Toeskouer laat helfte van Tour de France val

Fietsryers tydens die 15de been van die Tour de France. (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP)

ʼn Toeskouer wat in die pad van ʼn fietsryer in die Tour de France gekom het, het ʼn botsing met ʼn domino-effek veroorsaak.

Sowat die helfte van al die fietsryers wat nog aan die Tour de France deelneem, was by die botsing betrokke.

Die Tour de France het Sondag skaars die 15de been van dié wêreldbekende wedren afgeskop toe ʼn toeskouer glo sy arm uitgesteek het net toe die peloton verbygekom het, berig Cycling News.

Die groep fietsryers, gelei deur Sepp Kuss van die span Jumbo-Visma, het net mooi deur ʼn vernouing in die pad gery toe Kuss teen die toeskouer gebots en talle ander botsings veroorsaak het.

Hoewel die botsing talle van die fietsryers se wedren vertraag het, was almal kort daarna weer op die been en gereed om met die Tour de France voort te gaan.

Gelukkig vir die voorlopers, Jonas Vingegaard en Tadej Pogacar, het hulle net-net hierdie botsing gemis.

Die Suid-Afrikaner Louis Meintjies moes Saterdag weens ʼn gebreekte sleutelbeen van die Tour de France onttrek. ʼn Hele klomp fietsryers het kort na die begin van die 14de skof geval en is die skof vir bykans 30 minute gestaak. Meintjies, wat die 14de skof in die algehele 13de plek begin het, moes Sondag ʼn operasie ondergaan.

Verskeie spanne in die Tour de France het reeds op sosiale media ʼn beroep op toeskouers gedoen om waaksaam te wees en nie in die fietsryers se pad te kom nie.

ʼn Vrou wat in 2021 ʼn groot opeenhoping van fietsryers veroorsaak het toe sy met ʼn plakkaat in die pad gestaan het, is destyds in hegtenis geneem en eindelik met €1 200 beboet.

Dit nadat aanklaers aanvanklik vir vier maande opgeskorte tronkstraf gevra het op die aanklag dat die vrou lewens in gevaar gestel en onbedoelde beserings veroorsaak het.

Die Tour de France se amptelike Twitter-rekening het ʼn video gedeel van hoe nog ʼn fietsryer amper vroeër vandeesweek weens ʼn toeskouer se arm geval het.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.