Taylor Swift nou musikale miljardêr

Taylor Swift. (Foto: Valerie Macon/AFP)

Die Amerikaanse popster Taylor Swift is Dinsdag deur Forbes-tydskrif as een van die wêreld se rykste mense aangewys en het boonop geskiedenis gemaak as die eerste musikant wat dié mylpaal net op grond van haar musiek, eerder as reklame-ooreenkomste, bereik het.

Dit is die eerste keer dat die 34-jarige sanger dié lys betree, met ʼn fortuin van $1,1 miljard (meer as R20 miljard).

Volgens Forbes is daar vanjaar ʼn rekordgetal van 2 781 miljardêrs in die wêreld, met die “Shake it off”-sanger wat 2 545ste plek op die lys behaal het.

Meer as $500 miljoen van Swift se fortuin is van musiektantième en toere. Haar Eras-toer is reeds die winsgewendste in die geskiedenis en het tot dusver meer as $1 miljard (byna R19 miljard) in kaartjieverkope ingevorder.

Intussen het nog $500 miljoen van haar verdienste uit die toenemende waarde van haar musiekkatalogus gekom.

Swift het ook ʼn beduidende eiendomsportefeulje, met huise in New York, Beverly Hills, Nashville en ʼn kusherehuis in Rhode Island.

Benewens die feit dat haar deuntjies dollars laat inrol, het die megaster die afgelope jaar geskiedenis by die Grammy-toekennings gemaak toe sy die eerste kunstenaar ooit geword het wat vier keer die Grammy-toekenning vir album van die jaar gewen het.

Sy is in Desember 2023 ook as die Amerikaanse tydskrif, Time, se persoon van die jaar aangewys.

Die sogenaamde “Swift-effect” het selfs na sport oorgespoel. Haar bloeiende romanse met die Kansas City Chiefs-voetbalster, Travis Kelce, het die National Football League (NFL) se TV-gehoor laat toeneem, veral onder jong vroue.

Die BBC berig die handelsmerkwaarde van die NFL en die Chiefs het sedert September verlede jaar met $331 miljoen (nagenoeg R6 miljard) verhoog. Verkope van Travis se rooi Chiefs-voetbaltrui het ook met 400% toegeneem sedert Taylor die eerste keer in ʼn rooi pasgemaakte weergawe by ʼn NFL-wedstryd opgedaag het.

Taylor Swift en Travis Kelce deel  ʼn smeulende kus. (Foto: Ezra Shaw/Getty Images via AFP)

Haar nuwe album, The Tortured Poets Department, word vandeesmaand bekendgestel en sal na verwagting ook tot haar massiewe verdienste bydra.

Bernard Arnault, voorsitter en uitvoerende hoof van LVMH (Moët Hennessy Louis Vuitton), het weer vir Amazon-eienaar Jeff Bezos (vanjaar derde op die lys) onttroon as die rykste persoon ter wêreld met ʼn fortuin van $233 miljard, oftewel R4,4 biljoen (trillion).

Elon Musk, die Suid-Afrikaans gebore miljardêr en eienaar van Space X en X (voorheen Twitter) is tweede danksy sy rykdom van $195 miljard (R3,7 biljoen [trillion]).

Hoewel hy laag op die lys is, is Sam Altman, skepper van die KI-kletsbot ChatGPT, ʼn noemenswaardige toevoeging tot Forbes se rykstes. Sy fortuin staan tans op $1 miljard (R19 miljard).

Bronne: Forbes, BBC, Times Magazine, The Guardian.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

koos10 ·

Ek sal nie omgee om ook laag op die lys te wees nie. Heel laagste sal doen vir my!

George ·

@Koos10, ek sal ook nie omgee om die lys net net te mis nie

Grassie ·

Ek dink sy is op hierdie stadium die mooiste vrou op Moeder Aarde.

Peach ·

Lukas Maree was baie meer beskeie met sy versoek….. hy het gesê, hy sou kon doen met net ‘n miljoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.