Trump gedagvaar om oor aanval op Kongresgebou te getuig

Oudpres. Donald Trump. Foto: (AP Photo/Carolyn Kaster)

Amerikaanse wetgewers wat verlede jaar se aanval op die Kongresgebou in Washington ondersoek, het nou voormalige pres. Donald Trump gedagvaar om te getuig oor sy beweerde betrokkenheid by die geweld.

Die dagvaarding volg nadat ʼn paneel van sewe Demokrate en twee Republikeine verlede week eenparig gestem het om Trump te laat getuig.

Die 76-jarige Republikein moet nou dokumente teen 4 November aan die paneel verskaf voordat hy omstreeks 14 November vir ʼn beëdigde verklaring moet verskyn.

Die paneel het in ʼn onlangse brief aan Trump gesê hulle het “oorweldigende bewyse” versamel van onder andere voormalige aanstellings en personeel van Trump wat daarop dui dat hy “persoonlik ʼn veeldelige poging georkestreer het om die 2020- presidensiële verkiesing omver te werp en die vreedsame oorgang van mag te belemmer”.

“Kortweg, jy was in die kern van die eerste en enigste poging van enige Amerikaanse president om ʼn verkiesing omver te werp en die vreedsame magsoorgang te belemmer, wat uiteindelik uitgeloop het op ʼn bloedige aanval op ons Kongresgebou en op die Kongres self,” lui die brief aan Trump.

Die oudpresident se prokureur het nie bevestig dat sy kliënt die brief ontvang het nie, maar wel gesê sy span sal die dokument “hersien en ontleed” voordat hulle toepaslik sal reageer.

Pres. Joe Biden het Vrydag in reaksie op dié nuus gesê dit “sou sin maak” vir Trump om aan die dagvaarding te voldoen.

Meer as 900 mense word tans strafregtelik vervolg oor die gebeure op 6 Januarie 2021 wat tot die dood van vyf mense, onder wie vier betogers en die polisiebeampte Brian Sicknick, gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.