parys vermoor het, is tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Salah Abdeslam, ’n 32-jarige Fransman van Marokkaanse oorsprong, is vier maande ná die reeks aanvalle deur die polisie in hegtenis geneem.

Sy vonnis, die swaarste moontlik ingevolge wetgewing, kom na die grootste verhoor in die moderne Franse geskiedenis en na ’n ses jaar lange internasionale ondersoek waarvan die bevindings meer as ’n miljoen bladsye beslaan.

Die ander aanvallers het hulself opgeblaas of is tydens of ná die aanvalle deur die polisie doodgeskiet. Die 19 ander beskuldigdes wat saam met Abdeslam tereg gestaan het, is daarvan verdink dat hulle logistieke steun verskaf of ander aanvalle beplan het. Hulle is ook skuldig bevind, met hul vonnisse wat wissel van twee jaar tot lewenslange tronkstraf. Slegs 13 van die 19 ander beskuldigdes was in die hof, met die ander ses wat vermis word en vermoedelik dood is.

Abdeslam het tydens sy eerste hofverskyning homself as ’n “vegter van die Islamitiese Staat” verklaar. Teen die einde van die verhoor het hy die families van sy slagoffers tranerig om verskoning en om toegeeflikheid gevra.

In sy finale verklaring het hy die regters versoek om hom nie ’n lewenslange vonnis op te lê nie en het hy beklemtoon dat hy niemand self vermoor het nie.

“Ek het foute gemaak, dit is waar. Maar ek is nie ’n moordenaar nie, ek is nie ’n moordenaar nie,” het hy gesê.

Sy prokureurs het ook aangevoer teen die lewenslange vonnis, wat aanklaers geëis het.

Dit bied slegs ’n skrale kans op parool na 30 jaar en is slegs vier keer voorheen uitgespreek sedert dit in 1994 geskep is.

Abdeslam het die aand van die aanval sy selfmoordgordel weggegooi en teruggevlug na sy tuisdorp, Brussel. Hy het aan die hof gesê hy het van plan verander en besluit om nie mense dood te maak nie. Daar is egter gehoor dat sy selfmoordbaadjie gebrekkig was.

Die terreuraanvalle het die aand van 13 November 2015 begin toe ʼn nasionale sportstadion geteiken is. Dit is gevolg deur aanvalle by kroeë en kafees en ’n bloedbad by die Bataclan-konsertsaal waar 90 konsertgangers vermoor is.

Die terreuraanvalle het gevolg net 10 maande na ’n afsonderlike aanval op die Franse satiriese tydskrif Charlie Hebdo.

Lewenslange tronkstraf in Frankryk beteken daar kan eers na 30 jaar tronkstraf om parool aansoek gedoen word en die kans om op parool vrygelaat te word, is skraal. Sedert 1994 met die instelling daarvan was dit nog net in vier gevalle toegepas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kosie ·

Wanner word daai selfde lewenslange reel in SA van toepassing, huidiglik moet sekere rasse doodgaan in die tronk en ander loop vry uit na paar jaar.

marius ·

Pateties . In sy eie land was hy in die openvaar onthoof .

Henri ·

Presies. Gebruik sy eie geloof se wette om hom te straf en nie Westerse wette wat ‘menseregte’ eerste stel nie.

Jaco ·

Waarom gaan bly Moslems in nie-Moslem lande? Hulle weet dan hulle gaan ‘n kultuurskok kry: goed wat sonde in Moslemlande is, is normaal in Frankryk, eet van varkvleis, saamwoon sonder om getroud te wees, gay huwelike en en en. As ek ‘n Moslem was, sou ek nooit in sulke “sondige” lande gaan bly het nie. Waarom val dié Moslems wat in nie-Moslem lande woon, ook al die “sondaars” daar aan? Sendingwerk waar mooi gepraat word oor die Moslem geloof gaan sekerlik beter resultate hê. Dan ook, weet Moslems wat in veral Westerse lande gaan bly, dat baie, soms meeste, mense daar min of meer ateïste is wat in GEEN godsdiens belangstel nie? Christelike sendingwerk werk nie eens meer nie, so hoe sal dié ateïste dan nou die Moslem geloof aanvaar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.