TikTok beperk skermtyd vir jong gebruikers

TikTok het Woensdag bekendgemaak dat hulle ʼn outomatiese daaglikse skermtydsbeperking van 60 minute gaan instel vir gebruikers wat jonger as 18 is.

Dit volg na aanleiding van die skerp kritiek wat TikTok in die gesig staar oor die verslawende eienskappe van die sosialemediaplatform onder veral jonger gebruikers.

“Die nuwe funksie sal in die komende weke ingestel word op elke rekening wat aan gebruikers jonger as 18 behoort, en dit sal outomaties op ʼn daaglikse beperking van 60 minute gestel word,” het Cormac Keenan, TikTok se hoof van veiligheid, gesê.

Tieners sal ʼn wagwoord moet insleutel as hulle ná ʼn uur nog video’s op die platform wil kyk, en gebruikers wat jonger as 13 is se ouer of voog sal ʼn wagwoord moet insleutel om ʼn bykomende 30 minute van tyd vir hul kind te kry.

As die kind deur ʼn gesinsrekening (family pairing) toegang tot TikTok verkry, sal ouers ʼn maksimum skermtyd vir hul kind kan opstel, na gelang van die dag, het die platform bygevoeg.

Douyin, die Chinese weergawe van TikTok, is beperk tot 40 minute se daaglikse gebruik vir kinders jonger as 14, en is heeltemal ontoeganklik vir hulle tussen 22:00 en 06:00.

Die nuwe funksie is by bestaande maatreëls gevoeg om jongmense te help om hulle skermtyd te beperk. TikTok het verlede jaar kennisgewings ingestel wat tieners vra of hulle hulp benodig om hul skermtyd op die platform te bestuur, en ʼn weeklikse kennisgewing wat gebruikers se skermtyd opsom. Tog kan jonger gebruikers steeds kies om nie die tydsbeperkingsfunksie in te stel nie, of net oor hul ouderdom te jok, soos op talle ander sosialemediaplatforms.

Die Chinese sosialemediaplatform het kritiek gekry oor die stygende hoeveelheid tyd wat kinders tussen 4-18 jaar spandeer om deur video’s te blaai wat die platform op grond van hul smaak en algoritmes aan hulle voorstel.

Volgens ’n onlangse studie deur die ouerbeheer-app, Qustodio, het minderjariges in 2022 gemiddeld 1 uur en 47 minute per dag op TikTok spandeer.

Hulp om digitale welstand by gesinne te bevorder

TikTok glo die nuwe funksies sal ʼn bydrae lewer tot die veiligheidverstellings wat dit reeds vir tienerrekeninge het. Tieners tussen die ouderdom van 13 en 15 se rekening word by verstek op privaat gestel, en direkte boodskapfunksies op dié platform is slegs beskikbaar vir diegene wat 16 jaar of ouer is. Om regstreekse uitsending te doen moet ʼn gebruiker ten minste 18 jaar oud wees.

“Ons wil hê dat ons gemeenskap in beheer van hul TikTok-ervarings moet voel,” het Keenan gesê. “Boonop rol ons ’n kennisgewing vir slapenstyd uit om mense te help om te beplan as hulle snags van lyn af wil wees. Mense kan ’n tyd instel, en as dit bereik word, sal die kennisgewing hulle daaraan herinner dat dit tyd is om af te meld.

Keenan het gesê TikTok sal voortgaan om in soortgelyke funksies op die platform te belê om gebruikers te help om in beheer te bly terwyl hulle hul kreatiwiteit op TikTok uitleef.

Volgens AFP wil die kommer oor databeskerming op TikTok, wat deur die Chinese maatskappy ByteDance besit word, wil maar ook net nie in die Weste wyk nie, met talle instellings van die Europese Unie wat onlangs hul personeel beveel het om die toepassing van hul toestelle te verwyder.

Die Withuis het federale agentskappe in die VSA 30 dae gegee om TikTok van staatsuitgereikte toestelle te verwyder, en Kanada het ‘n soortgelyke maatreël ingestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elizabeth ·

Dit is n goeie ding, want die kinders is amper 24/7 op Tiktok na skool en oor naweke dat mens niks met hulle kan uitrig noe.

‘n Ander ding wat nou kop uitsteek op Tiktok is die videos wat neig na pornografie toe. Ek het ons rekening toegemaak. Was so siek om elke 2de 3de keer ‘n video te sien waar n vrou haarself adverteer

Reinald ·

Ek vermoed kinders gaan net ‘n paar jaar by hul ouderdom belieg en siedaar, die tydsbeperking geld nie meer nie!

Pampoen ·

Dis nie net tik-tok nie en ook nie net kinders nie. Dis ‘n monster wat in ons hedendaagse lewe kop uitsteek en wat mens moet beheer of (beste) uit jou lewe uitkry.

Francois ·

Baie ouers is so tegnologies gestremd dat hulle kinders in beheer is. Ouers is dus nie in staat om enige beskermings meganismes te implementeer nie. En die ouers se verskoning is net hulle is BC (before computers), maar is nie bereid om bietjie “effort” in te sit om te leer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.