Twee aangekla ná dood van 53 migrante

Homero Zamorano (Foto: Twitter)

Twee mans is Woensdag aangekla in verband met die dood van 53 migrante in die sleepwa van ’n vragmotor verlede maand.

CBS News berig dat Homero Zamorano (46) en Christian Martinez (28), albei van Pasadena in die Amerikaanse deelstaat Texas, nou daarvan aangekla word dat hulle immigrante onwettig vervoer en saamgesweer het om immigrante onwettig te vervoer wat tot dood en ernstige beserings gelei het.

Albei mans sal sonder borgtog in aanhouding bly totdat hul verhoor begin. Die datum vir ’n verhoor is nog nie vasgestel nie.

Indien hulle skuldig bevind word op die aanklagte, kan hulle lewenslank tronk toe gaan of selfs die doodstraf kry.

Maroela Media het vroeër berig dat die vragmotor verlate langs die pad aan die buitewyke van San Antonio, Texas, aangetref is.

Benewens die 53 sterftes word 11 mense tans in die hospitaal behandel. Temperature in San Antonio het op die betrokke dag tot 39 °C gestyg en in die sleepwa was daar geen teken van ʼn werkende lugversorger nie. Paramedici het gesê dat talle van die slagoffers aan hitte-uitputting gely het en gedehidreer was.

Dit word beskou as “die dodelikste voorval van mensehandel” op die Amerikaans-Mexikaanse grens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.